Share

Haal reg asem

Gee jou gespanne liggaam 'n blaaskans deur bloot reg asem te haal.
Deur SUSAN ERASMUS vir Huisgenoot-POLS

Partykeer kan die kleinste dingetjies die grootste voordele inhou. Een hiervan is om diep asem te haal.

Dis 'n eenvoudige formule om jou gesondheid te verbeter: haal korrek en bewustelik asem vir 'n paar minute en jy sal die uitwerking 'n volle 24 uur lank voel.

"Korrekte asemhaling speel 'n belangrike rol in jou gesondheid," sê die kliniese sielkundige Neil Tuck van Kaapstad. Hy werk spesifiek met stres- en angsbeheer. Hy kyk veral na die rol wat asemhaling speel om stres te help verlaag, die immuunstelsel te stimuleer, gewig te beheer, bloeddruk te verlaag en stresverwante afwykings te beheer.

Is dit nie dus tyd dat jy asem skep en jou liggaam vol gesondheid blaas nie?

Stap 1: Neem 'n blaaskans
"Dis nie iets wat jy een keer per week of per dag doen nie," sê Neil. "Maak behoorlike asemhaling eerder deel van jou daaglikse roetine deur outomaties daarop te let op sekere tye van die dag."

Sit sekere tye opsy om te fokus op jou asemhaling – dalk wanneer jy by 'n verkeerslig wag, nadat jy wakker geword het of tydens teetyd by die werk.

Omdat dié "blaaskans" jou op jouself laat konsentreer en jou bewus maak van waar en hoe jy voel, stel Neil voor dat jy ook hierdie tyd gebruik om jou die volgende af te vra: Wat voel ek fisiek? Watter emosies ervaar ek? Waaraan dink ek?

Stap 2: Haal so asem
Nadat jy jou op jouself ingestel het, beproef dié asemhalingstegnieke voorgestel deur Claire Louw, 'n Kaapse fisioterapeut:

  1. Lê of sit regop. (Dis nie so doeltreffend as jy staan nie.)

  2. Verbeel jou dat jy langer word of dat jy aan jou ore boontoe getrek word. Dit sal sorg dat jy jou skouers laat sak en jou rug reguit maak.

  3. Plaas jou hande, met jou vingerpunte wat raak, net onder jou ribbes.

  4. Haal diep asem deur jou neus sonder om jou skouers te beweeg. (Vlak borsasemhaling lei tot opgetrekte skouers.) Die doel is om jou ribbekas te vergroot en jou diafragma te laat sak – as jy diep genoeg asemhaal, sal jou vingerpunte uitmekaar beweeg.

  5. Asem uit deur jou mond. Om jou lippe te plooi terwyl jy stadig uitasem, help veral vir mense wat aan asma ly, want dit hou die lugweë effens langer oop en verminder die risiko dat die alveoli in jou longe ineensak.

  6. Hou vyf minute lank aan om stadig in en uit te asem – vermy vlak en vinnige asemhaling.

  7. Neem 'n paar ekstra teue aan die einde en blaas jou asem stadig uit. Behoorlike diep asemhaling sal die meeste mense help ontspan.

Voordele van diep asemhaling
Dis 'n opkikker. Diep asemhaling sal spierspanning help verlig, asook spanning en algemene stres. Om die waarheid te sê, 'n beter suurstoftoevloei kan jou laat ontspan of jou nuwe woema gee. Dis hoekom ons gaap.

Dis 'n regrukker. Die meeste mense maak hul rug reguit wanneer hulle diep asemhaal.

Dis goed vir jou bors. Korrekte asemhaling kan borspyn en spanning help verlig. Dit kan ook mense help wat aan brongitis en asma ly omdat dit 'n stywe bors teenwerk.

Dis goed vir jou organe. As jy diep asemhaal, bereik meer suurstof jou organe, wat weer help dat hulle doeltreffender funksioneer. Volgens 'n studie het dieper asemhaling ook 'n positiewe effek op limfdreinering.

Dis 'n regmaker. Volgens dr. Ingrid van Heerden, dieetkundige van Health24, kan diep asemhaling help met spysvertering deurdat dit stres kan help verlig.

Dit kan ook onregstreeks help met toestande soos maagsere, maagontsteking, refluks en prikkelbarederm- sindroom – alles toestande wat deur hewige stres vererger word.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Deep breathing beats stress
Darth Vader breathing technique

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE