Share

Glipsies – maar ek was op die Pil!

As ’n mens op die Pil is, beteken dit een ding: jy wil nie nóú ’n baba hê nie. Maar sommige middels kan die Pil minder doeltreffend maak.
Deur ILSE PAUW vir Huisgenoot-POLS

Pil, die kort naam vir die kombinasievoorbehoedpil, is vir baie vroue ’n staatmaker. Die kombinasiepil het ’n Pearl-indeks van minder as een, wat beteken minder as een uit elke honderd vroue wat dit ’n jaar lank reg gebruik, sal swanger word.

Die progesteroon-minipil is sowat 96 persent doeltreffend. Die kombinasiepil se glips-risiko van 1 persent en die minipil se 4 persent kan egter vinnig die hoogte inskiet en selfs ’n gevaar vir jou gesondheid inhou as jy ’n paar dinge nie heeltemal reg doen nie. Sekere soorte medisyne verminder ook die Pil se doeltreffendheid.

Oppas vir dié medisyne
“Baie verskillende soorte medisyne maak die Pil minder doeltreffend,” sê Health24 se kuberapteker, Jaco Lotriet. Een aanduiding dat medisyne besig is om die Pil se werking te ondermyn, is as jy onverwags begin bloei. Hieronder is ’n lysie van middels wat die glips-risiko verhoog. Party word byna daagliks deur talle vroue gebruik, en ander baie spesifiek in spesiale gevalle.

Antibiotika
Nie alle antibiotika verhoog die risiko van swangerskap nie en sommiges het ’n groter effek op die Pil se werking as ander. Die belangrikste is om te onthou dat antibiotika die Pil ondoeltreffend kan maak en dit dus beter is om ander voorsorg te tref. Medisyne om voor op jou pasoppens te wees, sluit in sommige van die penisillien-antibiotikareeks, tetrasikliene, TB-behandelings en vele ander. Vra altyd jou apteker of dokter of jy ekstra voorbehoedmiddels moet gebruik.

“Indien die antwoord ja is, moet jy bykomende voorbehoedmiddels gebruik vir minstens sewe dae nadat die kursus antibiotika voltooi is,” sê Jaco. “As dit enige van die ander medikasies is, word aanbeveel dat jy vir die res van jou menstruele siklus waarin jy dié medikasie gebruik, die bykomende voorbehoedmiddels inspan.”

Antibiotika beïnvloed die dermwerkinge, wat belangrik is vir die doeltreffende opname van die Pil deur die liggaam. Sommige antibiotika kan ook veroorsaak dat jou liggaam die hormone in die Pil te gou verwerk en so die risiko van swangerskap verhoog.

Kruie en teensuurmedisyne
St. Janskruid (St John’s Wort), kruie van die kuisboom se vruggies en teensuurmiddels is van die medisyne wat die Pil minder doeltreffend kan maak. Sommige deskundiges meen teensuurmiddels vorm ’n beskermende lagie op die maagwand wat die absorpsie van die Pil kan ondermyn. Hoewel die kans daarvan skraal is, word aanbeveel dat jy die Pil sluk minstens twee uur nadat jy ’n teensuurmiddel gedrink het.

Akneemiddels en kankerbehandeling
As jy ’n akneemiddel gebruik wat isotretinoïen bevat, soos Roaccutane, moet jy liefs ’n jaar of twee wag voor jy weer swanger raak aangesien dié middel geboorte-afwykings by jou baba kan veroorsaak. Maar dit maak ook die Pil minder doeltreffend.

Gesels beslis met jou dokter oor alternatiewe voorbehoedmetodes as jy dié middel gebruik, want jy moet alles doen om te keer dat jy swanger word, selfs tot twee jaar nadat jy opgehou het om dit te gebruik. Mense wat kankerbehandeling ondergaan, moet ook met hul dokter gesels oor ander voorbehoedmetodes.

Medikasie vir die behandeling van MIV/vigs
As die Pil in kombinasie met sekere medisyne vir die behandeling van MIV/vigs gedrink word, kan albei behandelings beïnvloed word. Bespreek liewer alternatiewe opsies vir voorbehoeding met jou dokter as jy enige antiretrovirale medisyne gebruik.

Medikasie vir die behandeling van epilepsie
Middels teen epilepsie en ander medisyne wat barbiturate bevat, kan die risiko van swangerskap verhoog.

Jy moet ook oppas vir ander medikasies in dié groep, onder meer fenobarbitone en fenotoïen. Vra liefs jou dokter of apteker of ekstra voorbehoeding nodig is indien jy enige van dié medisynes gebruik.

Voorbehoeding is nou baie belangrik omdat die middels risiko’s vir jou baba kan inhou. In so ’n geval kan jou dokter ’n sterker Pil of ander voorbehoedmetode voorskryf.

Wie nie die Pil moet drink nie
Kombinasie-voorbehoedpille bevat baie lae dosisse hormone en het dus ’n baie minder nadelige uitwerking op jou gesondheid. Die klein gesondheidsrisiko neem geleidelik toe namate jy ouer word. Vroue ouer as 45 moet liefs nie voorbehoedpille gebruik nie en ook nie vroue ouer as 35 wat rook nie, want die kombinasie van rook en die Pil verhoog jou kans op hartsiektes.

Nie alle vroue kan estrogeen, wat in die kombinasiepil gevind word, gebruik nie. Dit sluit vroue in met hartsiektes, diepaar-trombose en ’n familiegeskiedenis van borskanker en baarmoeder- of lewerkanker. Vroue met diabetes wat nie goed beheer word nie, of wat oorgewig is of galblaasprobleme het, moet ook liefs nie die Pil sluk nie.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

10 ways to remember to take the Pill

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE