Share

Giftige seediere kan jou (ten)takel

Ons sal beslis almal uit die branders hardloop as ons 'n haai naby ons gewaar, maar daar is bloublasies, jellievisse, seeduiwels, seeslakke, seeslange en ander seediere wat wel sonder vreesaanjaende tande is, maar wat kan brand, steek en suig. Health24.com doen verslag.

Bloublasies, jellievisse en see-anemone kan steek, seekastaiings, seesterre en seekomkommers kan jou laat brand , en seeslange is tot tien keer so giftig as kobras.

Health24.com het by dr. Gerbus Muller, een van Suid-Afrika se voorste toksikoloë en verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch, kers opgesteek oor giftige seediere wat in Suid-Afrikaanse seewaters gevind word.

Bloublasies, jellievisse, see-anemome, vuurkorale en seevarings Dié groep seediere behoort tot die klas Coelenterata . Hul lywe is hol en hulle is toegerus met steekselle (nematosiste), wat in die meeste gevalle op lang tentakels geleë is.

Dit het etlike miljoene steekselle wat gelyk afgevuur word en sodra dit aan iets -- soos 'n mens se lyf -raak, skiet daar toksiene in die slagoffer se lyf in.

As jy per ongeluk aan 'n tentakel raak terwyl jy swem of op die strand stap, kan 'n dun rooi strepie jou arm of been tref en met 'n brandende pyn laat. Die meeste brandsteke sal binne 'n dag of twee heeltemal verdwyn, maar indien dit opgehewe is, kan dit blasies vorm en littekens en velpigmentasie veroorsaak.

Sekondêre bakteriële infeksies is ook moontlik indien blasies vorm.

In enkele rare gevalle kan die die gifstof die hele liggaam aantas en tot 'n gejeuk, kortasemigheid, naarheid, braking, hoofpyn, duiseligheid , onreëlmatige hartklop en spierspasmas lei.

Om te behandel, spoel die wond af met baie seewater -- nie met vars water nie. Moenie die vel vryf nie; dit kan net tot verdere irritasie lei.

Asyn, alkohol en ja, menslike uriene, kan die toksien deaktiveer.

Laat boetie maar op die brandplek piepie. Gebruik 'n skerp mes, lemmetjies of 'n plastiekkaart om die aangetaste area te skraap om die oorblywende steekselle te verwyder.

Om 'n halfuur lank in 'n warm bad te lê, kan help om die brandende gevoel en pyn te verlig. Kortisoonrome wat aan die byt- of steekplek gevryf word, kan help om die swelling en pyn te verlig. Wend jou beslis tot 'n dokter as jy spierspasmas ontwikkel, moeilik asemhaal of 'n sekondêre bakteriële infeksie ontwikkel.

See-anemone, seesterre en seekomkommers
Die bros stekels van see-anemone is nie giftig nie, maar hulle kan maklik deur die vel dring. Dit kan brand soos die hel, pyn en swelling en ook swaar bloeding veroorsaak.

Dompel jou gewonde ledemaat in 'n bak of emmer baie warm water, gebruik 'n verdowingsalf of kalamynsalf om die ontsteekte vel te behandel. Indien die steeksels nie self uitkom nie, moet dit chirurgies verwyder word.

See-borselwurms
Hierdie wurms het klein borsels wat ernstige velirritasies en -ontsteking kan veroorsaak.

As jy gesteek is, verwyder die borsels deur kleefpapier oor die wonde te plak en vinnig af te trek. Dompel die wond in warm water vir verligting van pyn en ander simptome.

Sponse Velontsteking ná aanraking van sponse kan weke lank nog voortduur. Behandel met warm water.

Seeslakke
Seeslakke kan gevaarlike neurotoksien in jou spuit as jy daaraan raak. Hou dus maar jou hande tuis. Die gif kan tot 'n brandgevoel en 'n "dooie" gevoel in die ledemaat lei, en in ernstige gevalle selfs asemhalingsprobleme. Kry so gou moontlik hulp van 'n dokter as jy dié simptome ervaar.

Pylsterte, skerpioenvis, seeduiwels en katvis
Dié visse het almal skerp vinne of stekels waardeur hulle hul gif spuit. Dit gebeur veral as mens op hulle trap omdat hulle op die seebodem voorkom. Die gif kan erge pyn, swelling en ernstige bloeding veroorsaak. Die weefsel om die wond kan selfs afsterf. Hoewel gevalle van naarheid, maagpyn, braking, uitermatige sweet , spierswakheid, epileptiese aanvalle en koma seldsaam is, kan dit wel voorkom. Die aangetaste area moet onmiddellik met baie seewater afgespoel word.

Dompel die wond minstens 30 minute lank in 'n baie warm water om pyn te verlig.

Raadpleeg onmiddellik 'n dokter as jy een van die seldsame simptome ontwikkel. Dit mag dalk nodig wees dat 'n dokter deel van die vin of steeksel, of selfs dooie weefsel, chirurgies moet verwyder.

Seeslange
Seeslange bereik wel ons strande. Hul gif is 2-10 keer so giftig as kobragif. Gelukkig is geen gevalle nog aangemeld nie.

Seeslanggif blokkeer die oordrag van senu-impulse tussen neurone en spiere en lei tot verlamming, asemhalingsprobleme, asook nierskade. Kry dadelik mediese hulp. Hospitalisasie vir minstens 24 uur om asemhaling en nierfunksies te ondersteun, kan moontlik jou lewe red.

Algemene wenke vir voorkoming:
Dra liefs 'n paar plakkies as jy in 'n getypoel of rotsagtige gebied swem, of 'n duikpak as jy swem waar seeslakke, of ander stekelrige seediere skuil. 'n Lagie petroleumjellie op die vel kan ook help.

(cvrooy@health24.co.za en mhudson@health24.co.za)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE