Share

Genadedood-advertensie verban

Australiese voorstanders van die genadedood het Dinsdag onderneem om met hulle televisie- en reklamebord-verldtog deur te druk, ten spyte van die feit dat hulle eerste video-advertensie afgekeur is.

Die 45-sekonde-advertensie beeld 'n siek-lykende man uit, wat op 'n bed sit en gesels oor die keuses wat hy in die lewe gemaak het. Sien die onderstaande YouTube-video van die verbande advertensie:

"Ek het gekies om met Tina te trou en twee wonderlike kinders te hê. Ek het ook gekies om elke keer 'n Ford te koop," sê die akteur. "Ek het egter nie gekies om dodelik siek te word nie. Ek het nie gekies om van die honger om te kom, omdat dit voel asof ek skeermeslemmetjies insluk, elke keer wanneer ek probeer om te eet nie.

"Ek het beslis nie gekies om te sien hoe my familie die proses saam met my deurworstel nie. Ek het my finale keuse gemaak. Ek wil net hê die regering moet na my luister."

Die advertensie is afgekeur deur Free TV Australia, wat alle advertensiemateriaal vir vrylik-beskikbare, ongekodeerde kommersiële stasies reguleer. Hulle meen dit kan moontlik die etiese kode vir televisie verbreek.

In 'n verklaring sê hulle dat volgens die kode, "materiaal wat selfmoord voorstaan of aanmoedig, sonder uitsondering, ongeskik is vir televisie."

Hulle voeg egter by: "Free TV Australia ondersteun geen standpunt oor die etiese en geregtelike debat oor vrywillige genadedood nie en stel nie belang in die onderdrukking van hierdie sensitiewe kwelvraag nie."

Verkorte weergawe voorgelê

Veteraan genadedood-kampvegter, Philip Nitschke, sê dat Exit International, wat die advertensie vervaardig het, sedertdien 'n verkorte weergawe vir goedkeuring ingedien het en sal voortgaan met die meegaande reklamebord-advertensies. Hy het die opinie dat die advertensie selfmoord propageer, verwerp, en dit as 'n politieke standpunt oor die feit dat genadedood in Australië onwettig is, beskryf.

"Dit is nie 'n advertensie wat probeer om mense aan te moedig om die genadedood toe te pas nie," sê Nitschke. "Dit is in werklikheid 'n advertensie wat daarop gemik is om mense aan te moedig om druk op hulle politieke verteenwoordigers te plaas, sodat daar iets oor die onbevredigende bestaande wetgewing gedoen kan word."

Volgens hom het Exit besluit om 'n professionele akteur vir die veldtog te gebruik, nadat 'n vorige advertensie in 1999 'n vrou gebruik het wat in die werklike lewe met blaaskanker gediagnoseer is en agterna nog twee jaar geleef het, nadat haar siekte in remissie ingegaan het.

Australië se Northern Territory het in 1995 die wêreld se eerste vrywillige genadedood-wetgewing voorgestel, maar dit is deur die federale regering afgekeur en bly steeds 'n misdaad in dié land.

Nitschke sê dat die meeste Australiërs die herinstelling van vrywillige genadedood-wette as ’n "veiligheidsnet" heringestel wil hê, alhoewel net 'n baie klein minderheid van die bevolking dit ooit sal gebruik. - (Sapa, September 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE