Om te gaap help die brein om koel te bly, en die sinusse speel 'n rol in dié proses deur soos 'n blaasbalk te werk, volgens 'n nuwe verslag.
Die oorsaak van 'n gaap is nie verveeldheid, moegheid of 'n gebrek aan suurstof nie. Om die waarheid te sê, volgens Gary Hack van die Universiteit van Maryland se Tandheelkundige Fakulteit en Andrew Gallup van Princeton Universiteit, help gaap om die brein se temperatuur te reguleer.
"Die brein is uiters sensitief vir temperatuurveranderinge en moet dus teen oorverhitting beskerm word," sê hulle in 'n nuusvrystelling deur die Universiteit van Maryland. "Breine, soos rekenaars, werk op hul beste wanneer hulle koel gehou word."
Wanneer 'n mens gaap, beweeg die wande van die maksillêre sinusse (in die wange aan weerskante van die neus) in en uit soos 'n blaasbalk en help om die brein koel te hou, meen die navorsers.
Funksie van die sinusse
Hulle meld dat daar nog steeds oor die werklike funksie van sinusse gedebatteer word en dat hierdie teorie mag help om hulle doel duideliker te maak.
"Die doel van sinusse is duister, en daar is min dinge waaroor selfs navorsers saamstem. Party wetenskaplikes glo dat hulle heeltemal geen funksie het nie," sê Hack in die nuusvrystelling.
Die navorsers sê in hul teorie dat om te gaap die brein afkoel en dat dit mediese implikasies het. 'n Oormatige gegaap is byvoorbeeld dikwels 'n voorloper van stuiptrekkings by mense wat aan epilepsie ly, en pyn in die geval van migraine-lyers.
Dokters mag 'n oormatige gegaap as 'n metode gebruik om pasiënte met toestande wat temperatuur-regulasie beïnvloed, te identifiseer.
"'n Groot gegaap is blykbaar simptomaties van toestande wat brein- en of kerntemperatuur verhoog, soos bv. sentrale senustelsel-skade en slaaponthouding," sê Gallup in die nuusvrystelling.
(HealthDay News, November 2011)