Share

Fiks en gesond

Slaap hou verkoue

Genoeg slaap is dalk net die ding om verkoue weg te hou.

Volgens ’n studie wat in die Amerikaanse Archives of Internal Medicine verskyn het, het mense wat minder as sewe uur slaap per nag kry, ’n drie keer groter kans om verkoue op te doen as dié wat agt uur of langer slaap.

Dit lyk dus asof rus net so belangrik is om ’n verkoue te voorkom as om dit te genees.

Eet minder, dink flinker

Nuwe navorsing dui daarop dat ouer mense hul geheue kan verskerp deur ’n kilojoulebeperkende dieet te volg.

In ’n Duitse navorsingsprojek is oorgewig mans en vroue ouer as sestig jaar se kilojouleinname met 30 persent verminder.

Ná drie maande se dieet kon die pensioentrekkers woordlyste beter memoriseer as die kontrolegroep.

Hulle het ook laer insulienvlakke en inflammasiemerkers gehad. Lees ons artikel op bladsy 22 oor die rol wat inflammasie in veroudering speel.

Fiksheid beveg borskanker

Oefening verlaag jou risiko vir borskanker ná menopouse, het die Duitse kankernavorsingsentrum bevind. Volgens die studie verminder post-menopousale vroue wat fisiek aktief is hul kankerrisiko met ’n derde.

Die goeie nuus is dat jy nie hoef te oefen tot die sweet jou aftap nie – die studie beskou tuinmaak, fietsry en ’n stappie winkel toe ook as oefening.

Rokers Anoniem

Rokers is twee keer meer geneig om op te hou rook met die hulp van ’n ondersteuningsgroep as wanneer hulle die stryd alleen aanpak. Navorsing aan die Bathuniversiteit in Engeland het bevind dat ’n derde van die rokers wat by steungroepe aangesluit het, dit reggekry het om ná ’n maand op te hou.

Dit was omtrent dubbel die persentasie rokers wat sonder ondersteuning probeer ophou rook het. As jy dus van die nare gewoonte ontslae wil raak, span jou vriende in om jou te help.

Werk minder, vaar beter

Middeljariges wat ekstra lang ure werk, lewer nie altyd die beste werk nie, volgens ’n onlangse studie onder 2 214 middeljarige Britse staatsdienswerkers.

Volgens die studie het werknemers wat meer as 55 uur per week gewerk het, swakker gevaar in woordeskat- en redeneringstoetse as dié wat net veertig uur per week gewerk het. As jy dus jou beste wil lewer, werk gewone ure!

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE