Share

Eks-Springbok oorwin limfoom

Die meeste mense onthou Chris Rossouw as een van Suid-Afrika se rugbyhelde, 'n lid van die legendariese Springbok Rugbyspan van 1995. Min mense weet egter dat hy limfkanker oorleef het. Hier is sy storie vol moed en deursettingsvermoë.

Chris Rossouw beskryf homself as ’n positiewe persoon wat al baie voorspoed in die lewe gehad het. Die meeste Suid-Afrikaners ken hom as een van die helde van Suid-Afrikaanse rugby, 'n lid van die legendariese Springbok rugbyspan van 1995. Hy is egter die eerste een om te erken dat dit moontlik 'n kombinasie van 'n positiewe uitkyk, geluk, vroeë ontdekking en uitstekende medici was wat hom deur die nagmerrie van 'n diagnose van Stadium 3 Limfoom gehelp het.

Dit is moeilik om te glo dat 'n man met soveel lewenslus in sy stem op 'n stadium dodelik siek was. Vandag is Chris se stem deel van die Lymphoma Awareness Campaign, en versprei hy 'n boodskap van hoop met behulp van sy positiewe energie.

As 'n sportman was Chris altyd die toonbeeld van goeie gesondheid. Hy was superfiks, het nooit gedrink of gerook nie en het nooit gedroom dat hy siek kon word nie. Toe hy intense rugpyn begin ervaar het, het hy eers gedink dit was as gevolg van al die jare van professionele rugby. Sy probleem het begin toe hy en sy familie oorsee was, op soek na 'n beenmurg-oorplanting vir sy jongste seun. Sy prioriteit op daardie stadium was ook sy seun se welsyn, en nie sy eie nie.

Voortslepende pyn

Terug in Suid-Afrika het die voortslepende pyn nie opgehou nie, 'n pyn wat hom heeltemal lamgelê het. Dit het Chris gedwing om 'n uroloog te gaan sien omdat hy gedink het dit was miskien 'n niersteen. Die dokter het egter aangedui dat dit iets meer ernstig was en 'n skandering voorgestel. Die diagnose was oombliklik: Limfoom.

Chris het 'n knop so groot soos 'n mango naby sy maag gehad wat druk op sy niere uitgeoefen het. Die skandering en 'n daaropvolgende operasie het dokters gehelp om vas te stel dat die siekte besig was om te versprei, maar dat dit gelukkig nog geen belangrike organe bereik het nie. Chris onthou daardie tyd duidelik: "Die ergste vrees is die onsekerheid. Jy is nie seker of jy gaan sterf en of jy gaan lewe nie. Jy weet ook nie of jy gelukkig is dat daar 'n diagnose was en jou behandeling kan begin, en of jy nie dalk om dieselfde rede ongelukkig is nie."

Chemoterapie het byna onmiddellik begin en teen die derde behandeling het die gewas alreeds begin krimp. Na ses weke van chemo, bestraling en PET-skanderings wat al die limf-areas van die liggaam behandel, het Chris die wonderlike nuus gehoor dat sy gewas heeltemal weg was. Ten volle bewus dat hy 'n tweede kans gegun is, het Chris se optimisme ongeskonde gebly en het hy tot die gevolgtrekking gekom dat sy lewe 'n dieper betekenis het en dat hy 'n verskil aan ander mense se lewens kan maak.

Vroeë opsporing lei tot suksesvolle behandeling

Hy glo uit die diepte van sy hart dat daar oor kanker gepraat moet word en oor hoe die siekte se impak hanteer moet word. "Limfoom kan suksesvol behandel en oorwin word, en my raad aan enigiemand wat deur hierdie proses gaan, is om gerus te wees dat daar baie inligting oor hierdie soort kanker wat so goed op behandeling reageer, beskikbaar is."

 

Drie geslagte: Chris Rossouw met sy seun, Chris Rossouw jr., en sy pa Chris Rossouw sr.

Chris wil ook mense aanmoedig om liewer hulle gesondheidsprobleme in die gesig te staar deur al die nodige toetse en ondersoeke te laat doen. Die vroeë opsporing van sy limfoom het per slot van rekening tot sy suksesvolle behandeling en herstel gelei.

Hy glo ook dat vertroue in jou mediese span noodsaaklik is en prys die professionaliteit van sy chirurg, en die medici oor die algemeen. "Wanneer iemand deur so 'n krisis gaan, is mense baie behulpsaam en almal staan jou by met raad en daad. Maar moenie vergeet dat jy jou dokter moet vertrou nie. Jy moet weet dat jy in goeie hande is, en jou behandeling enduit voltooi."

Chris beskou uitstekende mediese sorg, die ondersteuning van sy familie en sy godsdiens as die hoekstene van sy herstel. Hy is 'n lewende bewys dat selfs die sterkste liggaam die slagoffer van limfoom kan word, maar dat 'n optimistiese gees sal seëvier en dat vrees, alhoewel dit 'n normale deel van 'n siekte soos kanker is, in moed omskep  kan word.

Geskryf deur Matrix Advertising and Communications

- (Health24, September 2011)

Besoek die "I am the voice of Lymphoma" Facebook-bladsy en help om bewustheid oor limfoom te bevorder.

Lees verder:

'n Volledige gids oor limfoom
‘Ek is 13 en ek het kanker oorwin’
‘Limfoom is nie ’n doodsvonnis nie’
Vroeë diagnose van limfoom deurslaggewend

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE