Share

Eerlikheid en jou mediese geskiedenis

Wanneer jy by ’n nuwe mediese skema wil aansluit, moet jy ’n gedetailleerde mediese geskiedenis invul. Mediese skemas kan vir 12 maande weier om vir behandeling vir ’n spesifieke kondisie te betaal. Die versoeking is dus partykeer groot om nie die volle waarheid te verskaf nie.

Die probleem is as jy uitgevang word dat jy nie eerlik oor jou mediese geskiedenis was nie, jou lidmaatskap opgeskort kan word.

Volle besonderhede oor alle aspekte van jou gesondheid is ’n voorvereiste vir die opbou en voortsetting van ’n goeie verhouding met jou mediese hulp voorsiener, sê die deskundiges.

“Dit is beter om eerlik te wees en miskien vir 12 maande uitgesluit te word van behandeling vir ’n sekere kondisie, as om uitgevang te word dat jy nie die volle waarheid vertel het nie en jou lidmaatskap te verloor,” sê Johan van Tonder, onafhanklike mediese skema-navorser. “Die versoeking is natuurlik groot om die stelsel te probeer uitoorlê, maar dinge loop dikwels skeef. As jou lidmaatskap eers deur een mediese fonds opgeskort is, is dit baie moeilik om deur ’n ander een aanvaar te word.”

Groot, onbetaalde rekeninge

Verbruikers word dikwels met groot mediese rekeninge gekonfronteer wanneer ’n mediese fonds weier om te betaal as gevolg van verswygde gesondheidskwessies - iets wat heeltemal onnodig is as lede net eerlik kan wees oor die vraag: “Is daar enige toestande wat u gesondheid mag beïnvloed?”

“Hierdie vraag is standaard op enige mediese fonds-aansoekvorm, maar verbruikers beskou dit dikwels as retories of onbelangrik,” sê Joslinah Heyman, gesondheidsorg-konsultant vir AON SA, ’n leidende risikobestuur- en versekering-konsultasie-organisasie in Suid-Afrika. “Eerlikheid help jou om toegang te verkry tot mediese hulp befondsing - maar as jy dinge verswyg, kan dit daartoe lei dat betaling geweier word.” 

Johan van Tonder sê: “Jy moet aanvaar dat indien jy byvoorbeeld ’n hartprobleem het, geen mediese skema jou vir 12 maande sal dek nie. As jy egter jou toestand verklaar het, kan hulle ná die verstryking van daardie tydperk nie verder weier om te betaal nie.”

Hoekom hierdie reëls?

“Die reëls oor verklaring is daar om te verhoed dat mense net by ’n mediese skema aansluit wanneer hulle byvoorbeeld ’n hartomlyningsoperasie nodig het, en ’n mens kan verstaan dat die industrie beskerming teen hierdie soort uitbuiting wil inbou,” sê van Tonder.   

Wanneer jy aansoek doen om ’n lid van ’n mediese skema te word, is dit uiters belangrik om die aansoekvorm volledig in te vul. Dit is veral waar wat die afdeling oor jou mediese geskiedenis betref - dit is belangrik om enige kondisie (siekte) waaraan jy in die verlede gely het, en wat in terme van die versekering van ’n gesondheidsrisiko relevant mag wees, te verklaar.

Voorbeeld van ’n geval

Tien jaar gelede is ’n aansoeker met hoë cholesterol gediagnoseer wat met ’n spesiale dieet en voorgeskrewe medikasie behandel is. Na ses maande het die aansoeker beter gevoel en opgehou om die pille te drink. Drie jaar gelede het hy aansoek gedoen om lid van ’n mediese skema te word. Hy het besluit dat dit nie nodig is om sy hoë cholesterol te verklaar nie. ’n Paar weke later kry hy ’n massiewe hartaanval. Die mediese skema vind toe uit oor sy voorafgaande kondisie en weier om sy mediese rekeninge te betaal.  

“Onthou, ’n mediese skema mag nie weier om ’n aansoeker te dek nie, maak nie saak waaraan hy/sy ly nie,” sê Heyman. “Deur jou gesondheidstatus in detail te verklaar, kan die skema verseker dat die kliniese en finansiële risiko van beide die lid en die mediese skema goed bestuur word. Om risiko effektief te bestuur, word elke individuele lid se unieke gesondheidsbefondsing-behoeftes holisties deur die skema bestuur.”

Alhoewel ’n mediese skema nie dekking aan ’n aansoeker mag weier nie, kan hulle weier om daardie persoon vir ’n spesifieke, verklaarde toestand vir ’n tydperk van 12 maande te dek.

Van Tonder het ook gemeld dat nuwe lede van mediese skemas moet onthou dat daar gewoonlik ’n wagperiode van drie maande is voordat hulle enigiets kan eis. Dit is nie van toepassing op mense wat sonder enige onderbreking van een mediese skema na ’n ander oorskakel nie.  

In die geval van nie-verklaring, mag die lid nie-betaling van die rekeninge van toepassing op die toestand wat nie aan die skema verklaar is nie, verwag, of hy mag selfs uit die skema geskors word. Die Wet op Mediese Skemas 29(2) verbied ’n mediese skema om ’n lid se lidmaatskap of dié van sy afhanklikes op te hef, behalwe op grond van weerhouding van belangrike inligting. 

Die slotsom is dus dat dit in jou beste belang is om so eerlik soos moontlik te wees.

- (Susan Erasmus, Health24, hersien Maart 2010)

Lees verder:

Tariefstruktuur van mediese skemas
Mediese skemas - hul geskiedenis

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE