Share

Die 45 allerbeste gesondheidswenke

Ons het ál die navorsing gedoen, en hier is dit: die 45 beste gesondheidswenke – of liewer 46. Die feit dat jy die moeite doen om hierdie artikel te lees, is die belangrikste een.    

1. Maak soos jou kietsie. Leer om strek-oefeninge te doen wanneer jy wakker word. Dit is goed vir jou sirkulasie en spysvertering, en verlig rugpyn.

2. Moenie ontbyt oorslaan nie. Studies het bewys dat om 'n ordentlike ontbyt te eet, een van die beste dinge is wat jy kan doen om gewig te verloor. Mense wat ontbyt oorslaan, neig om gewig aan te sit. 'n Gebalanseerde ontbyt sluit in: vars vrugte of vrugtesap, 'n hoë-vesel ontbyt-graankos, laevet melk of joghurt, volgraan roosterbrood, en 'n gekookte eier.

3. Borsel ordentlik. Baie mense weet nie hoe om hulle tande ordentlik te borsel nie. As jy verkeerd borsel, kan dit net so skadelik vir jou tande en tandvleis wees as om glad nie te borsel nie. Baie mense borsel nie lank genoeg nie, vlos nie en besoek nie hulle tandarts gereeld nie. Hou jou tandeborsel net soos jy 'n potlood vashou en borsel vir ten minste twee minute. Dit sluit jou tande, die area waar jou tande en tandvleis bymekaarkom, jou tong en jou verhemelte in. En jy het ook nie 'n spesiale tandeborsel met 'n spesiale helling nodig nie – dit moet net stewig wees, met sagte borsels, en moet elke maand vervang word.

4. Neurobiese oefeninge vir jou brein. Kry jou brein aan die bruis! Amerikaanse navorsers het die term "neurobics" uitgedink vir take wat die brein se eie biochemiese paadjies aktiveer en nuwe "snelweë" skep, wat kan help om brein-stroombane te versterk of te behou. Borsel jou tande met die "ander" hand, neem 'n nuwe roete werk toe of kies jou klere deur middel van aanraking en nie sig nie. Mense wat verstandelik op en wakker is, neig om minder Alzheimer se siekte te kry, en ouderdomsverwante verstandelike agteruitgang te ervaar.     

5. Kry terug wat jy uitdeel! Gee jy altyd en neem nooit nie? Dit is 'n kortpad na simpatie-uitputting. Gee aan jouself en ontvang van ander, anders gaan jy by 'n punt uitkom waar jy niks meer oor het om te gee nie. En dink 'n bietjie – as jy nie van ander kan ontvang nie, hoe kan jy verwag dat hulle van jou sal neem?

6. Gee aandag aan die spirituele. 'n Studie wat deur die formidabele en streng wetenskaplike Harvard Universiteit uitgevoer is, het bevind dat pasiënte vir wie daar gebid is, vinniger gesond geword het as die res, selfs al was hulle nie bewus van die gebede nie.  

7. Moenie terugdeins voor reuke nie. Knoffel, uie, salotte en preie bevat almal elemente wat goed is vir jou. 'n Studie deur die Instituut vir Kindergesondheid in Kaapstad het bevind dat om rou knoffel te eet, help om ernstige kinderinfeksies te beveg. Hitte vernietig hierdie eienskappe, dus is dit beter om dit rou te eet en met vrugtesap af te sluk, of, as jy jou neus optrek, kan jy dit in tabletvorm sluk.

8. Lig die elmboog. 'n Glasie rooiwyn elke dag is goed vir jou. 'n Aantal studies het dit beaam, en 'n meer onlangse studie het bevind dat die polifenole ('n soort antioksidant) in groen tee, rooiwyn en olywe ook kan help om jou teen borskanker te beskerm. Daar word ook vermoed dat die antioksidante kan help om jou teen karsinogene in die omgewing, soos passiewe tabakrook, te beskerm.  

9. Jou daaglikse kalsium. Kry jou daaglikse kalsium deur 'n tablet te sluk, melk te drink of joghurt te eet. Dit hou jou bene sterk. Onthou dat jou beendigtheid na die ouderdom van 30 verminder. Jy het daagliks ten minste 200mg nodig, wat jy met magnesium moet kombineer – anders word dit net nie geabsorbeer nie.

10. Bessies vir beskerming. Bloubessies, aarbeie en frambose bevat antosianidiene. Dit is plantvoedingstowwe met kragtige antioksidante. Bloubessies het amper dieselfde konsentrasies resveratrol as druiwe – die antioksidant wat in rooiwyn teenwoordig is en byna mitologiese status behaal het. Daar word geglo dat resveratrol help om 'n mens teen hartsiekte en kanker te beskerm.  

11. Geur met kerrie. Warm, pikante kos wat brandrissies of cayenne peper bevat, stimuleer die afskeiding van endorfiene, die hormone wat jou goed laat voel. Endorfiene het 'n kragtige, byna narkotiese effek en laat jou goed voel ná oefening. Maar loop lig vir lam, vark- en skaapvleis en die hoëvet, romerige disse wat in baie Indiese restaurante bedien word.

12. Stadig met die kruie voor operasies. Sjirurge waarsku dat party kruie-aanvullings – van die gewilde St John's Wort en Ginkgo Biloba tot knoffel, ginseng en moederkruid – verhoogde bloeding gedurende operasies kan veroorsaak. Dit mag wys wees om alle medikasie, insluitende kruie-aanvullings, ten minste twee weke voor 'n operasie te staak en jou chirurg oor jou gebruik van kruie in te lig. 

13. Tamaties. Tamaties is 'n superster onder die vrugte en groente. Tamaties bevat likopien, 'n kragtige kankerbevegter en bevat ook baie vitamien C. Die goeie nuus is dat gekookte tamaties ook voedsaam is – gebruik dit dus in pasta, sop, en bredies, asook in slaaie. Die British Thoracic Society sê dat tamaties en appels jou risiko vir asma en kroniese longsiektes kan verlaag. Altwee bevat die antioksidant kwersitien. Om die voordele hiervan ten volle te geniet, eet vyf appels per week, of 'n tamatie elke tweede dag.

14. Eet jou stres weg. Voorkom lae bloedsuiker omdat dit jou stresvlakke opjaag. Eet gereelde klein, gesonde maaltye en hou vrugte en groente byderhand. Kruietee help ook om jou senuwees te kalmeer. Onverfynde koolhidrate, neute en piesangs verhoog die produksie van serotonien, 'n neuro-oordragstof wat jou goed laat voel. Klein hoeveelhede proteïne wat die aminosuur triptamien bevat, kan jou opkikker wanneer stres jou uitput.  

15. Kry genoeg vitamien C. Ons het ten minste 90mg vitamien C per dag nodig en die beste manier om dit te kry, is om elke dag ten minste vyf porsies vars vrugte en groente te eet. So, bring die lemoene en koejawels!

16. Foliensuur is geen foefie nie. Verwagtende moeders en mense met 'n lae immuniteit behoort gereeld foliensuur te neem. Foliensuur verhinder spina bifida by ongebore babas en speel moontlik ook 'n rol in die voorkoming van kanker. Dit word in groen bladgroente, lewer, vrugte en semels aangetref.  

17. A vir 'n A. Hierdie vitamien, saam met beta karotien, help om immuniteit teen siekte te verhoog. Dit help ook met die heling van siektes soos masels en word deur die WGO aanbeveel. Goeie natuurlike bronne van vitamien A is niertjies, suiwelprodukte, groen en geel groente, papaja, veselperskes, brandrissies, rooisuring en rooi palmolie.  

18. Suiwer water. Moenie koeldrank of energiedrankies drink terwyl jy oefen nie. Drink genoeg water gedurende jou oefensessie (moet dit net nie oordryf nie, aangesien te veel water ook gevaarlik kan wees). Langafstandatlete het miskien energiedrankies nodig, maar gedurende korter sessies by die gym sal jou liggaam eers die glukose van die koeldrank verbrand voordat jou liggaamsvet as ’n energiebron gebruik word. Dieselfde geld vir lekkers en ander soetgoed.

19. Glisemiese indeks. Koolhidrate met 'n hoë glisemiese indeks soos brood, suiker en graankos gee jou kitsenergie en verhoog jou metabolisme. As jy probeer om vet te verbrand, hou by voedsel met 'n lae glisemiese indeks soos boontjies, rys, pasta, lensies, ertjies, sojaboontjies en hawersemels.  

20. Leef bewus. Jy't miskien al die gesegde gehoor dat die lewe te kort is om jou met onbenullighede op te hou. Maar miskien moet jy die teenoorgestelde oorweeg: dat die lewe te kort is om NIE op die klein dingetjies te fokus nie. Deur stadiger te lewe en op basiese dinge te konsentreer, kan jy ook van baie bekommernisse ontslae raak. Konsentreer op sensasies en ondervindings: kyk na die growwe tekstuur van 'n aarbei wanneer jy daaraan raak, en proe die soet-suur sap wanneer jy dit eet. Wanneer jou lewensmaat jou hand streel, konsentreer op hoe jou vel voel. Jy kan ook leer om werklik op die eenvoudige takies wat jy elke dag moet doen, te fokus – of jy nou die blomme natgooi of jou klere stryk.  

21. Die geheim van strek.  Wanneer jy strek, doen dit stadig en hou jou posisie vir 25 sekondes. Haal diep asem om jou liggaam te help om die suurstofryke bloed by daardie seer spiere te kry. Moenie bons of jouself in 'n ongemaklike posisie in forseer nie. 

22. Doen eerste die gewigte. Deskundiges sê jy moet eers jou gewigoefeninge doen omdat dit 'n hoër intensiteit behels as kardiovaskulêre oefening. Jou liggaam kan gewigoefeninge beter vroeër in die dag hanteer terwyl jy nog vars is en die nodige energie het. Kardiovaskulêre oefening behoort die laaste ding te wees wat jy by die gym doen, omdat dit jou liggaam help om te herstel deur die bloedvloei na jou spiere te verhoog en van die melksuur ontslae te raak wat in jou spiere opbou terwyl jy jou gewigoefeninge doen. 

23. Brand vet gedurende intervalle. Om jou fiksheid vinnig te verbeter en gewig te verloor, maak gebruik van interval opleiding. Stel die loop- of trapmasjien op die interval program, sodat jou spoed en werklading die hele tyd kan varieer. Bou jou werklading geleidelik op en keer dan terug na jou aanvanklike spoed. Herhaal hierdie roetine. Dit sal jou sessies minder vervelig maak en jy sal ook beter resultate binne 'n korter tyd behaal.  

24. Maak jou voete vuil. As jou enkels, knieë en heupe seer raak omdat jy op harde oppervlakke hardloop, keer terug na die natuur. Sagte roetes of grondpaaie is baie beter vir jou gewrigte as die harde oppervlakke in die stad. Grondoppervlakke neig ook om ongelyk te wees, wat jou dwing om stadiger te hardloop, omdat jy versig moet wees waar jy trap – dit doen wondere vir jou ratsheid en konsentrasie.

25. Weg met verveling en vet. Stoot jou metabolisme op deur jou spoed en intensiteit gedurende aërobiese oefening te varieer. Jy behoort jou roetine af te wissel, nie net om uitbranding of verveling te vermy nie, maar ook om jou liggaam wakker te skud. As jy gewoonlik teen 6.5km/h op die loopmasjien loop, of 15 minute neem om 'n kilometer te loop, stoot jou spoed 'n paar keer op na 8km/h gedurende jou sessie. Doen dit vir so min of meer vyf minute. Stoot jou spoed stadig maar seker op elke keer wanneer jy oefen.

26. Koel af sonder die bier. Moet vir ten minste 'n uur nadat jy geoefen het, geen koolhidrate eet nie. Dit sal jou liggaam dwing om liggaamsvet af te breek, in plaas daarvan om die voedsel wat jy eet, te gebuik. Hou by vrugte en vloeistowwe gedurende daardie uur en vermy bier. 

27. "Sak vir 'n honderd!" In plaas daarvan om in die gym te oefen – selfs al doen jy dit net vir 'n rukkie – kry die hulp van 'n persoonlike fiksheidsinstrukteur. Maak seker jy leer om reg asem te haal en die oefeninge reg te doen. Jy sal beter resultate behaal én minder tyd by die gym deurbring. 

28. Hou op rook. Moenie rook nie, en as jy alreeds rook, doen alles in jou vermoë om op te hou. Vergeet van verskonings soos "my ouma het gerook en het 90 geword" – nie eens die tabakreuse glo dit meer nie. Afgesien van die welbekende risiko's van hartsiekte en kanker, het ortopediese sjirurge bevind dat rook die vermindering van beendigtheid versnel en bloedvloei belemmer. Jy kan dus miskien tot 90 leef, maar jy sal minus 'n paar ledemate wees en na tabakrook ruik. Baie onaantreklik!  

29. Jou familiegeraamtes. Vind uit oor jou familiegeskiedenis. Jy moet weet of daar enige oorerflike siektes is wat in jou geenpoel ronddobber. Volgens die Mayo Clinic in die VSA, kan dit van hulp wees om te weet waaraan jou grootouers oorlede is. Dit kan aandui wat vir jou te wagte is en dit kan selfs jou lewe red. En moenie bang wees vir die waarheid nie: 25 persent van die kinders van alkoholiste word self alkoholiste.

30. Doen self-ondersoeke.  Doen gereelde self-ondersoeke van jou borste. Die meeste eggenote is heel gewillig om te help, en dis nie net omdat borskanker die mees algemene soort kanker by Suid-Afrikaanse vroue is nie. Die beste tyd om jou borste te ondersoek, is gedurende die week na jou maandstonde. 

31. 'n Smerige verhaal. Laat een keer per jaar 'n papsmeer doen. Dis nie nommer een op die lys van 'n vrou se gunstelingaktiwiteite nie, maar dit is lewensnoodsaaklik. Servikskanker maak elke jaar 200,000 vroue dood, en dis die mees algemene vorm van kanker by swart vroue, en affekteer meer as 30 persent. Die kanse op herstel is egter byna 100 persent indien dit vroeg gevind word. Wees veral op jou hoede as jy op 'n vroeë ouderdom seksueel aktief raak, veelvuldige seksmaats gehad het of as jy rook.  

32. Verstaan jou hormone. Onlangse navorsing dui aan dat die kort-termyn gebruik van hormoonvervangingsterapie nie met die toename in die risiko vir borskanker geassosieer word nie, maar dat dit wél 'n risiko kan wees indien jy dit vir meer as tien jaar lank gebruik. Borskanker word vroeër by vroue wat hormoonvervangingsterapie gebruik, opgespoor omdat hulle meer bewus van die siekte as ander vroue is. 

32. Vermy allergieë. Daar bestaan meer as 240 allergene. Party is raar, maar ander is baie algemeen. As stuifmeel jou laat nies, maak jou motor se vensters toe wanneer jy bestuur en skakel liewer die waaier aan. Probeer om nie tussen 5vm en 10vm buitentoe te gaan wanneer die stuifmeeltelling op sy hoogste is nie. Gaan hou ook liewer vakansie in areas met lae stuifmeeltellings, soos by die see, en bly weg van varsgesnyde gras.

33. Troeteldiere. As jy allergies is vir jou kat, hond, budgie of troetelvarkie, probeer om nie in aanraking te kom met die vel-selle wat hulle afskei nie. Laat 'n lugfilter in jou huis installeer en laat jou troeteldier liewer so veel as moontlik buite bly. Borsel die dier ook buite om los hare, ens. te verwyder, of vra iemand anders om dit te doen.   

34. Asma-vriendelike sportsoorte. Swem is die mees asma-vriendelike sport wat daar is, maar fietsry, kano-roei en stap is volgens deskundiges ook goed. Asma hoef ook nie die hoogste prestasie in sport in die wiele te ry nie. Elf persent van die Amerikaanse Olimpiese span was asmalyers – en tussen hulle het hulle 41 medaljes losgeslaan.

35. Gevaarlike strale. Die strale van die son kan jou selfs deur dik glas en onder water brand. Tot 35 persent van UVB-strale en 85 persent van UVA-strale dring deur dik glas, terwyl 50% van UVB-strale en 77 persent van UVA-strale deur ’n meter water en nat katoenklere kan dring. Dit beteken dat jy sonskerm nodig het wanneer jy jou motor bestuur, en watervaste sonskermroom as jy gaan swem.  

36. Geure maak jou vel oud. Bly weg van geparfumeerde of gegeurde sonskerm wat na kokosneut olie of lemoen ruik as jy wil hê jou vel moet jonk bly. Hierdie rome bevat psoralen, wat die verouderingsproses versnel. Kry liewer 'n nagemaakte sonbruin. Vermy solariums, hulle is net so erg soos die son.

37. Sonskerm kan 'n rookskerm wees. Dit is onwaarskynlik dat sonskerm sal verhoed dat jy sonbrand of velkanker kry. Dit is omdat die meeste mense die room nie ordentlik aanwend nie en te lank in die son bly. Wat is die oplossing? Smeer daagliks liberaal sonskerm aan en wend dit herhaaldelik aan, veral as jy in die water was. Hoeveel? Ten minste genoeg om 'n skootglasie vol te maak.    

38. Lag en huil. Om 'n bietjie lekker te huil, is skynbaar goed vir 'n mens. Om te lag ook, en daar is al bewys dat dit liggaam, siel asook 'n gebroke hart help herstel. Studies in Japan dui aan dat lag die immuunstelsel 'n hupstoot gee, en dat dit die liggaam help om allergiese reaksies af te skud. 

39. Maak 'n einde aan dooie verhoudings. Beëindig verhoudings wat nie meer werk nie – jy mors net jou tyd. Doen liewer meer betekenisvolle dinge. Miskien mis jy ander geleenthede, terwyl jy in 'n betekenislose groef vasgevang sit en probeer om iets aan die lewe te hou wat al lankal dood is.

40. Sterk mense soek hulp. Vra vir hulp. Om in die donker op jou tande te kners, gaan niemand beïndruk nie. Dit is 'n teken dat jy sterk is as jy vir hulp vra en ander mense sal jou daarvoor respekteer. As daar 'n probleem met 'n verhouding is, is die een wat verseg om hulp te kry gewoonlik die een by wie die probleem lê. 

41. Hou die stoom in die slaapkamer. Om in te warm water te stort of te bad, sal jou vel uitdroog en veroorsaak dat dit vroegtydig verouder. 'n Matige temperatuur is baie beter. Wend vogroom aan terwyl jou vel nog klam is en dit sal vinniger geabsorbeer word. Gooi ook 'n bietjie olyfolie by jou badwater – dit sal help om jou vel vogtig te hou.

42. Vryf jou goed droog. Verbeter jou sirkulasie en help jou limfkliere om te dreineer deur die manier hoe jy jou afdroog. As jy jou limfkliere help om goed te werk, kan dit help om infeksie te verhoed. Wanneer jy jou ledemate en bolyf afdroog, vryf jou bene in die rigting van jou skaamdele, en jou bolyf na jou armholtes toe. Jy kan jou metgesel op die selfde manier sagkens masseer.  

43. Suiker. Meer as drie miljoen Suid-Afrikaners ly aan tipe 2 diabetes, en dit raak al hoe meer – en die pasiënte al hoe jonger. Nuwe studies toon dat hierdie soort diabetes dikwels deel is van 'n metaboliese sindroom (Sindroom X), wat hoë bloeddruk en ander risikofaktore vir hartsiekte insluit. Meer as 80 persent van tipe 2 diabete sterf aan hartsiekte, so maak seker dat jy jou glukosevlakke onder beheer het en hou jou bloeddruk- en cholesterol-tellings dop.   

44. Ontspan, dis net seks. Stres en seks is nie goeie bedmaats nie. 'n Amerikaanse peiling het getoon dat stres, kinders en werk die hooffaktore is wat mense se seksdrif verlaag. Met die intrede van tegnologie wat ons toelaat om van die huis af te werk, het die skeidslyn tussen ons werk en ons persoonlike lewens begin vervaag. Mense werk langer ure,  dit vat langer om by die werk te kom en ons werk beïnvloed elke aspek van ons lewens, insluitende ons seksuele verhoudings. Seks en intieme dinge moet dikwels maar agter in die ry gaan staan.

45. Lekker slaap, my skat. Rus maak die liggaam gesond en daar is bewyse dat dit die risiko van hartprobleme en sielkundige probleme verlaag.

- (Susan Erasmus, William Smook, Ilse Pauw, Health24, hersien, Februarie 2008. Oorspronklik in Fairlady gepubliseer.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE