Share

Deur die pyngrens

Hoe ver sal jy jou liggaam dryf om sukses te behaal? Ons bekyk van die bisarre tegnieke wat mense inspan om hul doelwit te bereik – ongeag die pyn of skade aan hul gesondheid
Deur Mark van Dijk

  1. Die skok
  2. Misdadigers steek drukspykers in hul voete in ‘n poging om leuenverklikkers te uitoorlê.

    Werk dit?
    Nee. “Niks daarvan werk nie,” sê Fanie Groenwald.

    “Dit sal allerhande reaksies op die poligraaf veroorsaak, maar ’n gesoute ondervraer sal maklik agterkom dat iemand die toets probeer manipuleer. En as al jou reaksies dieselfde is, sal jy in elk geval op die ou end ’n onbesliste resultaat hê.”

    Wel, dit én ’n seer voet. ’n Onbesliste resultaat beteken dat jy iewers gejok het. Dis dus onmoontlik dat iemand wat jok, ’n eerlike uitslag kan kry. Hoe sou ’n poligraaftoetser ’n skelm klop?

    “Ek het in die verlede al sulke situasies gehad,” sê Fanie. “Al wat ek doen, is om die ou te vra om sy skoene uit te trek.”

    Die Wetenskap In die fliek Ocean’s Thirteen probeer die knorrige karakter Livingston Dell om ’n poligraaftoets (beter bekend as ’n leuenverklikkertoets) te slaag deur ’n drukspyker in sy voet te steek.

    Dis ’n ou slenter wat heelparty mense al beproef het, sê Fanie Groenewald van die Poligraaf-assosiasie van Suid-Afrika (Pasa). “Ek het al die vreemdste goed gesien. Mense byt ook hul tong, en dan is daar dié wat die stelsel probeer uitoorlê deur hul gedagtes te probeer beheer.”

    Om die drukspykerfoefie te begryp, moet jy eers verstaan hoe ’n poligraaf werk. Poligrawe toets hoe die liggaam reageer wanneer iemand bepaalde vrae moet beantwoord. As jy byvoorbeeld ’n leuen vertel, word sekere boodskappe deur jou onwillekeurige senustelsel ontvang en dit veroorsaak sekere liggaamlike reaksies wat deur die masjien waargeneem kan word.

    “Dis reaksies wat jou liggaam nie kan beheer nie en so kan ons agterkom as iemand ons om die bos probeer lei,” sê Fanie.

    Die wetenskaplike beginsel agter die drukspyker-slenter is eenvoudig: As jy ’n drukspyker in jou voet steek en daarop trap elke keer wanneer jy ’n vraag gevra word, gaan jou liggaam op die pyn reageer en dieselfde natuurlike stresreaksie toon as wanneer jy ’n leuen vertel. Jou handpalms sal sweterig raak (soos wanneer jy jok), jou oë sal rek (soos wanneer jy jok) en jou polsslag sal versnel (weer eens soos wanneer jy ’n leuen vertel).

    Die teorie is dat die pyn van die drukspyker sal veroorsaak dat ál jou antwoorde na leuens lyk, selfs wanneer jy duidelik die waarheid vertel.

  3. Die skok
  4. Paralimpiese atlete met ruggraatbeserings gebruik selfgeseling, selfskending en blaasvernouing vir ’n adrenalien-opstuwing om hul prestasie te verhoog

    Die wetenskap Dié onbeskaamde kullery veroorsaak ’n toestand wat bekendstaan as vrywillige outonomiese disrefleksie, oftewel boosting.

    Atlete wat dit doen, het gewoonlik ’n rugmurgprobleem wat keer dat hulle enige pyn voel. Deur hulself fisieke skade aan te doen, veroorsaak hulle ’n opbruising van adrenalien – die liggaam se “veg-of-vlug”-reaksie op ’n aanval. Die verhoogde adrenalienvlak kan hul prestasie met tot 25 persent opjaag.

    Wanneer hulle hulle nie opsetlik beseer nie (óf deur hulself met ’n mes te steek óf in party gevalle hul eie bene te breek), bind sulke atlete hul kateters toe om hul blaas onnatuurlik vol te hou en so druk op hul niere te plaas. Ook dít veroorsaak dat krag deur die liggaam bruis.

    “Ons praat van hoofpyn, hoendervleis, breinskade, bloedvate wat bars . . . Daar was selfs al gevalle waar atlete gesterf het,” het Peter van de Vliet, mediese en wetenskaplike direkteur van die Internasionale Paralimpiese Komitee, aan die nuusagentskap Reuters gesê.

    “Atlete veroorsaak gewoonlik die reaksie deur die blaas in te gord of af te sluit, of deur op iets skerps te sit.” Volgens Peter ding die atlete wat hulle aan dié uiterste maatreëls skuldig maak, meestal mee in die hoogs gestremde vlakke in tafeltennis, swem, rolstoelwedrenne en fietsry.

    Werk dit?
    Ja. Boosting kan werk – partykeer. Maar dit kan ook veroorsaak dat die atleet ’n beroerte kry en sterf. “Dit is nog steeds ’n bekende vorm van kullery,” sê professor Tim Noakes van die Suid-Afrikaanse Sportwetenskapsinstituut.

    “Hoewel die atlete dit bewustelik doen, lei dit tot ’n onbewuste reaksie omdat hulle nie die drukking in byvoorbeeld die blaas kan voel nie. Die proses stuur inligting na die brein, en die brein sê: ‘Oeps, ons het ’n probleem’ en aktiveer die simpatiese senustelsel. Hulle is dan meer op en wakker, daar’s meer adrenalien en ek vermoed krag en uithouvermoë verbeter as gevolg daarvan.”

    Hoewel dié slenters nie dwelms behels nie, word dit steeds in die antidwelm- reëlboeke as ’n vorm van kullery beskou, sê Tim. Hy skud sy kop: “Jy weet, atlete . . . Hulle sal altyd iéts probeer om ’n voordeel te kry.”

  5. Die skok
  6. Modelle eet papier of watte om brandmaer te bly

    Die wetenskap Dit klink logies: Jy is ’n model wat so maer soos ’n riet probeer bly. Pleks daarvan om regte kos te eet, maak jy jou maag vol deur, wel, jou maag vol te maak – maar met goed wat heeltemal geen voedingswaarde het nie.

    In hul boek The Skinny: What Every Skinny Woman Knows About Dieting beweer Patricia Marx en Susan Sistrom dat sommige modelle hul middeltjies dun hou deur watteballetjies te eet.

    Maar dis nie ’n dieet nie, dis ’n eetversteuring: Óf hierdie modelle ly aan anoreksie, wat hulle dryf om hulle uit te honger om maer te wees, óf hulle het ’n onnatuurlike aptyt vir nie-voedsame dinge – soos steenkool, grond, kryt, as, papier of watte – as gevolg van ’n mediese afwyking genaamd pika.

    Wetenskaplikes is nog steeds onseker oor die oorsake van pika, hoewel dr. Cynthia Ellis van die Nebraska Medical Association in Amerika reken dat dit met tekorte aan yster, kalsium, sink en ander voedingstowwe te doen kan hê.

    Werk dit?
    Nee. Dié verspotte supermodel- diëte werk glad nie. Vra maar vir die die Suid- Amerikaanse modelle Luisel Ramos en Ana Carolina Reston. Of wag ’n bietjie, jy kan hulle nie vra nie. Albei is in 2006 dood.

    Wat ’n spyskaart van net sneesdoekies of watte betref: “Jy sou dalk ’n bietjie vesel daaruit kon kry,” sê Katherine Tudsbury, ’n gesertifiseerde voedingsterapeut van Kaapstad, “maar dit sal nie baie wees nie. En buiten dit? Niks nie!”

    Katherine se aanbeveling is dié van elke ander voedingkundige: ’n gesonde, gebalanseerde dieet wat uit regte, egte kos bestaan.

    En die Britse aktrise Billie Piper stem saam. Billie het die sneesdoekie- dieet beproef toe onvriendelike kommentaar van ’n TV-vervaardiger haar tot ’n eetversteuring gedryf het. Sy beveel dit nie aan nie: “Ek het eenkeer probeer om Kleenex by my keel af te dwing. Maar ek was nog steeds honger én ek het byna aan die bal sneespapier verstik!”

  7. Die skok
Mense verwurg hulself doelbewus om hul vlak van seksuele opwinding te verhoog

Die wetenskap Die teorie is dat wanneer ’n mens – deur middel van verwurging of versmoring – die suurstoftoevoer na die brein afsny, dit die plesier van jou orgasme sal verhoog.

Hoewel dit soos malligheid klink, is daar bewyse dat dit wel werk. Swemmers wat op die punt was om te verdrink, vertel soms van ekstatiese gevoelens net voor hulle hul bewussyn verloor het.

Party neurochirurge glo dat die gebrek aan suurstof breinselle laat sterf, wat ’n stortvloed van die neuro-oordragstof glutamaat vrystel. In reaksie daarop skei die brein dan reseptorblokkeerders af om die oormaat glutamaat te neutraliseer, wat die euforiese gevoelens veroorsaak.

Maar dit is eintlik net ’n teorie. Die praktyk word erotiese asfiksie genoem, en volgens die seksuoloog dr. Elna McIntosh word dit dikwels aan masturbasie gekoppel – wanneer dit outoerotiese asfiksie genoem word.

“Namate die koolstofdioksied in jou brein opbou, verloor jy jou bewussyn en jou reflekse behoort dan in werking te tree om jou weer by te bring,” se sy. Maar met ’n tou om jou nek is die kans dat jy weer sal bykom nie te waffers nie.

Werk dit?
Miskien. Maar wie wil die gevaar loop om uit te vind? “Dis uiters gevaarlik, maar ongelukkig doen mense dit nog steeds. Mense sal enigiets beproef, veral as dit seksueel van aard is,” sê Elna.

Volgens een skatting kan outo-erotiese asfiksie vir tot duisend sterftes per jaar in die VSA verantwoordelik wees.

“Dis dalk waar dat die mense wat daaraan dood is ’n intense orgasme gehad het,” sê Elna, “maar ons sal nooit weet nie omdat hulle nie hier is om ons te vertel nie. Dit is veral iets wat mans doen, en dikwels is dit jong seuns. As ’n seun tragies sterf terwyl hy dit beproef, kan dit soos selfmoord lyk. Die ouers dink dan die kind het hom opgehang en doen nie die moeite om te vra hoekom sy broek op sy enkels hang nie.”

Daar word bespiegel dat die rockgroep INXS se destydse hoofsanger, Michael Hutchence, in 1997 as gevolg van outo-erotiese asfiksie dood is. Maar elke seksuele daad behoort veilig en verstandig te wees en met die ander persoon se instemming plaas te vind, sê Elna.

“Outo-erotiese asfiksie is nie veilig nie – dit sou veiliger wees om eenvoudig jou asem op te hou. Dit is nie verstandig nie omdat dit so gevaarlik is; en selfs al het jy iemand se instemming, kan jy op die ou end jou seksmaat verwurg.”

Bulimia – the hidden scourge

Dying for pleasure

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE