Share

Bewaar die kroonjuwele

Raad vir 'n broer se roer

Jy is dalk te bedrywig. Of te lui. Of te skrikkerig . . . Wat ook al die rede, dis 'n feit dat mans baie  minder gereeld as vroue dokter toe gaan. Maar as dit by jou kroonjuwele kom, móét jy gereeld 'n ondersoek laat doen. Hier is die kwale waarvoor mans moet lig loop.

Deur MIKE BEHR

Noen dit maar die naakte waarheid: Ná 40 is mans se kanse drie keer groter as dié van vroue om te sterf. Die rede? Pleks daarvan om hul liggaam soos goed geoliede masjiene te hanteer, is hulle geneig om weg te skram van herstelwerk en instandhouding.

"Vroue bly aan die veilige kant," sê dr. Shingai Mutambirwa, konsultanturoloog en navorser aan die George Mukhari-hospitaal in Pretoria. "Hulle skram nie van dokters weg as hulle siek is nie en besoek hul ginekoloog gereeld. Aan die ander kant is mans vyf keer minder geneig om dokter toe te gaan, veral uroloog toe."

Maar as 'n man die spreekkamer vermy omdat hy probleme met sy onderstel nie in die oë wil kyk nie of omdat hy oningelig of skaam is, speel hy met sy lewe.

"As jy jou gesondheid afskeep, kan jy net sowel jou doodsvonnis onderteken," sê Shingai, wat ook 'n spreekkamer in Soweto het. "Al wat 'n mens moet doen om veilig te bly is om gereeld dokter of uroloog toe te gaan vir 'n roetine-ondersoek."

Dis die boodskap wat hy sonder ophou probeer tuisbring by die pasiënte wat hy elke week behandel, sowel as sy magdom luisteraars op 567 Cape Talk en Talk Radio 702, waar hy 'n gereelde gas is op

Redi Direko se weekdagoggendprogram en Leigh Bennie se A Word On Medical Matters.

Shingai is duidelik op 'n kruisvaart vir manlike gesondheid en die waarde van roetine-ondersoeke. As jy nog nie geskrik het vir die feit dat dit lewensgevaarlik is om dié besoeke af te skeep nie, vertel hy

jou gou van die moontlikheid van 'n lewe sonder ereksies of selfs (goeie genade!) sonder 'n penis – 'n moontlike gevolg van onbehandelde peniskanker.

"Die goeie nuus is dat die meeste probleme met manlike geslagsdele suksesvol behandel kan word," sê Shingai. "As jy dus 'n knop of seerplek opmerk, gaan dadelik dokter toe. Dalk is dit niks om oor bekommerd te wees nie, maar as iets ernstigs aan die ontwikkel is, sal jy dit in die kiem kan smoor."

Jou eerste mikpunt is natuurlik om die probleem op te spoor vóór daar 'n kiem is om te smoor. Dis hoekom 'n gereelde ondersoek – met of sonder enige bestaande bekommernisse – deel van elke

man se lysie persoonlike takies moet wees.

Die enigste manier om prostaatkanker op te spoor is deur 'n jaarlikse ondersoek, wat 'n rektale ondersoek van die prostaatklier insluit, sê Shingai. "Ongelukkig is dit vir baie mans 'n bron van verleentheid. Maar ek kan jou sê dis pynloos en binne 'n oogwink verby."

'n Prostaat-ondersoek kan 'n mens natuurlik ongemaklik maak. Maar dis die moeite werd as 'n ondersoek op die regte tyd jou teen 'n gesondheidskrisis later kan vrywaar.

In die gees van voorsorg eerder as nasorg gee Shingai raad oor tien moontlike kwessies doer onder – en hoe om hulle op te spoor voor dit te laat is.

 

1. Manlike menopause - Mans moet ook daardeur

Feite en voorkoms: Van 30 jaar oud af beleef sowat 12 persent van mans 'n afname in die vlak van testosteroon, die hormoon wat seksuele drange beheer en wat jy nodig het om 'n ereksie te behou. Dié afname lei tot die opbou van vetselle in die penis.

Vroeë waarskuwingstekens: Ereksies wat nie heeltemal die mas opkom nie, 'n seksdrang wat

stadigaan wegkwyn, pyn in die bene en 'n middellyf wat uitsit ondanks 'n gesonde dieet en oefenroetine.

Beste behandeling: Gaan spreek jou dokter, want lae testosteroon verhoog ook die gevaar van 'n hartaanval en diabetes. Oefening, 'n goed gebalanseerde dieet en die regte medisyne, soos 'n testosteroonaanvulling-inspuiting elke drie maande, sal help om jou hormone gebalanseerd en jou harder te hou.

 

2. Vergrote prostaat – 'n Probleem met die pypleiding

Feite en voorkoms: Ná 40 begin mans se prostaat vergroot, wat die blaaspype kan toedruk, die vloei van urine beperk en verhinder dat die blaas behoorlik geledig word. Dis selde kwaadaardig, maar sonder behandeling kan dit tot nierskade en ereksieprobleme lei.

Vroeë waarskuwingstekens: As jy dikwels in die nag moet opstaan om te gaan water afslaan.

Beste behandeling: Gaan uroloog toe. Voorskrifmedisyne, gewoonlik alfablokkeerders, sal jou weer maklik laat urineer.

3. Prostaatkanker - Die stille inbreker

Feite en voorkoms: Prostaatkanker is naas longkanker die dodelikste kankersoort. Die groot gevaar is dat dit pynloos is en dat daar geen ooglopende fisieke tekens is nie. Jy kan trouens steeds bobaas in die bed wees terwyl die kanker groei. Maar daar is ook goeie nuus: As dit vroeg ontdek word, kan dit genees word.

Vroeë waarskuwingstekens: Geen.

Beste behandeling: Prostaatkanker kan net opgespoor word met 'n ondersoek van die prostaat via die rektum en 'n spesifieke bloedtoets wat die prostaat-spesifieke antigeen (PSA) meet, 'n proteïen wat in groter as normale hoeveelhede vervaardig word as daar 'n probleEm met die prostaat is. Jy moet dié toetse maar ná jou 40ste verjaardag elke jaar laat doen, maar vroeër en gereelder as jy 'n familiegeskiedenis van prostaatkanker het.

4. Priapisme - Te veel van 'n goeie ding?

Feite en voorkoms: Sowat 2 persent van mans wat las het van langdurige en pynlike ereksies het gewoonlik inspuitings vir erektiele disfunksie gehad. Ignoreer dit en die gevolg kan bloedvatskade wees en uiteindelik algehele onvermoë om 'n ereksie te kry.

Vroeë waarskuwingstekens: 'n Ereksie wat langer as twee uur aanhou. Die pyn kan intens genoeg wees om jou oë te laat traan.

Beste behandeling: As 'n yssak by die perineum – die plek tussen die testikels en die anus – jou meneer nie grond toe bring nie, gaan spreek dadelik 'n dokter en berei jou voor op 'n klein adrenalien-inspuiting in jou penis. Behandeling kan ook beteken dat jy 'n pseudoefedrienstimulant soos Sudafed sal moet drink – dit laat die bloedvate toetrek.

5. Seksueel oordraagbare infeksies - Wanneer plesier tot pyn lei

Feite en voorkoms: Seks sonder 'n kondoom laat jou die gevaar loop om seksueel oordraagbare infeksies op te doen soos gonorree, sifilis, chlamydia en herpes. Sowat 'n kwart van Suid-Afrikaanse mans het 'n seksueel oordraagbare siekte of het dit al gehad. As dit onbehandel gelaat word, kan dié siektes ernstige komplikasies soos onvrugbaarheid veroorsaak. Dit kan selfs tot die dood lei.

Vroeë waarskuwingstekens: Sere of swere op jou penis, 'n branderigheid wanneer jy urineer, 'n afskeiding en 'n gejeuk.

Beste behandeling: Gaan onmiddellik dokter toe. Deesdae kan seksueel oordraagbare siektes taamlik maklik met antibiotika behandel word.

6. Tinea cruris - Jeuk jy om te krap?

Feite en voorkoms: Dié kwaal, ook bekend as jock itch, is soos voetskimmel in die lies. Die oorsaak is óf 'n bakteriële infeksie óf 'n swam wat in warm, klam omstandighede floreer en hou van stywe, sweterige klere.

Vroeë waarskuwingstekens: 'n Gejeuk, branderigheid, uitslag en blase of swere in die lies.

Beste behandeling: Swamdodende room sal die ding doen sodra jy 'n dokter gespreek het om seker te maak dis nie 'n seksueel oordraagbare infeksie nie.

7. Pitswere - Jy kan sweer dis seer!

Feite en voorkoms: 'n Pitsweer ontstaan wanneer 'n ontsteekte haarsakkie tot 'n puisieagtige knop swel wat uiteindelik oopbars en etter afskei. Dit kom gewoonlik voor wanneer jou immuunstelsel verswak is en verskyn meestal op die rug en agterstewe, maar dit kan ook by die geslagsdele voorkom.

Vroeë waarskuwingstekens: Ontsteekte rooi swelling, pyn en gevoeligheid.

Beste behandeling: Kortikosteroïedroom en 'n antibiotikum sal wondere verrig, maar spreek

jou dokter om seker te maak dis net 'n pitsweer.

8. Skaamluise - Jou lae luis!

Feite en voorkoms: Hierdie hinderlike klein luise, algemeen bekend as crabs, is seksueel  oordraagbare parasiete wat jou bloed suig en eiers lê in jou skaamhare.

Vroeë waarskuwingstekens: 'n Byna onhoudbare gejeuk en klein insekte wat jou skaamstreek besmet.

Beste behandeling: 'n Medisinale sjampoe van jou apteker sal kitsverligting bring. Dan moet jy

die bron opspoor. Jy moet ook jou beddegoed en handdoeke steriliseer om herbesmetting te

voorkom. Jou geliefde sal knorrig wees as dié laspossies na haar versprei.

9. Peniskanker - Doen iets daaraan – en vinnig

Feite en voorkoms: Dié seldsame kankersoort wat 35 uit 100 000 Suid-Afrikaanse mans tref, is aggressief en kan verband hou met die virus wat servikskanker veroorsaak. Die oorsaak is onbekend, maar daar is 'n hoër voorkomssyfer by onbesnyde mans wat nie die deel onder die voorhuid skoon hou nie. Die kanker kan na die limfkliere in die liesstreek en ander dele van die liggaam versprei.

Vroeë waarskuwingstekens: 'n Pynlose seer wat nie gesond word nie, gewoonlik op die punt van die penis of voorhuid.

Beste behandeling Besnyding by geboorte is die beste voorkomende maatreël. As die kanker vroeg ontdek en chirurgies verwyder word, is die oorlewingsyfer sowat 65 persent. Ontkenning van die toestand kan lei tot die dood of verlies van die penis.

10. Testikulêre torsie - Moenie langer draai nie

Feite en voorkoms: Die onderliggende oorsaak is 'n anatomiese afwyking wat by sowat 12 persent van mans voorkom. Dit behels die verdraaiing van 'n testikel aan die saadstring (wat bloed na die testikel voer), en gebeur gewoonlik spontaan of ná swaar fisieke aktiwiteit by tieners of mans

jonger as 30, hoewel dit op enige ouderdom kan voorkom. Die rotasie sny die bloedtoevoer

af en lei so tot bloedverlies en moontlike skade.

Vroeë waarskuwingstekens: Ondraaglike pyn, skielike swelling, naarheid en braking.

Beste behandeling: Dit moet as 'n noodgeval gehanteer word, want die vertraging van mediese behandeling kan lei tot permanente skade of die verlies van die testikel. Die enigste behandeling is chirurgie.

 

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE