Share

B12: Bobaas of bogtery?

Die vitamien B12-inspuiting word as 'n wonderbaarlike energiemiddel aangeprys. Maar dokters sê tensy jy een van die min mense met 'n werklike B12-tekort is, hou hierdie doepa maar min voordeel vir jou in.
Deur DR. ANNA HALL vir Huisgenoot-POLS

Madonna. Britney Spears. Lindsay Lohan.

Nee, dis nie net 'n rits omstrede, beeldskone sterre nie. Dit is 'n lys van beroemdes wat gereeld die hulp van vitamien B12-inspuitings inroep om hul energievlak te laat tred hou met die asemrowende hoogtes van hul loopbane.

En hulle is nie die enigstes nie. Ons is eintlik almal op soek na 'n wondermiddel wat die natuur se prosesse kan omseil en ons dadelik 'n hupstoot kan gee. Vandag se atlete gebruik middels om hul prestasie te verbeter en bestuurders met baie stres sluk pille en ander doepas.

Jy is dalk nie 'n superster nie, maar dit beteken nie dat die stres van die hedendaagse lewe jou nie na 'n energiehupstoot laat smag nie. Is dié omstrede inspuiting nie dalk net wat jy nodig het nie?

Is méér werklik die antwoord?
Vitamien B12 (een van 'n groep van agt B-vitamiene) word deur elke sel in die liggaam gebruik, aangesien dit 'n rol in die vervaardiging van DNS speel. Dit is onontbeerlik vir die normale funksionering van die brein en senustelsel, en vir die vervaardiging van bloedselle.

Maar omdat die liggaam nie vitamien B12 kan vervaardig nie, moet dit uit die dieet verkry word – hoofsaaklik van dierprodukte.

Hoeveel B12 het jy werklik nodig? Vir volwassenes is twee tot drie mikrogram per dag genoeg om al die B12-reaksies perfek te laat werk. Enige oortollige B12 word geberg (hoofsaaklik in die lewer) en wanneer daardie pakkamer vol is (ongeveer 5 000 mikrogram), word enige oortollige B12 in die urine uitgeskei.

Dit beteken dis sinneloos en geldmors om vitamien B12 in te spuit as daar geen tekort is nie. Hoekom? Omdat die hoeveelheid wat in 'n gemiddelde volwassene se lewer geberg word, genoeg is vir 'n hele paar jaar voor daar enige teken van 'n tekort verskyn.

En omdat dit wateroplosbaar is, word enige oortollige B12 onmiddellik uitgeskei. Al wat jy dus uit oorgeesdriftinge B12- aanvullings kry, is peperduur piepie.

Het jy dalk 'n B12-tekort?
Omdat die meeste van ons genoeg van dié lewensnoodsaaklike vitamien in voorraad het, is die enigste mense wat regtig voordeel trek uit B12-inspuitings dié wat aan 'n werklike tekort ly, soos streng vegetariërs; strawwe drinkers; mense wat maagchirurgie ondergaan het; mense met kanker, inwendige parasiete of ernstige bloedarmoede; en mense wat swaar medikasie soos diabetesmedisyne of sekere teensuurmiddels gebruik. Dié faktore sorg alles vir min vitamien B12 in die selle.

As jy 'n lae B12-vlak het as gevolg van een van die bogenoemde faktore, het jy waarskynlik gereelde B12-inspuitings nodig. Sodra jou voorraad weer aangevul is, sal 'n inspuiting elke twee tot drie weke genoeg wees om die balans te handhaaf.

Die B12-bohaai
As ons eintlik so min B12 nodig het en meer daarvan nie help nie, hoekom die media-bohaai oor die B12-hupstoot?

Een moontlike verduideliking is die plasebo-effek.

Dit is 'n kragtige faktor wat nie geïgnoreer moet word nie en kan verduidelik hoekom aanhangers inderdaad meer energiek voel ná 'n B12-inspuiting.

Die ander moontlike verduideliking is onakkurate toetsing. Sogenaamde "pseudo-B12"-stowwe wat in party plante aangetref word, word dikwels as gesondheidsaanvullings geneem. Dit sluit in spirulina en ander alge.

Dié stowwe het geen biologiese aktiwiteit in mense nie, maar kan in toetse as B12 registreer en verkeerdelik aandui dat die pasiënt genoeg B12 het. So 'n pasiënt kan dalk 'n effense vitamien B12-tekort ondervind, dus sal 'n B12-inspuiting 'n dramatiese effek hê bloot omdat 'n ongediagnoseerde tekort behandel word.

Te veel van 'n goeie ding?
Die werklike gevaar is dat onbeheerde, gereelde gebruik van B12-inspuitings 'n werklike tekort kan verbloem waarvan die onderliggende oorsaak ernstig maar behandelbaar kan wees. Dit sluit in bloedarmoede, kanker of alkoholmisbruik.

En soms kan 'n vertraging van of gebrek aan behandeling van die onderliggende oorsaak dodelik wees.

Die wetenskap het bewys om meer B12 te neem as wat jou liggaam nodig het, nie jou energievlak sal verhoog nie. Dis egter ook waar dat jy nie 'n oordosis kan neem nie en daar dus geen bekende toksiese nagevolge is as jy groot hoeveelhede inkry nie.

In 'n neutedop: As jy 'n werklike tekort het, is die gereelde gebruik van vitamien B12 noodsaaklik en sal dit beslis 'n verskil maak. Maar vir dié van ons wat nie regtig 'n tekort het nie, sal ekstra B12 waarskynlik net die vervaardigers van die produk bevoordeel.

Watter simptome?
Vind uit wat jou B12- status is voor jy na 'n kits-energiehupstoot begin soek.

As jy aan 'n vitamien B12-tekort ly, sal jy dalk die volgende simptome ondervind:

  • Moegheid

  • Bloedarmoede

  • Tekens van spierswakheid, balansprobleme, abnormale sensasies en ander neurologiese probleme

  • Geheueverlies

  • Duidelike tekens van depressie

  • Kortasem
  • Angina

  • Verminderde eetlus

Hierdie simptome verdwyn vinnig ná behandeling met vitamien B12-vervanging.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Wat is vitamin B12?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE