Share

Alkohol dodeliker as vigs, TB of geweld

Die Wêreld Gesondheidsorganisasie het gewaarsku dat alkohol wêreldwyd byna 4% van alle sterftes veroorsaak – meer as vigs, tuberkulose of geweld.

Volgens die Verenigde Nasies-agentskap het stygende inkomste tot hoër drankgebruik in digbevolkte lande in Afrika en Asië, insluitende Suid-Afrika en Indië gelei, en is oormatige episodiese drankgebruik in baie ontwikkelde lande 'n probleem.

Verder bly die meeste regerings se beleid ten opsigte van alkoholbeheer egter swak en laag op hul prioriteitslys, ten spyte van die swaar tol wat dit van die gemeenskap eis – in die vorm van padongelukke, geweld, siekte, kinderverwaarlosing en afwesigheid van die werk.

Alkohol veroorsaak elke jaar 2.5 miljoen sterftes

Ongeveer 2.5 miljoen mense sterf elke jaar aan alkohol-verwante oorsake, sê die WGO in sy "Global Status Report on Alcohol and Health."

Die verslag het bevind dat die skadelike gebruik van alkohol veral dodelik vir jonger ouderdomsgroepe is, en dat alkohol die wêreld se leidende risikofaktor vir sterfte by mans van 15 tot 59 is.

In Rusland en die Gemenebes van Onafhanklike State word elke vyfde sterfte aan oormatige alkoholgebruik toegeskryf – die hoogste syfer in die wêreld.

Oordadige drinksessies

Volgens die WGO kom oordadige drink-episodes reeds gereeld in Suid-Afrika, Brasilië, Kazakstan, Meksiko, Rusland en die Oekraïne voor, en is in ander lande ook aan die styg.

"Wêreldwyd het ongeveer 11% van alle alkoholgebruikers swaar episodiese drinksessies, met 'n mans tot vroue verhouding van vier tot een. In alle lande maak mans hulle konstant skuldig aan veel hoër vlakke van gevaarlike drankgebruik as vroue," sê die verslag.

Gesondheidsministers van die WGO se 193 lidlande het verlede Mei ooreengekom om te probeer om swaar episodiese drinksessies en ander toenemende vorms van oormatige alkoholgebruik deur middel van hoër belasting op alkoholiese drank en strenger bemarkingsbeperkings hok te slaan.

Siekte en besering

Alkohol is volgens die WGO se eerste verslag oor alkohol sedert 2004 'n oorsaakgewende faktor in 60 soorte siektes en beserings.

"Ses of sewe jaar gelede het ons nie sterk bewyse van 'n oorsaakgewende verhouding tussen drankgebruik en borskanker gehad nie. Nou het ons dit," het Dr. Vladimir Poznyak, hoof van die WGO se middelmisbruik-eenheid en koördineerder van die verslag aan Reuters Health gesê.

Vlakke van alkoholgebruik varieer baie, van hoë vlakke in ontwikkelde lande tot die laagste in Noord-Afrika, Afrika Suid van die Sahara en Suid-Asië, waar die groot Moslem bevolkings oor die algemeen nie alkohol gebruik nie.

Onwettige alkoholprodukte

Tuisgemaakte of onwettig-geproduseerde alkohol – wat buite die beheer van regeringsbeheermaatreëls en belastingnette val – verteenwoordig byna 30% van die totale wêreldwye gebruik deur volwassenes.

In Frankryk en ander Europese lande met hoë vlakke van alkoholgebruik deur volwassenes is swaar episodiese drinksessies redelik laag, wat op meer gereelde, maar matige drinkpatrone dui.

Een van die mees effektiewe maniere om alkoholgebruik te beperk, veral by jongmense, is om belasting te verhoog, sê die verslag. Die instelling van ouderdomsbeperkings vir die koop en gebruik van alkohol en die regulering van alkoholvlakke vir bestuurders verminder ook misbruik, indien dit toegepas word.

Party lande beperk die bemarking van alkoholiese drank of die drankindustrie se borging van sportgebeure.

Beleid oneffektief

Volgens die WGO is daar egter nog nie genoeg lande wat hierdie maatreëls en ander effektiewe beleidsopsies om sterfte, siekte en besering wat aan alkoholgebruik toegeskryf kan word, toepas nie.

Alkoholprodusente sê egter hulle erken die belangrikheid van selfregulering deur die industrie om alkoholmisbruik aan te spreek en beheermaatreëls oor dronkenskap en onwettige alkoholgebruik deur minderjariges uit te oefen.

Die brouery SABMiller waarsku egter dat beleidsmaatreëls soos minimumpryse en hoë belasting op alkohol meer skade as voordele kan inhou as dit meer mense daartoe lei om tuisgemaakte of onwettig gestookte alkohol te gebruik. - (Stephanie Nebehay/Reuters Health, Februarie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE