Share

Aksieplan teen sooibrand

Maklike dinge wat jy kan doen om die vuur in jou borskas te blus.
Deur Debbie Reynolds

 

Die fliek sal jou meesleur, sê die resensente. Daarom het jy dae vooruit bespreek en sien jy al die hele week lank daarna uit – maar noudat jy uiteindelik in die teater sit, is die brandende sensasie in jou bors al waarop jy kan konsentreer. Jou aanhoudende gevroetel werk op jou metgesel se senuwees, maar jy kan dit nie help nie. En jy kan nie wag dat die fliek eindig sodat jy by jou motor kan kom en iets sluk om die brand te blus nie.

Klink dit bekend? Indien wel, is jy een van miljoene Suid-Afrikaners wat aan sooibrand ly. Vier uit 10 van ons is maar alte vertroud met die brandgevoel in ons maag of borskas wat ons lewe versuur.

Dokters noem dit gastroësofageale reflukssiekte of GORD en verduidelik dit so: Die brandende sensasie kom voor wanneer die sirkelvormige spier wat die slukderm met die maag verbind (die onderslukderm-sfinkter) nie dig genoeg sluit nadat kos deurbeweeg het nie. Suurvormende maagsappe stroom terug en kom met die slukderm se delikate voering in aanraking.

Die slukderm-sfinkterspier is ontwerp om soos 'n eenrigtingklep te werk, wat verhinder dat die kos in jou maag van die maag af boontoe beweeg. As dié spier nie behoorlik werk nie vloei die maagsure wat noodsaaklik is om kos te verteer in die slukderm in. Dit word refluks of terugvloeiing genoem en brand omdat maagsure ongelooflik sterk is – tot 10 keer sterker as suiwer suurlemoensap en sterk genoeg om 'n tand op te los!

Sooibrand kan aan jou leefstyl te wyte wees, sê dr. Bernard Insam, 'n gastroënteroloog by die Life Westville-hospitaal in Durban. Maar in baie gevalle – en veral by jong lyers – kan dit oorerflik wees.

Sorteer die simptome

Dis maklik om die simptome te herken: 'n pynlike of brandende sensasie in die boonste deel van die maag of borskas wat soms na die rug versprei. Ander simptome sluit in heesheid (veral soggens), die sensasie van 'n knop in die keel of ’n chroniese seer keel, problem om te sluk en 'n aanhoudende gehik. As jy chronies winde of nat winde opbreek – wanneer kos tot in die mond terugstroom – is dit ook tekens. Tandartse is soms eerste om sooibrand te diagnoseer aangesien maagsure die agterste tande kan wegvreet.

Chroniese suurrefluks – meer as drie keer per week – is rede tot kommer, sê Bernard. "Dit kan chroniese inflammasie van die onderste deel van die slukderm veroorsaak, wat kan lei tot voorkwaadaardige letsels en 'n toestand bekend as Barrett se slukderm. Indien dit nie behandel word nie, kan dit in kanker ontwikkel."

Blus die vuur

Sooibrand word meestal met medikasie behandel, maar in ernstige gevalle is chirurgie die enigste uitweg. Gelukkig kan 'n eenvoudige verandering in leefstyl verligting bring. Die meeste lyers gebruik gewone teensuurmiddels soos Rennie of Gaviscon om hul simptome te beheer.

Teensuurmiddels neutraliseer die sure in die maagdermstelsel en breek dit tot onskadelike sout en water af. Die ongegronde mening dat dit gevaarlik is om gereeld teensuurmiddels te gebruik is presies dit – ongegrond.

"Dit gaan jou nie kwaad doen om elke dag teensuurmiddels te drink nie," sê Bernard. "Maar as jy dit elke dag nodig het, het jy beslis 'n probleem en behoort jy jou dokter te raadpleeg om die oorsaak vas te stel."

Om jou leefstyl 'n bietjie aan te pas, kan die probleem oplos. Verskeie faktore dra by tot sooibrand. Deur die oorsake direk te pak, kan die behoefte aan teensuurmiddels beduidend verminder.

1. Doen wat natuurlik is

As jy doodeenvoudig water drink, kan dit help dat die suur na jou maag terugspoel. "Probeer om nie terselfdertyd te eet en te drink nie; dit sal help dat jou maag nie te vol raak nie," is die raad van Daniella Roberts, 'n Durbanse dieetkundige.

"Drink liewer water 20 minute voor jy eet of minstens eers 'n uur daarna."

Ander natuurlike rate sluit in piesangs, laevet-jogurt en kamilletee, verkieslik swart of met laevet-melk.

Vermy vetterige kos wat moeilik verteer word en sooibrand veroorsaak. Kies laevetjogurt wat probiotika bevat; dit verbeter spysvertering, veral as jy dit gereeld eet.

Voeg meer vesel soos semels by jou dieet om hardlywigheid te voorkom en te voorkom dat kos te lank in jou maag bly. Laasgenoemde veroorsaak winderigheid en opgeblaasdheid.

Anders as wat baie mense dink, is dit nie 'n goeie idee om ’n glas melk – veral volroommelk – te drink nie. Die kalsium- en proteïenkomponente in die vet stimuleer in werklikheid die vervaardiging van sure.

2. Los die mentjies ná die maal

Mente verfris dalk jou asem, maar doen jou maag 'n onguns aan. Mente kan die spier om die slukderm laat ontspan, wat dit makliker maak vir suursappe om in jou keel op te stoot. "Sê nee dankie vir mente, pepermentente, groenmentlekkers of -kougom inkluis," sê Daniella. "En maak seker jou tandepasta is nie gelaai met ment nie."

3. Kou hieraan

Om ná 'n groot maaltyd 30 minute lank kougom te gou, kan volgens 'n onlangse studie in Brittanje sooibrand voorkom. Dit stimuleer die produksie van speeksel, wat sure neutraliseer.

4. Vermy sneller-kosse

Dit sluit in:

  • Gebraaide of vetterige kos soos pasteie, terte, verwerkte vleis en worsies. Omdat vet die stadigste en moeilikste voedingstof is om te verteer, duur dit langer om vetryke kos te verteer. "Die liggaam verteer eers koolhidrate, dan proteïene en laastens vette," sê Daniella.
  • Knoffel, uie en sjokolade. Soos mente laat dit die slukderm ontspan en veroorsaak dit dat sure opstyg.
  • Koffie (kafeïenvry en gewoon), tee en alle soorte alkohol, veral rooiwyn. Kafeïen en alkohol verminder die elastisiteit van die slukdermspiere sodat spysverteringsappe in die keel opstoot.
  • Gaskoeldranke. Die gas laat die maag swel.
  • Suurvormende vrugte. Dit sluit sitrusvrugte, tamaties en pynappels in.
  • Speserye en tamatiesous. Gebruik eerder blatjang. Vermy eerder branderige geurmiddels soos tabascosous en brandrissies – soetrissies is beter. Daniella stel volgraanmosterd of paprika as alternatiewe voor.

Die lys verbode kosse geld egter nie vir alle sooibrandlyers nie, sê sy. "Almal is nie dieselfde nie – jy sal gou genoeg agterkom watter kosse jou sooibrand gee."

5. Eet stadig, eet minder

Hoe meer jou maag as gevolg van kosinname uitsit, hoe meer refluks sal jy hê. So eenvoudig is dit.

Eet vyf tot ses kleiner maaltye per dag pleks van drie groot maaltye, stel Bernard voor. Eet kleiner porsies vir ontbyt, middag- en aandete en geniet 'n gesonde peuselhappie in die middel van die oggend en middag. Eet 'n bakkie jogurt, 'n gesondheidstafie of 'n sny lae-GI-roosterbrood met 'n laevet-vulsel.

Onthou om te ontspan wanneer jy eet. Eet stadig, kou deeglik en moenie kort ná ete gaan skuinslê nie.

6. Verloor gewig

As jy oorgewig is, plaas maagvet meer drukking op die buikholte. Gevolglik stoot die kos in jou maag op na jou slukderm – wat jou sooibrand gee.

'n Skandinawiese studie het bevind dat 'n man wat 84 kg weeg se sooibrandsimptome met 75 persent kan verminder as hy net 4 kg verloor.

7. Gaan jou medikasie na

Sekere medisyne, soos sommiges wat voorgeskryf word om asma en hartkwale te behandel, kan refluks veroorsaak omdat dit die slukdermsfinkter laat verslap. Bespreek 'n verandering in medikasie met jou dokter as sooibrand 'n probleem word.

Wees ook versigtig met gewone medikasie soos aspirien en anti-inflammatoriese medisyne: Dit moet slegs ná 'n maaltyd geneem word.

8. Druk slegte gewoontes dood

Rook vererger beslis sooibrand, sê Bernard. "Dit maak die onderslukderm-sfinkterspier minder ferm en dít veroorsaak refluks. Nikotien stimuleer ook die produksie van maagsure."

9. Raak aktief

Navorsing dui daarop dat sooibrand minder voorkom by mense wat gereeld oefening kry. As jy swem of minstens een keer per week 30 minute lank draf, is jou kanse 50 persent minder om simptome te ontwikkel as wat 'n stoelpatat sal.

10. Wees nagslim

Bykans 75 persent van sooibrandlyers se simptome kom saans voor. Simptome is geneig om saans ernstiger te wees. Eet 'n ligte, vroeë aandete sodat jy nie op 'n vol maag gaan slaap nie, stel Bernard voor. En moenie slaaptyd peusel nie.

Vir ekstra verligting snags, lig die koppenent hoër deur houtblokke (sowat 15 cm hoog) onder die bedstyl te sit.

Ekstra kussings wat net jou kop oplig, verhoog inderwaarheid die kanse op refluks. - (Junie 2010)

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Heartburn Condition Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE