Share

6 bisarre slaapversteurings

Ons het almal al die storie gehoor van mense wat hulle geheime uitlap terwyl hulle in hulle slaap praat. Wel, wat van die man wat in sy slaap seks het? Daar bestaan ’n klomp regtig bisarre slaapversteurings. Kom ons kyk na ’n paar daarvan:

1. Sekssomnia

Baie mense raak aan die slaap na seks, maar daar is 'n paar wat ook gedurende seks slaap. Sekssomnia is 'n slaapversteuring wat die betrokke persoon, baie soos slaapwandel, noop tot seksuele aktiwiteit – deur óf seks met 'n bedmaat te inisieer óf te masturbeer. Sekssomnia is in 2003 geïdentifiseer en is sedertdien in Britse en Kanadese kriminele sake ter verdediging van beskuldigdes wat van seksuele aanranding aangekla is, aangehaal. Navorsers beskryf hierdie toestand as iets tussen 'n nat droom en slaapwandel.

2. Fatale Familiale Insomnia

Hierdie toestand gee nuwe betekenis aan die uitdrukking "doodmoeg". Fatale familiale insomnia (FFI) is 'n seldsame genetiese slaapversteuring disorder wat al hoe erger wordende slapeloosheid veroorsaak, wat uiteindelik tot die dood lei. Hierdie onvermoë om te slaap, lei tot dementia en uiters lae energievlakke. Uiteindelik verval die pasiënt in 'n toestand van fisieke en geestelike verswakking en raak vasgevang in 'n toestand tussen slaap en volle bewussyn. Party pasiënte verval in 'n koma en die dood tree tussen agt en 72 maande na die begin van FFI as gevolg van komplikasies soos infeksie in. Daar is geen bekende genesing vir FFI nie.

3. Slaapvrese

'n Geskree in die bed, en hier verwys ons nie na passievolle kreune nie, kan 'n teken van slaapvrese – ook bekend as nagvrese – wees. Nagvrese is nie dieselfde as nagmerries nie – gedurende 'n episode van nagvrese skree en gil die persoon, sit regop in die bed en spook dikwels wild rond. Die persoon se oë is wyd oop en hulle het 'n intense uitdrukking van vrees. Daar is ook fisiologiese simptome soos hartkloppings, sweet en swaar asemhaling en in sommige gevalle spring die persoon uit die bed en hardloop rond in die huis. In hierdie toestand reageer die lyer nie op stemme nie en is dit moeilik om hulle wakker te kry. As hulle eers wakker is, is hulle deurmekaar en onthou niks van wat gebeur het nie.

4. Narkolepsie

In films sien 'n mens dikwels narkolepsielyers wat onverwags omval en in 'n diepe slaap verval. Narkolepsie word beskryf as uitermatige vaakheid, en iemand wat daaraan ly, het gewoonlik nie beheer oor slaap en wakkerheid nie en kry partykeer "slaapaanvalle" wat kan toeslaan wanneer terwyl hulle eet, stap of bestuur. Narkolepsie sluit ook eienskappe van droom terwyl hulle wakker is in. Narkolepsielyers voel dikwels verfris ná kort periodes van slaap, maar voel twee of drie uur later weer vaak. Daar is tans nog geen raad vir narkolepsie nie, maar dit kan met behulp van 'n slaap-spesialis beheer word. 

5. Slaapverlamming

Slaapverlamming lei tot 'n onvermoë om jou liggaam te beweeg óf wanneer jy aan die slaap raak, óf wanneer jy wakker word. Gewoonlik laat die brein jou spiere ontspan sodat hulle buite aksie kan wees wanneer jy slaap, maar in die geval van slaapverlamming gebeur dit terwyl jy nog wakker is. Gedurende 'n episode van slaapverlamming mag dit vir jou onmoontlik wees om te praat of om enige deel van jou liggaam te beweeg. Die lyer is ten volle bewus van wat om hom of haar gebeur, maar kan net nie beweeg of enigiets doen nie. 'n Episode van slaapverlamming kan van 'n paar sekondes tot 'n paar minute duur.

6. REM slaap-gedragsversteuring

Mense met rapid eye movement (REM) slaap-gedragsversteuring beeld hulle dramatiese en/of gewelddadige drome gedurende REM slaap fisies uit. REM slaap behels gewoonlik 'n toestand van slaapverlamming, maar mense wat aan hierdie toestand ly, beweeg hulle liggaam of ledemate terwyl hulle droom. REM slaap-gedragsversteuring kom gewoonlik by mans van 50 en ouer voor, maar die toestand kan ook by vroue en jonger mense voorkom. Dit verskil van slaapwandel en slaapvrese in dié sin dat die slapende persoon maklik wakker gemaak kan word en die drome duidelik kan onthou. - (Wilma Stassen/Health24, November 2010)

Bronne: Health24, American Academy of Sleep Medicine, WebMD

Enige vrae? Vra Health24 se Slaapdeskundige.

Lees verder:
Slaapdeskundiges antwoord vrae oor slaap

Slaapsentrum

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE