Share

5 eienaardige mediese praktyke

As jy werklik siek is en jy't al byna elke mediese oplossing op aarde probeer, mag jy dalk desperaat genoeg wees om 'n paar baie eienaardige mediese praktyke of behandelings te oorweeg.

Alhoewel die mediese wetenskap al 'n lang pad geloop het, word wonderkure en behandelings nog steeds deur baie mense gebruik. Hier is vyf van die eienaardigste mediese behandelings wat al ooit toegepas is.

Bloedsuier-terapie

Bloedsuiers is deur die geskiedenis gebruik om 'n menigte toestande te behandel. Medisinale bloedsuiers is aanvanklik gebruik om bloedlating uit te voer. Hulle word op 'n wond aangewend waar hulle bloed opsuig en weefselswelling verminder, wat heling bevorder. Hulle skei ook 'n stollingsteenmiddel af, wat die vorming van bloedklonte teenwerk.

In 2004 het die FDA die gebruik van bloedsuiers in moderne medisyne goedgekeur. Bloedsuiers word vandag meestal in plastiese- en rekonstruktiewe chirurgie gebruik.

Kopglase

Die gebruik van kopglase (fire cupping) is waarskynlik 'n ou Chinese praktyk. Dit is aanvanklik gebruik om die gif uit slangbyte te verwyder.

Spesiaal-ontwerpte glase word verhit en dan op die liggaam geplaas, waar daar 'n vakuum geskep word en die vel in die glas ingesuig word. Die pasiënt se rug is agterna vol kringe. Pasiënte rapporteer dat die behandeling nie pyn veroorsaak nie en wanneer die glase verwyder word, dit soos 'n ligte geval van sonbrand voel.

Kopglase is 'n soort diep-weefsel massering en word vir ontspanning en stresontlading gebruik. Dit help ook glo vir toestande soos brongitis, asma, verkoues, spysverteringsprobleme en ginekologiese probleme.

Volgens die American Cancer Society is daar egter geen bewyse dat kopglase enige gesondheidsvoordele inhou nie.

Urineterapie

Die gebruik van urine vir medisinale doeleindes kan na die antieke Egiptiese, Chinese, Asteekse en Hindoe beskawings teruggevoer word. Dit behels die gebruik van 'n mens se eie urine, óf intern óf ekstern om wonde te heel of siektesimptome te behandel.

Volgens Healthonline.com is die terapie gebaseer op die geloof dat urine 'n neweproduk van bloedfiltrering is. Bloed wat vol voedingstowwe is, beweeg deur die lewer en gifstowwe word deur middel van soliede afval uitgeskei. Die gesuiwerde bloed beweeg dan na die niere, wat oortollige voedingstowwe uitskei. Urine bestaan uit urea wat swamdodende, antibakteriële en ativirale eienskappe het.

Urineterapie is blykbaar goed vir 'n hele aantal kwale soos veelvuldige sklerose, lupus, kanker,  rumatoïde artritis, hepatitis en eksema.

Die meeste van die navorsing oor urineterapie is anekdoties en die drink van urine word oor die algemeen nie deur die mediese gemeenskap aanvaar nie.

Malaria-terapie

Vóór die twintigste eeu was daar geen effektiewe behandeling vir sifilis nie. Die neuroloog Wagner-Juarreg het op die idee afgekom om pasiënte wat met sifilis besmet was met malaria-besmette bloed te behandel. Hy het geglo dat die hoë koors wat deur malaria veroorsaak word die liggaam van die sifilis sou bevry. Die pasiënt het dan agterna kinien gebruik om van altwee virusse ontslae te raak. Hierdie behandeling was algemeen in gebruik tot penisillien en ander behandelings vir seksueel oordraagbare siektes ontdek is.

Bloedlating

In vroeë tye is daar geglo dat om bloed te verloor goed vir 'n mens se gesondheid is. Bloedlating is gebruik om die liggaam van onsuiwerhede en oortollige vloeistof te bevry. Daar is geglo dat dit die balans van die liggaam herstel het, en in die 19de eeu was dit 'n baie gewilde behandeling vir siektetoestande. Die idee was dat sekere siektes deur 'n oormaat bloed veroorsaak is. Dokters het gevolglik 'n aar van 'n pasiënt oopgemaak en 'n seker hoeveelheid bloed laat uitloop.

In ons moderne tyd word hierdie praktyk oor die algemeen nie meer toegepas nie.

(Leandra Engelbrecht, Health24 , Desember 2010)

(Bronne: www.qualityhealth.com, www.healthline.com, naturaltherapyweb.com, http://bterfoundation.org, www.cardiologytoday.com, www.pbs.org)

Lees verder:
30 weird medical facts
Monstrous medieval medicines

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE