Share

20 wenke vir gesonde finansies

As jy snags wakkerlê en prakseer hoe jy hierdie maand al jou rekeninge gaan betaal én nog geld gaan oorhê vir petrol en kos, moet jy hierdie artikel lees. Insomnia en stres as gevolg van finansiële probleme is dikwels die oorsaak van ander gesondheid-verwante probleme.

As jy nie gesond is nie, is dit moeilik om voltyds te werk, wat natuurlik ook 'n negatiewe effek op jou finansies sal hê. Daarom is dit van die uiterste belang dat 'n mens aandag aan beide jou finansies én jou gesondheid gee.

Met die onlangse petrol- en elektrisiteit-verhogings voel almal op die oomblik finansieel 'n bietjie geknel, om die minste te sê.

Die res van die webwerf gaan oor jou fisiese gesondheid, maar hierdie artikel fokus spesifiek op finansiële gesondheid. Wat is dus 'n paar van die mees basiese dinge wat 'n mens kan doen om jou finansies op 'n gesonder grondslag te plaas?

  • Open jou eie rekening en gaan dit gereeld na. Moenie jou kop in die sand steek soos 'n volstruis nie – dit sal dinge net vererger. As daar 'n probleem opduik, is dit altyd beter om dit vroegtydig op te los.
  • Gebruik 'n kontant- of debietkaart liewer as 'n tjek omdat kaarte eenvoudig goedkoper is. Tjeks, om die waarheid te sê, is uiters duur én gevaarlik as hulle in die verkeerde hande beland.
  • Werk liewer volgens 'n begroting, as om eenvoudig te spandeer tot die geld op is. Dit klink miskien kinderagtig, maar vra 'n bietjie rond en kyk hoeveel mense glad nie begroot nie. 
  • As jy eers begin om geld te leen om ander skulde te betaal, is dit rede tot kommer. Jy moet jou uitgawes verminder of jou inkomste verhoog om uit hierdie penarie te kom. Probeer om uit te kom op wat jy het, en moenie geld uitgee om jou beter te laat voel nie. Dit sal nie help nie. 
  • Probeer om nooit huishoudelike items op krediet te koop nie – as jy eers rente begin betaal op dinge soos kruideniersware, is jy op 'n gevaarlike paadjie.
  • Koop dienste soos elektrisiteit, lugtyd vir jou selfoon en jou Telkom-lyn deur middel van voorafbetaalde koopbewyse. Só het jy baie meer beheer oor hoeveel jy op hierdie dinge uitgee.   
  • Gee jou kinders 'n vasgestelde bedrag sakgeld, eerder as dat hulle die hele tyd by jou neul om vir hulle goed te koop. Kinders kan hardnekkig en manipulerend wees en jou begroting heeltemal deurmekaarkrap.
  • Beperk die aantal rekeninge wat jy het. Die versoeking is altyd daar om geld uit te gee wat jy nie het nie, en waarvoor jy later ten duurste betaal. Koop nou, die lyding kom later!  
  • Maak seker jy het 'n noodfonds gelykstande aan een volle maand se salaris. Dit is duur om jou oortrokke fasiliteit te gebruik om byvoorbeeld loodgieters te betaal en nuwe bande te koop. En krisisse het altyd die gewoonte om drie dae voor betaaldag op te duik.
  • Leer om vir mense te sê jy is platsak wanneer jou geld op is. Baie mense maak skuld om saam met vriende aan duur aktiwiteite wat hulle nie kan bekostig nie, deel te neem. As jy dit een keer per jaar op 'n spesiale geleentheid doen, is dit nie die einde van die wêreld nie, maar nie elke maand nie. Om uit te gaan, is duur – aktiwiteite by die huis is regtig baie goedkoper.
  • Wanneer mense vir jou vra wat jy vir jou verjaardag of vir Kersfees wil hê, maak 'n lys van dinge wat jy werklik nodig het. Dit is baie beter om nuwe onderklere of 'n broodrooster te kry as nog ’n groen vaas wat saam met al jou ander nuttelose presente in die garage sal beland.
  • Koop liewer een keer per maand kruideniersware in grootmaat as om sporadies by kleiner en duurder winkels te koop.
  • Wanneer jy op iets afkom wat 'n goeie en bekostigbare geskenk sal wees, koop 'n paar vir die toekoms, as jy dit kan bekostig. Moet egter nie vir iemand 'n geskenk koop wat jy eintlik self wil hê nie – jy gaan dit hou, en dan moet jy 'n ander geskenk gaan koop.   
  • Probeer om 'n bietjie meer as die minimum bedrag op uitstaande rekeninge te betaal. Dit sal die rente wat jy betaal, afbring.  
  • Leer om te onderskei tussen die dinge wat jy wil hê en die dinge wat jy werklik nodig het. Dit is moeilik, baie moeilik!  
  • Maak seker jy het genoegsame mediese dekking. Daar is niks wat jou finansies so 'n doodskoot kan gee soos 'n skielike, ernstige siekte nie. 'n Hospitaalplan is gewoonlik voldoende, veral as jy nog jonk is.
  • Daar is niks verkeerd daarmee om gebruikte toestelle of motors te koop nie. Dit kos nie veel om dit deur 'n deskundige te laat nagaan nie, en jy kan só duisende bespaar. Dit maak baie meer sin as om dinge af te betaal.  
  • As jy nie in staat is om jou skuldafbetalings na te kom nie, praat met jou krediteure – moenie net stilbly nie; dit sal as onwilligheid om te betaal geïnterpreteer word. Maak reëlings om elke  maand 'n sekere minimum te betaal, óf deur middel van 'n aftrekorder óf vooruit gedateerde tjeks. As hierdie betalings gereeld gedoen word, mag daar geen stappe teen jou geneem word nie.
  • 'n Gereelde goeie multivitamientablet kan duur doktersbesoeke verhoed. 
  • Gaan ten minste een keer per maand uit vir 'n pizza of 'n fliek – jy werk hard vir jou geld en moet 'n bietjie meer daaruit kry as om net die verband te betaal en jou motor vol petrol te maak.

(Susan Erasmus, Health24, hersien April 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE