Share

20 hoofpyn-feite

Die meeste van ons kry op een of ander stadium hoofpyn. Dit kan gebeur as gevolg van stres, dieet of babalaas. Wat ook al die oorsaak, hoofpyn is 'n las. Hoeveel van die volgende feite ken jy?

Hoofpyn in die VSA. Migraine statistieke in Amerika is skokkend: 28 miljoen Amerikaners ly aan migraine. Uit dié groep kry 4,5 miljoen meer as een aanval per maand. 'n Kwart van die vroulike bevolking word geraak, en ongeveer agt uit elke honderd mans.

Reaktiewe hoofpyn. 'n Mens kan hoofpyn kry as jy te gereeld te veel hoofpynmedikasie neem. Dit word 'reaktiewe' hoofpyn genoem en sal nie ophou voordat die persoon die medikasie heeltemal staak nie. 'n Oordosis pyndoders kan jou lewer en/of niere beskadig.

Hoofpyn in antieke tye. Die ou Grieke en Romeine het pepermenttee gebruik om hul hoofpyne te behandel. Dit was egter nie die enigste ding wat hulle gebruik het  nie – hulle het ook aftreksels van kamille, roosmaryn en laventel gedrink. Dan het hulle ook rou aartappel, kool en uie aan hulle koppe gesmeer om die pyn te verlig.

Migraines oorerflik. Die meeste kinders wat  migraines kry, het ten minste één naverwante familielid wat ook daaraan ly. As die kind een ouer het wat aan migraine ly, het hy of sy 'n 50% kans om dit ook te kry, en as altwee ouers daaraan ly, styg die waarskynlikheid tot 75%.

Hoofpyn meestal skadeloos. Alhoewel die meeste hoofpyne ongemaklik en partykeer uitmergelend is, is dit meestal nie gevaarlik nie. Die meeste hoofpyne kan met oor-die-toonbank medikasie behandel word, of deur 'n rukkie in 'n donker kamer te lê.

Vas kan hoofpyn veroorsaak. Vas kan hoofpyn veroorsaak, veral omdat die persoon wat vas waarskynlik lae bloedsuiker sal ontwikkel.

Baie dinge kan hoofpyn veroorsaak. Baie faktore soos stres, besoedeling, geraas, rook, flitsende ligte en sekere tipes kos kan hoofpyn veroorsaak.

Hormone en migraine. Migraine het te doen met hormonale skommelinge. Baie vroue kry gedurende die paar dae voor hulle maandstonde migraine. Party vroue kry ook tydens hulle maandstonde migraine.

Die pil, hoofpyn en beroerte-risiko. Vroue wat rook en wat estrogeen-gebaseerde geboortebeperking gebruik, het 'n hoër beroerte-risiko as vroue wat nie rook nie en nie 'n estrogeen-gebaseerde pil gebruik nie. Wanneer vroue oorskakel na 'n lae-estrogeen pil, kry hulle ook minder gereeld hoofpyn.

Lewenstyl die oplossing. Lewenstyl speel 'n belangrike rol om hoofpyn te voorkom. As jy nie rook of te veel drink nie, genoeg slaap kry, 'n gesonde lewenstyl handhaaf en daagliks oefening kry, is dit onwaarskynlik dat jy gereeld hoofpyn sal kry, tensy jy 'n mediese probleem het.

Spanningshoofpyn is die mees algemeen. Spanningshoofpyn kan enigiemand affekteer en is die mees algemene vorm van hoofpyn. Spanningshoofpyn is dikwels die resultaat van nek- en skouerspiere wat kramp en kan soms dae lank aanhou.

Mans kry troshoofpyn. Meer mans as vroue ly aan troshoofpyn. Hierdie is intense hoofpyne wat dikwels dieselfde tyd elke dag of elke paar dae voorkom. Troshoofpyn is uitmergelend, maar duur gewoonlik nie langer as 90 minute nie. Mense wat kwaai rook of drink, ly dikwels aan troshoofpyn. Meer vroue as mans ly aan migraine.

Babalaas-bedruktheid. Babalaas-hoofpyn word hoofsaaklik deur asetaldehied veroorsaak, wat die glukose-molekules in die brein vervang. Mense met babalaas ly ook aan ontwatering en lae bloedsuiker. Dié met babalaas moet groot hoeveelhede water of tee met suiker drink – nie koeldrank of koffie nie omdat dit verdere dehidrasie kan veroorsaak.

Bloedvate die sondebok. Hoofpyn-seine kom nie van die brein nie, anders as wat die meeste mense dink. Hierdie pyn-seine word veroorsaak deur interaksie tussen die bloedvate, die brein en omliggende senuwees. Die pyn word veroorsaak deur geaktiveerde senuwees om die skedel, bloedvate en kopspiere.

'n Gat in die kop. Lank gelede is hoofpyn dikwels as die werk van bose geeste beskou en rituele is uitgevoer om hulle uit te dryf. In die Neolitiese Tyd is sirkelvormige dele van die skedel verwyder om dié geeste te laat ontsnap. Snaaks genoeg het mense skynbaar hierdie operasies oorleef, aangesien skedels gevind is met gate wat gedeeltelik weer toegegroei het.

Roomys-hoofpyne geen mite. Roomys-hoofpyne is geen wolhaarstorie nie – jy kan werklik hoofpyn kry as jy hierdie bevrore lekkerny eet. Dit word veroorsaak deur bloedvat-spasmas as gevolg van die intense koue van die roomys. Die spasmas onderbreek die bloedvloei en lei daartoe dat die bloedvate opswel.

Bly weg van hierdie snellers. Daar is sekere voedselsoorte wat migraine by sekere mense kan veroorsaak. Dit sluit in koffie, sjokolade, geel kaas en ander suiwelprodukte, rooivleis, neute, groente-ekstrak, voedsel met baie mononatriumglutamaat en alkohol. Hierdie is die mees algemene snellers, maar individuele migraine-lyers mag op 'n verskeidenheid verskillende voedselsoorte of vloeistowwe reageer.

Die mees algemene pyn. Hoofpyn is die mees algemene oorsaak van pyn wat daartoe lei dat pasiënte hul huisdokter besoek. Die meeste mense pas egter selfbehandeling toe met oor-die-toonbank middels en baie migraine-lyers bly ongediagnoseer. Wanneer mense die aanbevole dosis gereeld oorskry, kan analgesiese middels, om die waarheid te sê, die oorsaak van hoofpyn wees.

Kinders kry ook hoofpyn. Selfs kinders kry hoofpyn; party selfs onder die ouderdom van tien. Voor puberteit is hoofpyn meer algemeen by seuns. Volwasse vroue kry vier keer meer hoofpyn as mans en dit word aan hormonale fluktuering toegeskryf. By mans én vroue verminder die gereeldheid en felheid van hoofpyn namate hulle ouer word.

Selfs filosowe kry hoofpyn. Die filosoof Friedrich Nietzsche het die grootste gedeelte van sy lewe aan uitmergelende migraines gely – dikwels tot twee of drie keer per week.  Moderne dokters meen die kanse is goed dat hy 'n breingewas gehad het wat hierdie migraines veroorsaak het, wat ook sy vroeë dood, op 56, verklaar.

(Bronne: Health24 se Headache Centre; The People's Almanac. Redigeerders: David Wallechinsky en Irving Wallace; wikipedia.com.)

Vra die Headache Expert 'n vraag.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE