Share

20 eise wat mediese skemas nie sal betaal nie

Jy mag gelukkig wees en aan 'n skema behoort wat min of meer alles dek. As dit so is, laat tog die res van ons weet, sodat ons ook kan aansluit!  

Daar is egter sekere dinge waarvoor omtrent geen skema sal betaal nie. Volgens wet hoef hulle dit nie te doen nie, en om finansieel op hulle voete te bly, moet die meeste skemas êrens halt roep.   

Daar is volgens die Voorgeskrewe Minimum Voordele (VMV) sekere dinge waarvoor mediese skemas móét betaal, maar daar is baie ander dinge wat aan die oordeel van die skema oorgelaat word.

Oor die algemeen kan 'n mens mediese skemas met huisversekering vergelyk: as jou bestaande kombuismuur inmekaarsak, moet die versekering betaal om dit te vervang. As jy egter aanbou en die grootte van jou kombuis verdubbel, sal hulle nie betaal nie.

Onthou ook dat skemas sub-limiete het, wat beteken dat selfs al stem hulle in om vir iets soos rehabilitasie te betaal, die voordele nie eindeloos sal wees nie. Elke skema het ook sy eie regulasies, so maak net seker wat die fyner bepalings in jou geval sê. Dit is die één geval waar jy regtig die halfuur moet afstaan om die fynskrif te lees. 

As jy lid van 'n mediese skema is, of dit oorweeg om by een aan te sluit, is dit goed dat jy hierdie artikel lees. Die onderstaande is egter geensins 'n volledige lys nie.

Moenie onverhoeds betrap word deur jou skema se moontlike weiering om vir die volgende dinge te betaal nie:

  • Beserings opgedoen tydens deelname aan professionele en hoë-spoed wedstryde, waar mediese bystand beskikbaar is.
  • Behandeling vir vetsugtigheid – beide medies en chirurgies.
  • Enige kostes aangegaan met die behandeling van onvrugbaarheid of vir voorbehoedmiddels.
  • Operasies, behandelings of prosedures vir kosmetiese doeleindes.
  • Enige behandeling by 'n diensverskaffer wat nie by die Mediese en Tandheelkundige Raad, die Verpleegkundige Raad of die Raad vir Chiropraktisyne, Homeopate en Geassosieerde Gesondheidsberoepe geregistreer is nie.
  • Na-ure konsultasiefooie, tensy dit 'n noodgeval is.
  • Sonbrille.
  • Eksperimentele behandeling of prosedures.
  • Ongeregistreerde medikasie.
  • 'n Telefoniese konsultasie met jou huisdokter.
  • Die kostes van afsprake wat deur lede gekanselleer word.
  • Ondersoeke wat vir versekerings-, visa- of indiensnemingsdoeleindes vereis word.
  • Die kostes verbonde aan die skenking van 'n orgaan.
  • Hipnoterapie (party skemas sal betaal as dit deur ’n sielkundige gedoen word)
  • Heffings wat deur diensverskaffers opgelê word.
  • Prosedures in hospitale as die fonds se saakbestuurder dit onnodig ag.
  • Behandeling wat by enige oortreding van die wet betrokke is.
  • Behandeling wat verband hou met 'n selfopgelegde besering of siekte.
  • Reiskoste aangegaan vir mediese doeleindes, tensy dit in 'n ambulans is.  
  • Vakansies vir hersteldoeleindes.

Moet egter nie die fout maak om te dink dat die skema vir alles anders sal betaal nie. Maar as jy in die middel van die nag wakker word met 'n akute blindedermontsteking, of as jy jou been breek omdat jy by die werk by die trappe afgeval het, wees gerus dat jy gedek sal wees.

- (Susan Erasmus, Health24, Februarie 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE