Share

13 gevaar-sones vir vroue

Onverskillige bestuurders, kriminele, fratsgolwe... ons weet almal waar die gevare skuil. Maar, omdat daar meer beserings as gevolg van ongelukke as deur aggressie plaasvind, is dit miskien wys om bewus te wees van die gevaarlikste tye en plekke.  

Bestuur met babas. 'n Skreeuende kleinding in die motor kan baie maklik die bestuurder se aandag aftrek. 'n Sekonde se gebrek aan konsentrasie op die pad kan tot 'n ongeluk lei – al wat dit verg is dat die motor voor jou skielik rem trap, en jy's in hom vas. As jou kind nie gelukkig is nie, stop liewer, indien moontlik, en los dan die probleem op, of hou net aan ry as jy nie te ver van jou bestemming is nie.  

Wanneer jy jou huis verlaat of binnegaan. As jou hande vol pakkies of lêers van die werk is, of jy in jou sak rondkrap vir jou sleutels, is jy 'n ideale teiken vir aanvallers of kapers. Moet nooit by jou voordeur uitloop sonder om eers te kyk wie in die straat is nie. Dieselfde geld wanneer jy tuiskom; moenie ingaan as daar vreemdelinge in die straat is nie – ry liewer eers om die blok. As daar enigiets is wat verdag lyk, moenie ingaan nie.

Die kombuis. Daar is warm oppervlakke, kokende vloeistowwe en skerp messe. Geen wonder die kombuis is 'n probleemarea nie. Wees op 'n konstante grondslag bewus van die gevaar – ook wat jou kinders betref.

Verslawing. Te veel alkohol, dwelms, sigarette en selfs dobbel kan verreikende gevolge vir jou geestelike, fisieke en finansiële toestand inhou. Onthou, sterk mense soek hulp – sluit by 'n ondersteuningsgroep aan, of gaan na 'n berader as jy hulp nodig het. 

Wanneer jy goed in jou motor laai. Baie mense is al aangeval terwyl hulle besig was om kruideniersware of ander dinge in hul motor te laai. Gedurende daardie paar oomblikke is jou aandag nie by jou beursie en sleutels nie. Wees versigtig dat jou aandag nie afgetrek word nie.

Onveilige seks. Dit is absoluut ongelooflik hoeveel mense nog steeds seks sonder 'n kondoom beoefen. Dit is seker nou maar 'n realiteit van die lewe dat mense dikwels seks het met mense wat hulle nie ken nie, maar die gebruik van 'n kondoom sal die oordrag van MIV, asook vele ander seksueel-oordraagbare siektes verhinder. Wees op jou hoede en bly aan die lewe!  

Verkeersligte. Wanneer jy tussen ander motors by 'n verkeerskruising vasgevang is, is jy 'n maklike teiken vir toeslaan-en-gryp insidente. Hou al jou waardevolle besittings buite sig en maak seker jou vensters en deure is gesluit. 

Kaggels en verwarmers. Baie kinders en volwassenes is al deur een of altwee van die bogenoemde erg verbrand. Hout wat uit 'n oop vuurherd val, is 'n werklike gevaar, net soos direkte hitte van staaf-verwarmers. Skerms voor vuurmaakplekke is noodsaaklik. Waaierverwarmers of olieverwarmers is heelwat minder gevaarlik as party van die ander tipes. 

Die badkamer. Die badkamer kan 'n baie gladde plek wees en as jy druipnat is, is dit maklik om op die badkamervloer te gly. So kan 'n mens maklik 'n been breek. 'n Glywerende badmatjie is 'n noodsaaklikheid in elke huis.

Geld trek. Wanneer jy ook al geld trek, óf by 'n OTM, óf binne 'n bank, wees op jou hoede vir mense wat jou mag dophou. Baie mense wat al beroof is, se aandag is óf by 'n OTM afgetrek, óf hulle is huis toe gevolg nadat hulle 'n groot bedrag geld getrek het. Varieer jou roetine en moet nooit eers donker OTM's in verlate areas oorweeg nie – selfs al is daar iemand by jou. Gebruik liewer dié wat binne winkels geleë is. Moet nooit met vreemdelinge in die tou praat nie. Wees selfs by veilige OTM's op jou hoede vir mense wat kaarte omruil.

Teistering in verhoudings. Baie meer vroue word deur hulle mans aangerand of doodgemaak as deur vreemdelinge. As jou metgesel jou fisies teister, vat die pad terwyl jy nog kan. Onthou, dis niks wat jy doen, wat dit veroorsaak nie – hy het heel moontlik 'n geskiedenis van gewelddadige verhoudings wat begin het lank voor jy op die toneel verskyn het. Moenie na verskonings luister nie. Wanneer dit die eerste keer gebeur, pak jou tasse en gee pad.

Bedkassies. Vuurwapens moet nie in bedkassies gehou word, waar kinders dit in die hande kan kry nie. Medikasie moet ook nie daar gehou word nie, aangesien dit maklik bereikbaar is.

Ongesonde eetgewoontes. Om van wegneemetes, slaptjips en sjokolades te leef is 'n groot versoeking wanneer jy 'n baie veeleisende werk het en daar min tyd is om te kook. Dit kan tot 'n menigte gesondheidsprobleme lei, soos diabetes, hartsiektes en vetsugtigheid. Goeie beplanning is nodig in hierdie verband. Om in grootmaat te kook en dan kleiner porsies te vries, is ’n moontlike oplossing.

(Susan Erasmus, Health24, hersien, Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE