Share

10 wenke vir troeteldiereienaars

Net soos om ’n ouer te wees, is daar vaardighede wat jy nodig het om ’n suksesvolle troeteldiereienaar te wees. Daar is baie meer betrokke as om net na die troeteldierwinkel te gaan en ’n hondjie of katjie te gaan haal.

Deesdae maak dierewelsynsorganisasies dubbel seker dat jy in staat is om ’n verantwoordelike troeteldiereienaar te wees, voordat hulle ’n klein hondjie, katjie of ’n volgroeide dier aan jou oorhandig. So, voordat jy vir Kietsie of Wagter onder jou vlerk neem, kyk eers na die volgende wenke van Cybervet forum gebruikers:

  • Maak seker jy kan ’n troeteldier bekostig
    As jy eers ’n troeteldier het, moet jy in staat wees om vir die inspuitings wat jou diertjie nodig gaan hê, te betaal. Jy moet ook weet dat goeie troeteldierkos nie goedkoop is nie en dat veeartsrekeninge, wanneer jou dier siek is, baie duur kan wees. Tensy jy kan bekostig om ordentlik vir ’n troeteldier te sorg, is dit beter om sonder een klaar te kom.  
     
  • Wees konsekwent wat jou reëls betref
    Dit is veral belangrik vir honde. Wispelturigheid maak honde senuweeagtig en onseker. As jy geen honde op jou meubels wil hê nie, moet jy dit nooit toelaat nie. As jy dit nou en dan laat gebeur, maak dit die dier onseker. En terwyl ons oor dié onderwerp praat - verskillende mense in die huis moet nie verskillende reëls vir troeteldiere hê nie. Besluit saam op ’n reël en hou daarby.  
     
  • Laat jou dier “regmaak”
    Dit is nou tensy jy die hond of kat vir teeldoeleindes wil gebruik. Daar is min dinge wat soveel bydra tot die probleem van rondloper- of ongewenste diere as die onbeheersde aanwas van troeteldiere. Om die een werpsel na die ander voort te bring, plaas ook baie druk op jou troeteldier.   
  • Neem jou hond vir wandelinge
    Honde het oefening nodig en word stuurs en onbeheerbaar wanneer hulle op werwe of in tuine vasgekluister word. Dit geld veral vir honde wat baie oefening nodig het, soos Border Kolliehonde. Hulle het oop spasies nodig. As jy nie bereid is om pligsgetrou jou hond vir sy daaglikse wandeling of draffie te neem nie, moet jy liewer nie een aanhou nie.  
     
  • Voer jou diere op dieselfde tyd elke dag
    Troeteldiere is ook gewoontediere en het die sekuriteit van gereelde en voorspelbare voertye nodig. Dit is nie ’n goeie idee om toe te laat dat diere onbeperkte toegang tot kos het nie - baie van hulle sal te veel vreet, veral as hulle verveeld of angstig voel. Sit die kos neer, los dit vir ’n halfuur en verwyder dit dan. Maak seker daar’s altyd vars water vir jou diere.  
     
  • Moet nooit jou diere slaan nie
    Diere voel seergemaak en verward hierdeur en dit los nie enige dissiplinêre probleme op nie. Miskien haal jy net jou opgekropte woede op ’n weerlose dier uit. Moet dit nie doen nie. Gewoonlik is jou stemtoon genoeg om jou misnoeë te kenne te gee. Beskerm ook jou troeteldiere teen jou kleingoed. Klein kindertjies kan diere erg seermaak, sonder om te besef wat hulle doen.  
     
  • Troeteldiere het mense nodig
    Katte kan nog klaarkom met heelwat tyd op hul eie, maar honde het baie geselskap nodig. Hulle is tropdiere en raak depressief as hulle die heeldag alleen moet wees. As jy voltyds werk, oorweeg dit om meer as een hond aan te hou, sodat hulle mekaar kan geselskap kan hou. Dit is belangrik om met jou diere te speel en dit te geniet. Dit is per slot van rekening die hoofrede hoekom jy ’n troeteldier aanhou.   
     
  • Kry ’n veearts wat jy kan vertrou
    As jou troeteldier siek word of seerkry, wil jy seker wees dat jou veearts sy of haar bes sal probeer. Die meeste troeteldiere hou nie daarvan om na die veearts toe te gaan nie, maar dit sal gou duidelik word of jou veearts van diere hou en of jou troeteldier van hom of haar hou. As jy met ’n reusagtige veeartsrekening gekonfronteer word, onthou dat veeartse dikwels nie omgee as jy hulle rekeninge stuksgewys afbetaal nie.  
     
  • Voorsien jou troeteldier van ’n ID-etiket
    Troeteldiere raak dikwels weg. Jy hoef net na die “verlore” afdeling in die geklassifiseerde deel van die koerante te kyk. As jou troeteldier ’n ID het, is jou kanse om hom terug te vind soveel groter.
     
  • Reël vir goeie sorg wanneer jy weggaan
    Tensy jy ’n huisoppasser of ’n troeteldier-oppasser het wat jy kan vertrou, of ’n goeie dierehotel wat aanbeveel is, moet jy liewer nie weggaan nie. Jou troeteldiere is jou verantwoordelikheid - veral wanneer jy met vakansie gaan.  

Vra Cybervet 'n vraag

Lees meer: Pet Focus Centre

 (Susan Erasmus, Health24, hersien Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE