Share

10 veiligheidswenke vir Guy Fawkes

Guy Fawkes word tradisioneel met ’n verskeidenheid vuurwerke en vonkelstokkies (sparklers) gevier. Vuurwerke is skitterend en skouspelagtig en mooi om na te kyk , maar nie heeltemal sonder gevaar nie. As vuurwerke nie korrek hanteer word nie, kan hulle brande en selfs ernstige beserings veroorsaak.

En ’n spesiale waarskuwing: baie troeteldiere word erg getraumatiseer deur vuurwerkvertonings en hardloop weg. Hou hulle dus binne toegesluit en ver weg van die aksie. 

En maak ook seker wat die munisipale regulasies oor vuurwerke is - in baie stedelike gebiede is dit onwettig om vuurwerke af te skiet. Jy mag dalk met die gereg te doen kry as jy dit op die verkeerde plek doen. Maak seker jy weet in watter areas vuurwerke toelaatbaar is, en hou by die reëls.

So, voordat jy daardie vuurpyl aansteek, lees eers die volgende veiligheidswenke.

  • Hou ’n emmer water byderhand, vir ingeval ’n vuurwerk hand uitruk.  
  • Maak seker daar is geen mense in die onmiddellike omgewing waar jy die vuurwerke afskiet nie.  
  • Vuurwerke moet net in ’n aangewese area, ver weg van huise en ander geboue, bome of motors afgeskiet word. Moet nooit vuurwerke op ’n grasperk aansteek nie, maar altyd op ’n gladde, plat oppervlak soos beton of ’n sypaadjie.  
  • As ’n vuurwerk nie werk wanneer jy dit aansteek nie, moenie weer probeer nie. Wag ten minste 15 minute voor jy ondersoek instel.  
  • Moet nooit toelaat dat kinders vuurwerke aanraak, hanteer of aansteek nie.  
  • Troeteldiereienaars moet spesiale voorsorgmaatreëls tref om hulle diere veilig te hou. Moenie diere na vuurwerkvertonings neem nie – sluit hulle liewer veilig binne toe. Tel oorblyfsels soos uitgebrande vonkelstokkies en ander skerp voorwerpe op, omdat sulke dinge jou troeteldier agterna kan seermaak. ’n Ligte kalmeermiddel kan ’n baie gespanne dier laat bedaar. Raadpleeg jou veearts hieroor.  
  • Vonkelstokkies kan net so gevaarlik wees. Steek hulle een op ’n slag aan en dra handskoene. Moet nooit tegelyk ’n baba en ’n vonkelstokkie vashou nie. Plaas uitgebrande vonkelstokkies, met die warm punt ondertoe, in ’n emmer water sodra hulle klaar gebrand het. Moenie vonkelstokkies by openbare geleenthede waar daar baie mense is, gebruik nie. Dit is nie veilig nie.   
  • Moet nooit vonkelstokkies aan kinders jonger as vyf gee nie – hulle verstaan nie dat dit gevaarlik kan wees nie. Hou altyd toesig oor kinders wat vonkelstokkies gebruik en maak seker hulle het handskoene aan. Dit is ook beter as kinders nie los klere met baie voue dra nie, omdat sulke klere makliker aan die brand kan slaan. Wys kinders hoe om vonkelstokkies met uitgestrekte arms weg van hulle liggame te hou. Leer hulle ook om nooit vonkelstokkies naby iemand anders rond te waai, of met een in die hand rond te hardloop nie.  
  • Doen die volgende in ’n noodgeval: koel die brand- of skroeiplek vir ten minste 10 minute met koue water af. As daar enige materiaal aan die vel vassit, sny dit rondom die brandplek af – moet dit nie aftrek nie. Moenie aan die brandplek vat of enige blase oopsteek nie. Bedek die brandplek met skoon, nie-donsagtige materiaal – kleefplastiek is ideaal – om infeksie te vermy. Indien iemand se klere aan die brand raak, bring die persoon tot stilstand, laat hulle plat op die grond lê en rol hulle in enige swaar materiaal soos ’n nat wolkombers toe. 

(Health24, hersien November 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE