Share

10 siektes wat jou moeg maak

Baie mense is moeg en weet nie hoekom nie. Hier is 10 siektes wat jou só kan laat voel.

By 20%-30% van mense wat moeg voel, is die oorsaak 'n soort siekte. As jy baie moeg is en dit net al hoe erger word, het jy moontlik iets onder lede. En as jy te swak voel om te gaan stap, werk toe te gaan, te bad of aan te trek, kan dit dalk ernstig wees.  

  1. Depressie en melancholie
    Een uit 10 mense ly op een of ander stadium aan depressie, en depressie is 'n algemene oorsaak van moegheid. 'n Wanbalans van neuro-oordragstowwe soos serotonien kan moegheid, apatie, 'n dowwe kop en hoofpyn veroorsaak.   
  2. Anemie
    Lae ystervlakke of onvoldoende rooibloedselle beteken dat die bloed heelwat minder suurstof vervoer, en as die brein, spiere en ander weefsels nie genoeg suurstof kry nie, sal jy moeg voel, veral as jy moet stap of enigiets anders doen wat fisiese inspanning vereis.
  3. Rumatiese artritis en ander konnektiewe weefsel siektes
    In hierdie siektes vorm die liggaam teenliggame teen gesonde weefsel wat skade veroorsaak. Die aanval op die immuunstelsel verlaag die liggaam se energievlakke. Spesifieke siektes sluit in lupus erythematosus en keratodermia (verharding van die vel).
  4. Skildklierprobleme
    Die skildklier skei hormone af wat die spoed van jou metabolisme bepaal. As jou skildklier-hormoonvlakke te laag is, sal jou metabolisme stadig wees. Jy is moeg en jou vel en hare is droog en vaal. Jy mag ook gewig aansit omdat jou liggaam te stadig kilojoules verbrand; jou voete mag swel en jou hartklop mag stadiger wees. Jy kan ook so uitgeput wees dat jy depressief raak. Tot 10% van vroue en 'n effens laer persentasie van mans ly aan skildklierprobleme.
  5. Diabetes en insulienweerstandigheid  
    Of jy aan tipe 1 diabetes (wanneer die liggaam geen insulien produseer nie, en insulien-inspuitings noodsaaklik is) of tipe 2 (wanneer die insulien al hoe oneffektiewer raak, bv. wanneer mense oorgewig is), kry jou selle nie genoeg energie om ordentlik te werk nie. Selfs ligte inspanning kan diabete uitgeput laat voel.
  6. Bloeddrukprobleme
    Beide hoë en lae bloeddruk kan moegheid veroorsaak. Party bloeddruktablette veroorsaak moegheid as 'n newe-effek. Moegheid is ook 'n belangrike simptoom van sommige nierprobleme soos nierversaking. Dit veroorsaak hoë bloeddruk en anemie wat jou moeg kan maak. Lae bloeddruk veroorsaak dikwels lighoofdigheid en apatie. 
  7. Siektes met koors en infeksie
    Die meeste infeksies laat jou swak en moeg voel, veral wanneer dit met koors gepaard gaan. As die siekte ook lewensbelangrike organe soos die longe, beenmurg of hartspier aantas, kan die moegheid selfs erger wees. Voorbeelde van sulke siektes is endokarditis, miokarditis, asimptomatiese longontsteking (veral by ouer mense), MIV (as gevolg van gewigsverlies, diarree, longinfeksies en anemie), tuberkulose en hepatitis. 
  8. Slaap-apnee en ander oor-, neus- en keelprobleme
    'n Chroniese verstopte neus (as gevolg van allergieë), sinusitis, vergrootte mangels en slaap-apnee kan slaap versteur en die suurstoftoevoer na die liggaam verminder. Op die ou end is jy permanent vaak, uitgeput en kort van draad. Slaap-apnee word veroorsaak deur 'n slap sagte verhemelte wat gedurende slaap ontspan en sodoende die lugweë blokkeer. Alhoewel jy wakker word en skuif wanneer die liggaam se koolstofdioksiedvlakke te hoog raak, is jy meestal onbewus daarvan. Dikwels is die enigste simptoom hiervan 'n harde gesnork gedurende diep slaap. Sommige mense word tot 30 keer per nag wakker. 
  9. Hartsiekte
    Moegheid mag die eerste teken wees van hartversaking, aritmie, bloedvatsiektes en hartaanval. Volgens navorsers by Harvard Universiteit kla 71% van vroue 'n maand voor 'n hartaanval en 43% gedurende 'n hartaanval oor moegheid. Die belangrikste simptoom van 'n hartaanval by diabetes is ernstige kortasem en moegheid, en nie pyn nie.
  10. Coeliakie is 'n chroniese wanabsorpsie-siekte wat deur gluten-intoleransie veroorsaak word. Gluten kom in koring en rog en tot 'n mindere mate in gort en hawerprodukte voor. Wanabsorbsie van veral B-vitamiene kan tot anemie en moegheid lei.

Simptome wat jy nie moet ignoreer nie
Party simptome, gekombineer met die skielike intrede van moegheid, kan ernstige siekte aandui. Die volgende simptome is rede tot kommer:

  • Borspyn, kortasem, duiseligheid, spierswakheid of selfmoordgedagtes. Dit mag onderskeidelik hartaanval, beroerte of 'n selfmoordpoging aandui. Gaan sien dadelik 'n dokter. Kortasem, veral wanneer jy gaan lê of gedurende oefening kan hartsiekte soos hartversaking, asook longsiektes soos emfiseem of asma aandui.
     
  • Skielike onverklaarbare gewigverlies kan 'n aanduiding van kanker, skildklierprobleme, diabetes of chroniese inflammasie wees.
     
  • Koors en nagsweet kan ernstige infeksies soos tuberkulose, MIV, Maltakoors of endokarditis aandui.
     
  • 'n Bleek of geel vel of geel oë kan simptome van anemie of hepatitis wees. 
     
  • Oormatige urinering kan diabetes, chroniese nierversaking of ander probleme aandui.
     
  • Ander simptome wat ook mediese aandag vereis is: dubbel- of wasige visie; geswolle kliere in die nek, die armholtes en die lieste; ernstige en aanhoudende maagpyn; 'n uitslag op die wange; bloeding onder die vel of 'n gevoellose vel; spierswakheid en balansprobleme.

(Health24, February 2009) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE