Share

10 feesgety-lokvalle

Die vakansie lê voor en Kersfees ook. Al wat jy wil doen is om te ontspan. Maar dis nie altyd so maklik nie – jy onthou mos die gesegde wat lui, "die lewe is dít wat gebeur wanneer jy besig is om ander planne te maak..."

Vir party mense behels om te ontspan 'n plekkie op 'n kampeerterrein 20km van die naaste beskawing. Of om in 'n klooster te gaan skuil tot die feesgety verby is. 

Vir die meeste mense is hierdie tyd egter heelwat meer sosiaal – óf by die huis, by familielede óf êrens langs die see. Om jou tydjie weg van die werk ten volle te geniet, probeer om die volgende feesgety-stressors te vermy.

Gaste vir Afrika. Jy het 'n groot huis, en oor Kersfees loop dit oor van al die gaste. In plaas daarvan dat jy vir vier mense sorg, is jy skielik die vermaaklikheidsorganiseerder, spysenier, konflikoplosser en skoonmaakster vir 12 mense. Stel liewer 'n diensrooster vir die kook en skoonmaak saam en moenie voel jy moet die plaaslike toergids wees nie – laat die gaste hulself vermaak.

Vreetsaam verkeer. Kos, kos, kos! Dit is die deurlopende tema van die vakansieseisoen. En hoekom nie? Jy is per slot van rekening met vakansie. Dit is alles goed en wel, maar moet net nie in hierdie gewoonte verval nie. Die meeste mense is aan die einde van die feesgety 'n hele paar kilo's swaarder as in November. So, moenie 'n feesgety-potjierol word nie.

Die drank vloei. Die kantoorpartytjie, vriende se huise, familiebraaivleise – dis alles plekke waar die drank gedurende die feesgety vrylik en vrolik vloei. En dikwels is dit ander mense wat daarvoor betaal. Drink gerus 'n paar biere as jy nie agterna gaan bestuur nie, maar moet dit nie oordryf nie. 'n Oormatige gedrink bevat sy eie straf, 'n bietjie soos daardie tweede porsie vuurwarm Indiese kerrie. As jy van besopenheid omval of een van die ander gaste beledig, kan jy seker wees jy gaan nie net met jou eie slegte bui te kampe hê nie.

Ek's so eensaam. Party mense wens dinge kon net 'n bietjie rustiger wees. Ander mense het egter 'n oormaat vrede en stilte en bid dat die foon tog net moet lui of droom van 'n horde mense op hulle drumpel. Die geheim is om 'n dinge vooraf te reël. Nooi 'n paar mense vir aandete, gaan saam met 'n vriend of vriendin fliek, of gaan span vir 'n paar dae êrens anders uit. Moenie wag tot die feesgety aanbreek voor jy iets aan jou leë sosiale kalender probeer doen nie. Skrik betyds wakker!

Kry oefening. Die meeste mense laat vaar hulle oefeningsprogramme gedurende die feesgety. Dit is die vinnigste manier om gewig aan te sit en depressie in die Nuwe Jaar tegemoet te gaan. Doen dinge wat jy nie gewoonlik doen nie. Gaan stap saam met jou familie, draf langs die strand, speel vlugbal.

Kredietkaartkrisis. Jy gee geld uit soos water. As dít is soos jy in die winkelsentrums met jou Kersfeesbonus en jou kredietkaart tekere gaan, kan jy duidelik nie al daardie verloklike Kersfees-advertensies weerstaan nie. Jy gaan in Januarie ordentlik platsak wees, en in Februarie, wanneer die kredietkaartrekeninge in jou posbus verskyn, gaan die depressie toeslaan. Die kern van die saak is dat jy waarskynlik vir R100 net so 'n lekker present as vir R200 of R400 kan koop. Jy moet net ordentlik beplan. Dis in elk geval die gedagte wat tel en nie hoeveel jy spandeer het nie.

Sonbrand-stres.Die son in die suidelike halfrond is kwaai – en velkanker is 'n groot faktor. Onthou ook dat sonskade oor die jare opbou. Om jouself gaar te brand of om met 'n seergebrande kind opgesaal te sit, is nie 'n lekker manier om Kersfees deur te bring nie. Praat met jou apteker en kry 'n hoë-beskermingsfaktor sonskerm voor jy strand toe gaan. En wanneer jy op die strand is, wees versigtig vir bloublasies of glasskerwe in die sand.

Vermy die skares. Moenie vertrap word nie. Koop jou geskenke in November en die meeste van jou kruideniersware vóór 15 Desember. Malende hordes kan uitputtend wees en alles behalwe die regte Kersfeesgees in jou gemoed laat ontbrand.

Dis nou of nooit. 'n Koorsagtige gejaag om op die nippertjie geskenke te koop is moordend – nie alleen kry jy nie wat jy soek nie, dit kos jou ook 'n fortuin. In plaas daarvan om duur en nuttelose presente te koop, kry liewer geskenkbewyse – dit is miskien onpersoonlik, maar dis ten minste bruikbaar.

Familiefees. Familie. Jy kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. En oor Kersfees besef jy dit terdeë. Familie-samekomste is selde goed vir 'n mens se selfbeeld. Herhaal net in jou binneste die mantra: "Binnekort is alles vir nog 'n jaar verby."

 (Susan Erasmus, Health24, hersien Desember 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE