Share

10 dinge wat mans doen wat vroue irriteer

Gister het die irriterende dinge wat vroue doen onder die soeklig of onder spervuur gekom, afhangende van hoe jy die saak sien. Vandag is dit die mans se beurt. So, wat is daardie dinge wat party mans doen wat hulle vroulike metgeselle laat voel asof hulle 'n beroerte wil kry?

Beskou jou rybewys as minderwaardig. Om een of ander rede dink mans jou bestuurderslisensie is nie heeltemal so geldig soos hulle s'n nie. Dikwels verkies hulle om die hele pad te bestuur – selfs al is dit 1,500km – liewer as om jou te vra om vir 'n uur of twee te bestuur. Die punt is dat vroue persentasiegewys by veel minder ongelukke as mans betrokke is – en enige versekeringsmaatskappy sal dit beaam.

Dink die huis raak vanself skoon. Dis die doring in elke vrou se vlees. Jammer vir die slegte nuus, maar nat, vuil onderklere staan nie van self van die badkamervloer af op nie, kos verskyn nie outomaties op die tafel of in die yskas nie, skoon, gestrykte klere klim nie vanself in die kas nie en die skottelgoed raak ook nie vanself oornag skoon nie. Daar is iemand wat al hierdie dinge doen. Wie dink hy kan dit wees? Is dit miskien die ander persoon in die huis wat ook elke dag van nege tot vyf werk? Sou dit nie lekker wees as hy elke nou en dan die skottelgoed kon was sonder om die Nobel Vredesprys daarvoor te verwag nie?

Jaloesie. Dit dryf vroue die harnas in as mans hulle soos verhoorafwagtende gevangenes behandel, wie se elke beweging dopgehou word. Wanneer mans dit doen, gaan dit oor hulle eie onsekerheid en vrees vir verwerping. Wanneer 'n man 'n vrou só behandel, en haar isoleer en van allerhande dinge beskuldig, wys hy sy vrees en nie sy liefde nie en hy dink boonop dit is sy reg om haar soos 'n besitting te behandel. Die meeste vroue vind sulke verhoudings uiters beperkend.

Moederverering. 'n Mens sou dink elke vrou het haar goeie en slegte eienskappe, maar volgens hom is sy ma die engel Gabriël se eie bloedfamilie. Jou vaardighede in die kombuis, huis, by sosiale geleenthede ens. kan eenvoudig net nie by dié van sy ma kers vashou nie. En enige kritiek wat jy oor hierdie wonderlike kreatuur mag uitspreek, laat hom daelank lyk asof die honde sy kos afgevat het.

Wen ten alle koste. Die lewe, volgens die man in jou lewe, is één lang kompetisie waar daar hy óf die wenner óf die verloorder is. Vroue neig om meer saam te werk en versoenend van aard te wees. Om kompeterend te wees, het beslis 'n plek in die lewe, maar nie wanneer hy met jou tien-jaar-oue niggies en nefies Ludo speel nie.

Die idee dat hulle uitgawes veroorloof is, en joune nie. Sy gholfklub-lidmaatskap is 'n noodsaaklikheid – meer noodsaaklik as tandepasta. Baie mans – gelukkig is daar uitsonderings – het geen idee wat basiese huishoudingsartikels kos nie. Deesdae is dit baie maklik om ’n duisend rand op onromantiese noodsaaklikhede soos koffie, toiletreiniger, hondekos en graanvlokkies uit te gee. Die koste van kruideniersware in Suid-Afrika het oor die afgelope jaar die hoogte in geskiet en dit is nie haar skuld nie. Sy gee nie geld op onnodige luukshede uit nie.

Liewer dood as om aanwysings te vra. Wat is hier eintlik die probleem? Moet 'n man elke pad op aarde ken, selfs al was hy nog nooit daar nie? En wat sal nou eintlik gebeur as hy stilhou en vir iemand vra, in plaas daarvan om 'n driekwartier in sirkels rond te ry? Spontane ontbranding? 'n Publieke teregstelling? Kastrasie sonder verdowing? Seker nie, maar die konsep is om een of ander rede net so afskrikwekkend. Byna so angswekkend as om dokter toe te gaan, al staan hy op die randjie van die graf.

Wil alles regmaak in plaas daarvan om net na jou te luister. Jy't 'n aaklige dag agter die rug – die tweeling het 'n loopmaag en die bediende het nie opgedaag nie, maar wél 'n woeste rekening van die Ontvanger van Inkomste. Al wat jy wil hê, is simpatie, 'n arm om jou skouers en 'n paar sneesdoekies – en wat kry jy? Voorstelle oor medikasie of oor hoe om die bediende in die pad te steek en die nommer van sy belastingkonsultant. Dit is nou wel gaaf van hom, maar dis nie eintlik wat jy wil hê nie. Jy wil 'n skouer hê om op te huil.

Skoonheid wat nooit vergaan. Mans wat heeltemal kaalkop is en met 'n bierboep wat 'n landwye kompetisie sou wen, aanvaar eenvoudig dat vroue hulle onweerstaanbaar vind en lê onbeskaamd by hulle aan. En dan het hulle die vermetelheid om kommentaar te lewer oor die ekstra drie kilogram wat hulle vrouens oor Kersfees aangesit het. Wat het geword van gelyke standaarde en alles wat daarmee gepaard gaan?

Word meer betaal vir dieselfde werk. Tegnies behoort dit nie te gebeur nie – ons het per slot van rekening die mees gevorderde Grondwet ter wêreld, of hoe? Maar statistieke vertel nog steeds die hartseer verhaal van vroue wat in swak betaalde, uitmergelende werke met lae beginsalarisse en nog laer glasplafonne vasgevang sit. En as 'n mens 'n bietjie rondvra, gebeur dit gereeld dat mans 'n hoër aanvangsalaris as vroue kry.

Maar, om alles te balanseer, is daar die drukkies wanneer jy dit die nodigste het, die duik in jou motor wat vinnig uitgesorteer word, die e-pos net om te sê hoe lief hy vir jou is en die liefdevolle manier hoe hy jou moeilike ma hanteer. - (Susan Erasmus, Health24)

Maak jou metgesel jou mal?

Vra vir CyberShrink 'n vraag.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE