Share

’n Dag in die lewe van ’n narkotiseur

accreditation

Ek’s in die teater, geskrop en gereed vir ’n dag tjokvol operasies. Dis 7:30. Die eerste pasiënt word ingestoot.

Ek en die chirurg praat kortliks oor die klein blaasoperasie wat gedoen gaan word. Daarna dien ek die narkosemiddel toe, ’n ononderbroke toediening wat die pasiënt onder verdowing hou. Die eerste snit word gedoen. Kom ons hoop als verloop glad.

Namate die tyd aanstap, verseker die aanhoudende gedempte seine van die monitors ons dat die pasiënt se lewensfunksies stabiel is. Alles is onder beheer en die chirurg vra my om die pasiënt stadiger te laat asemhaal sodat hy ’n foto kan neem van die gewas in sy urineleier. Ek dien die toepaslike middel toe en dan, sonder waarskuwing, verander alles.

My ergste nagmerrie

Die suurstof in die pasiënt se bloed val skielik van 98 tot 90 persent en sy bloeddruk wat elke twee minute outomaties gemonitor word van 130/80 tot 80/ 55. Dis sulke tyd. Iets uit my ergste nagmerrie. 

Terwyl hy spook om asem te haal, sien ek hoe ’n helderrooi uitslag vinnig oor sy borskas versprei . Ek weet dadelik dis ’n allergiese reaksie op die narkosemiddel – ’n buitengewoon ernstige skokreaksie bekend as ’n anafilaktiese skok. Vinnige ingryping is dringend noodsaaklik ek vra die res van die chirurgiese span om te help.  

Ons moet tot elke prys die pasiënt aan die lewe hou deur sy hart aan die klop te hou en seker te maak suurstof bereik sy brein. Die chirurg masseer sy hart deur sy borskas ritmies saam te druk, ek sorg dat hy suurstof deur ’n buis in sy lugweg af te voer sodat sy asemhaling meganies aangehelp kan word. Om sy gevaarlik lae bloeddrukvlak hoer te kry, spuit ek adrenalien en fenielefrien direk by sy are in. Dan bring ’n antihistamien en hidrokortisoon sy liggaam se allergiese reaksie tot bedaring.

Selfs met almal se hulp is dit nog nie seker hy sal bly leef nie. Hoe sal die pasiënt die terugslag te bowe kom? Hoewel die span daarin geslaag het om sy toestand onder beheer te kry, ly die man op die operasietafel ook aan ’n ernstige kroonslagaarsiekte. As sy hart dus op hierdie oomblik gaan staan, sal dit beslis ’n stryd wees om sy lewe te red. Die krisis is nie verby nie . . . nog nie.

’n Hewige allergiese reaksie

Dié keer is ons gelukkig en kort voor lank kan die pasiënt na die waakeenheid oorgeplaas word. Agterna bevestig ons ondersoeke en veltoetse my diagnose van ’n hewige allergiese reaksie.

Na so ’n dramatiese aanloop voel die heupvervanging wat daarop volg soos kinderspeletjies. Ek dien die epiduraal toe en die pasiënt se onderlyf word gevoelloos sodat die chirurg op die heup kan opereer. Dié pasiënt is iets in die sestig, met silwer hare teen sy slape en ontspanne lagplooitjies om sy roerlose, toe oë.

Daar is ’n gevaar dat die epiduraal die bloeddruk laat daal, want dit onderdruk dié deel van die senustelsel wat asemhaling en hartklop beheer. Daarom hou ek deurentyd ’n ogie op die bloeddruklesing.

Ek sal moontlik die pasiënt se bloeddruk met medikasie moet beheer en, indien nodig, ook middels moet inspuit om te keer dat die hart gaan staan. Die ander groot gevaar is bloedverlies. Die pasiënt kan tydens die operasie byna 2 liter bloed verloor wat ek sal moet vervang. Soos alle operasies vereis dié een absolute waaksaamheid.

’n Mate van bewustheid

Die prosedure duur byna twee uur, met kortwerkende narkosemiddels wat in die are invloei om die pasiënt verdoof te hou. Ons is daarop bedag dat pasiënte wat narkose kry dalk tydens die operasie ’n mate van bewustheid kan ervaar. Dit gebeur net as die vloei van die narkosemiddel afgesny word. As die narkosemasjien breek en die alarm nie afgaan nie, kan ’n mate van bewustheid insluip namate die uitwerking van die verdowing verminder. Maar omdat ons dié moontlike komplikasie deesdae al beter kan dophou, word dit nog onwaarskynliker dat so iets sal gebeur. En dis die narkotiseur se werk om dinge so te hou.

Teen die middag se kant is my volgende pasiënt ’n jong man in sy vroeë twintigerjare. Propofol, ’n bekende narkosemiddel, sus hom aan die slaap voor sy verstandtande getrek word en ek bring hom sonder haakplekke weer by sy bewussyn.

Hy maak sy oë oop en kyk vas in die gesig van die aantreklike verpleegkundige. “O hallo, jou pragtige ding . . .” sê hy met ’n glimlag. Die verpleegster bloos bloedrooi terwyl ek en die chirurg uitbars van die lag. Ons is nie verbaas nie. Soms is een van die newe-effekte van die soort narkose wat hy gekry het dat ’n mens ’n gevoel van geluksaligheid ervaar en ’n bietjie van jou inhibisies verloor.

Die laaste pasiënt vandag is ’n rolprentster wie se drinkgewoontes al die skinderblaaie gehaal het. Omdat alkohol in die bloedstroom die uitwerking van narkose laat afneem, moet ek hom ’n hoër dosis as gewoonlik gee voor hy wegraak. En ’n bietjie later, na die chirurg klaar is en ek die narkose staak, word hy vinniger wakker as wat jy kan sê “whisky”. Die alkohol werk natuurlik steeds die narkose tee. Nadat hy net ’n minuut of twee wakker is, sit hy regop, trek sy pypies uit en kondig aan: “Nou het ek rêrig ’n dop nodig!”

Nie maklike werk nie

Dit was ’n lang dag. Soos gewoonlik. Ek trek my teaterklere uit en stap na my spreekkamer om die dag se gevalle op te teken. Beelde van die oggend se noodgeval flits deur my gedagtes. Dis nie maklike werk nie, maar ek’s bly ek kan dit elke dag doen.

Wanneer jy presiese hoeveelhede middels toedien wat mense se bewussyn verander, is daar geen ruimte vir foute nie en geen plek vir te veel selfvertroue nie. Jy moet elke oomblik van elke operasie daar wees en reg vir aksie. En jy kan nooit as te nimmer die verantwoordelikheid van jou rol vryspring nie.

Narkose plaas die pasiënt se lewe in die hande van die narkotiseur. Dis die toppunt van “hanteer versigtig”.

Die gereedskapskissie

Narkose bestaan uit drie perfek gebalanseerde middels:

1. 'n Hipnotiese middel wat jou laat slaap.

2. 'n Pynstiller om die pyn te verdoof.

3. ’n Spierverslapper wat keer dat spiersametrekkings die chirurg se werk bemoeilik.

 

 Deur dr. Eric Bean

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE