Share

Slaappille: ‘n Spesifieke manier om gebruik te verminder

Slaappille – middels wat bensodiasepiene bevat soos Valium, Betapam. Serepax, Ativan, Xanor, Rohypnol, Dormicum, Dormonoct en vele ander - is ’n seën vir baie slapeloses en angstiges. Baie mense raak afhanklik van dié middels. Veral jonger mense behoort liefs daarsonder te probeer klaarkom, maar behoort dit nie oornag te staak nie. Hoe gemaak om dit reg te kry?

Slaap is ‘n wondersoete ding, en diegene met ‘n slaapprobleem wéét: die gesukkel om aan die slaap te raak, die wakkerskrik in die nag en dan die wakkerlê tot dit lig word. Later word slaaptye gevrees, en die nagte is ‘n donker spook.

Vir baie is slaapmiddels nie ‘n luukse nie, maar ‘n noodsaaklikheid.

Bensodiasepiene word aan mense voorgeskryf om angstigheid te verminder en om slaapprobleme te oorkom. Dit is sekerlik verkieslik om ’n pil te sluk en salig te slaap as om moeg en slapeloos deur dae en nagte se sloeg. Veral ouer mense het dikwels medikasie nodig om te slaap.

Sommige mense het mettertyd al groter dosisse nodig. Volgens dwelmvoorligters gebruik sommige jongmense tot 30 Rohypnol-tablette per dag.

Navorsing toon dat sommige middels wel veiliger is as ander wat die risiko vir fisieke afhanklikheid betref.

Mense wat sekere slaapmiddels gebruik, kan wel gespeen word. Dit moet egter nie oornag gebeur nie, maar volgens spesifieke wetenskaplike beginsels. Suid-Afrikaanse farmakoloog dr. John Straughan vertel in dié artikel vertel hoe.

Die werking van bensodiasepiene

Bensodiasepiene word hoofsaaklik voorgeskryf om angs te verminder, en as slaapmiddels, maar dit word ook gebruik as susmiddel voor ‘n operasie, vir die induksie van ligte narkose, in behandeling van alkohol-misbruik omdat dit die simptome van alkohol-ontrekking vererger en alkohol-gebruik afskrik, as bykomende teen-konvulsie behandeling in epileptiese aanvalle, en as spierverslapper. Veral diasepam help om akute spierspasmas weens spierbeserings, spastisiteit, distonie en kaakklem teen te werk.

Kort- of langwerkend?

Bensodiasepiene kan volgens die typerk wat hulle aktief in die liggaam is, in vier groepe verdeel word:

  • Ultra kortwerkende middels met ’n halfleeftyd van minder as ses uur (maw die helfte van die middel is binne ses uur uitgewerk) soos midazolam en triazolam. Die handelsname van die middels is onder meer Dormicum en Halcion. Di’e middels het die hoogste afhanklikheidsfaktor;
  • Kortwerkend (halfleeftyd 6 – 12 uur), soos lormetasepam, loprasolam, oksasepam en temasepam. Die handelsname van die middels is onder meer Serepax, Medopam, Axaline, Purata, Loramet, Noctamid, en Normison;
  • Mediumwerkend (halfleeftyd 12 – 24 uur) soos alprosolam, bromasepam en lorasepam. Die handelsname sluit middels in soos Ativan, Tran-qil, Xanor, Lexotan, Brazepam en Brozam;
  • Langwerkend (halfleeftyd langer as 24 uur) soos diasepam, flunitrasepam, klobasam, klonasapam, ketasolam, nitrasepam en prasepam. Urbanol, Solatran, Demetrin, Librium, Karmoplex, Rohypnol, Hypnor en Mogadon is bekende handelsname.

Feite oor bensodiasepiene

Bensodiasepiene is nie antidepressante nie. Bensodiasepiene behoort nie vir alledaagse angstighede voorgeskryf te word nie. Die laagste moontlike dosis moet voorgeskryf word indien die middels gebruik word, en vir die kortste tydperk moontlik.

Die ultrakortwerkende en kortwerkende middels is meer afghanklikheidsvormend as die langerwerkende middels en lewer meer onttrekkingsimptome op, selfs nadat dit slegs ’n week of twee gebruik is. Dokters moet onder geen omstandighede meer as een soort slaap- of susmiddel aan ’n pasiënt voorskryf nie.

Hoe hoër die voorgeskrewe dosis, hoe groter die risiko vir afhanklikheid. Sowat 40 tot 50 persent van pasiënte is ná ’n jaar se gebruik afhanklik van bensodiasepiene, volgens die SA Medicines Formulary.

Hoe om die onttrekkingsproses te hanteer

Die belangrikste is om nooit die gebruik van slaappille skielik te stop nie, veral nie dié wat kort- en mediumwerkend is nie, sê dr. John Straughan, Kaapstadse farmakoloog.

Die skielike onttrekking van bensodiasepiene, selfs by diegene wat dit periodiek vir selfs net ’n week of twee gebruik het, kan verskeie reaksies ontlok soos verwardheid, psigoses, hallusinasies, angsaanvalle, geheueverlies, angstigheid, hartkloppings, sweetaanvalle, naarheid, en selfs epileptiese aanvalle. Pasiënte met ’n risiko vir hartvatsiektes kan ook skielik hart- of asemhalingsprobleme ontwikkel.

Hoewel ’n klein persentasie pasiënte niks oorkom wanneer hulle skielik ophou om bensodiasepiene gebruik nie, is dit moeilik om te voorspel wie gaan ontrekkingsimptome ontwikkel en wie gaan dit vryspring.

Die beste maniere om bensodiasepiene te staak

Hoewel dokters verskeie maniere kan inspan om ’n pasiënt te help om bensodiasepiene te staak, soos met die hulp van fenobarbitoon, klonidien of karbamasepien, beveel farmakoloë aan dat die bensodiasepien-dosis daagliks bietjie-bietjie verminder word indien dit ’n langwerkende bensodiasepien is.

Indien die pasiënt ’n kort- of mediumwerkende bensodiasepien gebruik het, moet die dosis stadig daagliks verminder word, maar met die hulp van ’n langwerkende bensodiasepien soos diasepam, chlorasepaat of bensodiasepoksied.

Dit blyk die heel beste te wees om ’n spesifieke dosis diasepam (veral Valium) te begin gebruik (waarvan jy tweederdes in die aand drink en ’n derde soggens) saam met die slaappil wat die pasiënt aanvanklik gebruik het. Dan begin jy die oorspronklike slaappil stadig vanaf dag 2 te verminder, sodat jy binne vyf dae nie meer van die oorspronklike slaappil neem nie, en dan begin jy die diasepam stadig te verminder.

Laat jou dokter jou hierin bystaan want ’n dosis van elke soort slaappil is volgens ’n spesifieke tabel gelyk aan ’n spesifieke dosis diasepam, bv. 1 mg flunitrasepam (soos Rohyopnol of Hypnor) is gelyk aan 10 mg diasepam, 2 mg lorasepam is gelyk aan 10 mg diasepam, en 30 mg oksasepam is gelyk aan 10 mg diasepam.

Verminder dan geleidelik die dosis diasepam met ’n kwart per week.

Vir mense wat baie angstig is, kan ’n antidepressant wat ook ’n susmiddel is, saans baie help. Antidepressante wat aan hierdie vereistes voldoen, is onder meer amitriptilien.

Baie pasiënte vergeet dat die gebruik van alkohol tot verdere slaperigheid lei. Pasiënte wat slaapmiddel-gebruik wil staak, het sielkundige hulp en gerussteling nodig. Dokters beveel ontspanningsoefening, sportdeelname, stokperdjies soos tuinwerk, en stap aan om pasiënte te help om te leer ontspan.

Stillnox

Wat van middels soos Imovane en Stillnox. Dié middels word vir hul sederende uitwerking gebruik om slaap te induseer, en bind ook aan bensodiasepienreseptore.

Navorsers het vasgestel dat middels wat slaap induseer (bekend as hipnotika) aan ‘n groep reseptore in die brein bind bekend as die Gamma-aminobottersuur- (GABA-) reseptore. Dit is die reseptor waaraan die breinoordragstof GABA bind.

Verskeie klasse en subklasse GABA-reseptore is nou geïdentifiseer. Sommige van die GABA-reseptore speel ‘n groter rol in angswering, ander in slaap-indusering en ander in spierverslapping. Alle moderne hipnotika (wat bensodiasepiene soos Valium insluit, asook ander slaapmiddels), bind aan een of meer van die reseptore.

Dit blyk nou dat sommige hipnotika aan enige van die GABA-reseptore bind en ander aan slegs spesifieke GABA-reseptore bind. Dit blyk voorts dat van die middels wat slegs aan ‘n spesifieke reseptor bind, nie maklik die reseptor se vorm verander nie.

Dit blyk ook dat sommige middels wel maklik ‘n reseptorvorm verander. Laasgenoemde soort middels omskep dan die GABA-reseptor in die klas waaraan daardie middel die maklikste bind. Dit blyk dat mense wat gereeld en vir lang tye bensodiasepiene drink, se een subtipe reseptore al minder word, en ‘n ander subtipe al meer omdat die bensodiasepien dit verander.

Dit blyk voorts dat middels wat reseptore maklik verander, meer verslawend is – Halcion is ‘n tipiese voorbeeld. Die gevaar vir fisieke afhanklikheid is inderdaad kleiner indien ‘n pasiënt middels gebruik wat nie die reseptore so maklik verander nie - Stillnox blyk ‘n voorbeeld hiervan te wees.

Kontaknommers:

Die Medisyne-inligtingsentrum van die Universiteit van Stellenbosch en die Tygerberg Hospitaal by tel (021) 938-6084 of 931-6129, of die Medisyne-inligtingsentrum van die Universiteit van Kaapstad by tel (021) 406-6291. – Marí Hudson, health24.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE