Share

Puisies – hoe nou gemaak?

Dis juis in jou tienerjare, wanneer jy die minste met puisies wil sukkel, dat hulle kop uitsteek.
Deur ELISE-MARIE TANCRED en HEALTH24 vir Huisgenoot-POLS

Anders as wat baie mense dink, het puisies niks te make met hoeveel sjokolade, koekies, vetkosse, tamaties of enigiets soets of suurs wat jy eet nie. Dit het alles te doen met hormoonvlakke. In tienermeisies en -seuns word puisies regstreeks verbind met die styging in die vlak van manlike hormone.

By tienerseuns weet almal dat die vlak van manlike hormone styg as die seuns snor en baard begin kry en hul stem breek, maar by meisies styg die vlak van manlike hormone ongesiens omdat dit oorheers word deur die nog groter styging in die vlak van vroulike hormone.

As ’n mens dan en wan ’n puisietjie kry, is dit nie nodig om dit met honderde rome en pille te probeer wegtower nie, maar as puisies jou gesig begin ontsier en jou pla, is daar beslis raad.

Onthou, alle middels werk nie ewe goed vir almal nie. ’n Verandering is by sommige tieners al in die eerste maand sigbaar, maar vir ander kan dit tot agt weke duur voor die uitwerking van die behandeling gesien kan word.

Hier is ’n gids vir elke tiener oor hoe om jou vel te versorg en aknee hok te slaan:

STADIUM 1: Jy is net bekommerd, maar wil tog net nie puisies kry nie.

Was jou gesig twee maal per dag met ’n seep wat sagkens werk. As jy jou gesig meer dikwels was, kan dit jou vel irriteer en uitdroog. Vermy baie warm water, want dit kan aknee vererger.

Moenie afskilfermiddels, saamtrekmiddels en maskers gebruik tensy jou dokter dit voorgestel het nie, want dit kan ook die vel irriteer en aknee erger maak.

Moenie aan jou vel druk, vryf of krap nie. As jy puisies uitdruk, kan dit tot erger aknee lei.

Ontspan. Stres veroorsaak nie aknee nie, maar kan dit vererger.

STADIUM 2: Jy kry dan en wan ’n klein puisie of probleme met swartkoppies.

Soek ’n salf wat bensoïel-peroksied, alfa-hidroksiesuur of salisielsuur bevat. Maak seker dat jy nie ’n olierige of vetterige room of salf gebruik nie, en ook nie salwe en rome wat alkohol of allerlei geurmiddels bevat nie.

Dermatoloë beveel aan dat tieners Cetaphil gebruik om hul gesig mee te was.

STADIUM 3: Jy sukkel met puisies maar dis darem nie te erg nie en dis nie ontsteek nie.

Salisielsuur- of bensoïel-peroksied 5% (Panoxyl) -room saans is ’n goeie ding. ’n Dermatoloog sal moontlik ’n room wat tretinoïen (Retin A, retinoïeksuur), ’n vitamien A-derivaat, of adapalien (Differin) bevat voorskryf, of albei.

Retin A en Panoxyl kan albei velirritasie en branderige rooi vel veroorsaak en jou maklik laat rooi brand as jy in die son kom. As dit gebeur, moet jy net die room elke tweede aand aansmeer tot jou vel nie meer so rooi word nie.

Ander middels wat gebruik kan word, is tazaroteen en plaaslike antibiotika, maar ’n dermatoloog moet dit voorskryf.

STADIUM 4: Jy sukkel nogal met puisies wat ontsteek is en sommer boos lyk.

Jy kan die oor-die-toonbank-rome beproef, maar dit is beter as jy by ’n dermatoloog uitkom voor die puisies handuit ruk.

Hy sal moontlik vir jou ’n antibiotiese salf soos Eryderm voorskryf. Dit is selfs moontlik dat hy vir jou ’n antibiotikum soos tetrasiklien sal gee om te drink.

Dit is meestal ook nodig om, saam met die antibiotikum- kapsules, aan te hou met die tretinoïen-salf. (Die antibiotikum kan vroue meer vatbaar maak vir swaminfeksies, en moet ook nie deur swanger vroue geneem word nie aangesien dit die ongebore baba se tande kan geel maak.)

STADIUM 5: Jy sukkel met kwaai aknee.

Sake is nou baie erg. Jou aknee is diep, chronies ontsteekte siste. As jy nog nie by ’n dermatoloog uitgekom het nie, maak ’n plan, want daar is raad.

Die dermatoloog sal moontlik die middel isotretinoïen (Roaccutane) voorskryf. Dit het potensieel ernstige newe-effekte en die dokter sal jou bloed trek en jou lewerfunksies monitor terwyl jy dit gebruik.

Die middel moet beslis nie deur swanger vroue gebruik word nie omdat dit sleg kan wees vir die ongebore baba. Dit kan ook soms tot depressie lei, en ouers moet tieners wat dit gebruik goed dophou.

Die middel is egter baie doeltreffend en kan tussen 70 en 80 persent van kwaai aknee binne vyf maande laat opklaar.

Die anti-androgeniese kontraseptiewe pil bekend as Diane-35 kan baie tienermeisies of vroue help om hul aknee onder beheer te bring, maar dit het newe-effekte: ’n meisie kan makliker vetter word, meer emosioneel voel en pigmentasievlekke op haar gesig kry.

Dan is daar nog behandelingsmetodes soos chemiese skuurmetodes, laser en die verwydering van littekenweefsel.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE