Share

Maak jou ouers jou mal?

Dis Saterdagaand en al jou vriende is by ‘n deurnag strandpartytjie aan die einde van die eksamens, maar jy sit alleen en woedend in jou donker slaapkamer omdat jou ouers geweier het dat jy gaan. Julle het vreeslik op mekaar geskree en daar was baie trane en geklapte deure. Maar steeds geen partytjie nie.

Jy lê daar en is vas oortuig daarvan dat hulle die aakligste en mees onredelike ouers op aarde moet wees. En op hierdie oomblik voel dit definitief asof hulle is.

Is daar enigiets wat jy kan doen om die konfrontasies te verminder? En om hulle sover te kry om te luister na wat jy te sê het voor hulle baie definitief kopskud en voet neersit vir jou versoek?

Onthou dat ouers dikwels die wêreld as ‘n skrikkerige plek sien – en nie sonder rede nie. Koerante is vol van stories oor dwelms, tienerswangerskappe, verkragtings en ontvoerings. Ouers is bang dat een van hierdie goed met jou kan gebeur en daarom lyk hulle so dikwels na professionele pretbederwers.

Om te probeer verstaan hoe hulle voel, dink terug daaraan hoe jy gevoel het en wat jy gedink het toe jou kat of hond vir ‘n dag of twee weg was? Maal dit met vyf en jy sal ‘n idee kan vorm oor waarom jou ouers nie kan slaap tot jy in jou bed is nie. Daar is egter baie dinge wat jy kan doen wat op die ou end vir jou die lewe heelwat makliker kan maak.

Hanteer jou ouers op ‘n volwasse manier
Aanvaar dat hulle net mense is, wat ook hulle slegte buie en beperkte fondse het. Hulle kan ook, soos enige ander mens, insluitende jyself, by tye erg onredelik wees.

Probeer om oor die reëls te praat met jou ouers sonder dat julle aan die skree raak. As dit moeilik is, skryf vir hulle ‘n brief, waarin jy kalm jou punte uiteensit. Maak seker dat die brief nie ‘n dreigende of aanvallende toon het nie – dit sal jou nêrens kry nie. Onthou dat dreigemente ‘n teken van onvolwassenheid is.

Luister na wat hulle sê sonder om hulle te onderbreek. Jy kan dan dieselfde van hulle verwag. Som op wat hulle aan jou sê, byvoorbeeld, “So, die hoofredes hoekom julle nie wil hê ek moet na die partytjie gaan nie, is omdat daar geen toesig gaan wees nie en daar drank beskikbaar sal wees.” Op hierdie manier weet hulle jy het geluister, nie net gewag dat jy kan praat nie.

Kies jou tyd versigtig. Wanneer jou ma stokflou gespook van die werk of supermark af kom, is dit nie ‘n goeie tyd om te vra of jy ‘n nuwe paar jeans kan kry nie.

Gee goeie redes waarom jy iets wil hê of doen. “Almal het nuwe jeans” of “Karin se ma het gesê sy kan gaan” is nie goeie redes nie. Die eerste rede, omdat in die meeste gesinne, nuwe jeans vir jou sal beteken dat iemand anders sonder iets sal moet klaarkom en die tweede een sal moontlik jou ma laat voel dat sy met ander ma’s vergelyk word en dis nooit lekker nie.

Bewys aan hulle dat jy vertrou kan word. As jy belowe om tienuur in die aand by die huis te wees, maak seker dat jy daar is. Volgende keer sal hulle meer geneig wees om jou te laat gaan.

Bring jou vriende huis toe, sodat jou ouers hulle kan leer ken. Op daardie manier word hulle meer as blote name. As jou ouers van jou vriende hou, sal hulle meer geneig wees om jou saam met hulle te laat uitgaan.

Hou jou foon aangeskakel.As jy gelukkig genoeg is om ‘n selfoon of ‘pager’ te hê, sorg dat dit aangeskakel bly, sodat hulle jou kan kontak as hulle bekommerd raak. Dra altyd ‘n belkaart vir ‘n openbare telefoon by jou – jy weet nooit wanneer jy dit dalk kan nodig kry nie.

Wees bereid om te werk vir jou sakgeld. As jy die strykwerk gedoen het, die kar gewas het en die garagevloer gevee het, sal ouers waarskynlik meer positief reageer op jou versoek vir sakgeld of om iewers heen te gaan saam met jou vriende.

Moenie gil en skree nie.Onthou dat ‘n gegil en ‘n geskree niemand enigiets goeds in die sak bring nie. Jy voel dalk lus om regtig te laat waai en jy het moontlik rede daartoe, maar deur dit te doen verminder jy jou kanse ernstig om dit te kry waarvoor jy gevra het. Om dae lank rond te sluip met ‘n onderlip wat op die grond sleep, verhoog die algemene gevoelslading in die huis eerder as om dit te verlaag. Onthou, verset lok verset uit en ouers kan dikwels onder hierdie omstandighede voel hulle moet hulle man staan en ‘n punt maak.

Aanvaar dit wanneer jou ouers nee sê. Wees so aangenaam as moontlik daaroor, wat hulle heel moontlik heelwat skuldiger sal laat voel as wanneer jy soos ‘n erg oorstuurde rockster tekere gegaan het. So ‘n vertoning sal hulle in elk geval laat dink dat jy nie volwasse genoeg is om op jou eie belangrike besluite te neem nie.

Probeer jou eie geld verdien buite die huis, sodat jy ‘n sekere mate van onafhanklikheid kan handhaaf. Dis nie lekker as jy vir elke sent wat jy nodig het jou ouers in die oë moet kyk nie. Jou ouers sal jou daarvoor respekteer en mag dalk heelwat meer toegeeflik wees teenoor jou as hulle sien dat jy jou werk ordentlik doen.

Erken jou ouers se vrese. As hulle bang is jy gaan swanger raak, iemand swanger maak, HIV opdoen, dwelms gebruik, met die verkeerde persoon deurmekaar raak en met ‘n gebroke hart opeindig, sê hulle dat jy hulle vrese verstaan. Om vir hulle te sê hulle praat twak, gaan hulle net laat dink dat jy nie regtig die omvang van die gevare besef nie. Hulle sal jou dan nog selfs meer wil beskerm. Belowe hulle ook dat jy ‘n partytjie sal verlaat as dinge daar gebeur waarmee jy nie gemaklik voel nie.

Partymaal is ouers onredelik en is hulle reëls onvanpas. Om van ‘n sewentienjarige te verwag om die hele naweek by die huis te sit, is onredelik. Dit is partymaal moeilik vir ouers om te aanvaar dat hulle kinders groot word. En die gedagte is vir hulle vreesaanjaend. Praat met ‘n ander familielid of ‘n vriend van jou ouers as jy voel dat die reëls wat op hulle op jou toepas heeltemal onredelik is. As hulle ook so voel, kry hulle om namens jou met jou ouers te praat.

Bly weg van persoonlike aanvalle.As julle besig is om iets te bespreek, moenie persoonlike aanvalle loods of wilde stellings maak nie. Bly weg van dinge sê soos “Julle laat my nooit enigiets doen nie” of “Wat het ek gedoen om sulke ouers te verdien?” Jy sal hulle net onnodig vies maak en hulle sal geen toegewings maak as jy jou so gedra nie.

Wat as dinge net te erg raak?As dinge regtig ondraaglik is, begin planne maak om uit te trek na Matriek. Dit kan jy net doen as jy jou eie geld verdien, so om werk te soek en te kry is ‘n prioriteit. Die lewe is duur, soos wat jy gou sal uitvind as jy moet begin huur, elektrisiteit en kos betaal, maar partymaal is die vryheid (en verantwoordelikheid!) wat dit meebring, definitief die moeite werd.

(Susan Erasmus, Health24)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE