Share

Sonbruin sonder die risiko

Dis somer en jy wil jou kortste rokkies dra, met veterbandjies en lae halslyne. En natuurlik ook jou nuwe swembroek.


Jy wil been wys en ’n mooi bruin magie en gladde bruin rug.

Maar na die winter is jy muisvaal, jou arms en bene spierwit. Jy wil nie in die son gaan lê nie omdat jy maar te goed weet van die gevare van velkanker.

Sonbeddens veroorsaak velkanker

Daarom is sonbeddens ook vir jou taboe – want waar dit voorheen maar net ’n vermoede was, het
nuwe navorsing deur die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing in Frankryk dit nou sonder enige teëspraak bewys: Sonbeddens veroorsaak velkanker. Punt.

Die agentskap het sonbeddens trouens in die hoogste risiko-kategorie saam met sigarette en asbes geplaas, en bevind die gevaar om melanoom (’n dodelike velkanker) te kry neem met 75 persent toe as sonbeddens voor die ouderdom van 30 gebruik word.

In Engeland is streng wetgewing pas ingestel om salonne waar sonbeddens gebruik word te beheer en in Australië en sommige Amerikaanse state word kinders jonger as I8 jaar deur die wet verbied om sonbeddens te gebruik.

Maar wat as jy nie in die somer met spierwit bene of arms op straat wil verskyn nie?

“Die antwoord lê in ’n blikkie of ’n buisie –  die sogenaamde kitsverbruiningsprodukte,” sê dr. Dagmar Whitaker, ’n dermatoloog van Kaapstad.

Hoewel dit nie ’n natuurlike proses is nie, is Dagmar en ander dermatoloë dit eens dat kitsprodukte minder skadelik is as om in die son of op ’n sonbed te gaan lê.

Maar hoe kies jy die regte produk? Hier is raad vir ’n mooi sonbruin lyf.


1. Selfdoen-aanspuitmiddels


Hoe dit werk

Kitsverbruiningsprodukte bevat die aktiewe bestanddeel dihidroksie-asetoon (DHA) wat met die boonste lae van jou vel reageer en dit 'n brons kleur gee. DHA is 'n chemiese stof wat in natuurlike produkte soos beet en suikerriet voorkom en ’n chemiese reaksie op jou vel veroorsaak. Omdat die boonste laag van jou vel dood is, verloor jy daagliks selle wat jou sonbruin laat vervaag.

Koste: Jy hoef nie ’n fortuin uit te gee nie – daar is uitstekende produkte wat minder as R100 kos. Hulle bevat almal dieselfde bestanddeel en ’n goeie selfdoen-sonverbruiner van R50 kan net so goed wees as een wat R500 kos.

Voordele: ’n Aanspuitmiddel werk goed as jy groot dele van jou lyf soos jou bene, borste of sitvlak wil bruin maak. En omdat spuitkannetjies gewoonlik ’n vloeistof bevat, het hulle ’n effens hoër konsentrasie DHA. Dit beteken dat spuitkannetjies jou beste keuse is as jy ’n donkerder sonbruin verkies.

Nadeel: Aanspuitmiddels kan nogal mors, verai wanneer jy jou voete spuit. Om seker te maak dat jy nie jou matte vlek nie, werk liewer op ’n teëlvloer wat maklik is om skoon te maak. Spuitkannetjies is nie ’n goeie keuse vir jou gesig nie omdat dit moeilik is die hoeveelheid te beheer wat uitkom.


Topwenke

  • Moenie jou nek vergeet as jy jou gesig en jou lyf verbruin nie.

  • Was jou hande deeglik ná jy die verbruiner aangewend het. Sit 'n bietjie vogroom op jou handpalms, hou om die beurt jou gewrigte vas en beweeg jou hand afwaarts om van die sonbruinmiddel op jou arms na die agterkant van jou hande af te vryf. Dit sal jou hande mooi bruin maak sonder dat hulle tedonker of onnatuurlik lyk.
  • Gee jou vel minstens 10 minute om die kitsmiddel te absorbeer  en trek dan ou, lospassende, donker kiere aan en wag dat die kleur ontwikkel. As jy jou hele lyf wil bruin maak, doen dit liewer indie aand, maar gee die middel genoeg tyd om ordentlik in te trek voor jy gaan slaap.
  • As jy die volgende dag ’n donker streep of oneweredige kol ontdek, vryf daaroor met watte wat in naellakverwyderaar gedoop is. As dit ’n growwe deel  van jou lyf is soos jou elmboë of hakke, skuur met ’n puimsteen.

  • ’n Sonbruin lyk natuurliker as jou gesig effens ligter as jou lyf is. Gebruik slegs 'n klein hoeveelheid sonbruinmiddel op jou gesig sodat jy nie soos die Orosmannetjie lyk wanneer jy wakker word nie. Jy kan altyd later nog van die middel aanwend om jou kleur donkerder te maak.


2. Selfdoenrome


Hoe dit werk

Rome werk net soos spuite. Die aktiewe bestanddeel is egter ietwat verdun sodat jou kleur effens ligter sal wees.

Koste: Tussen R60 en R500.

Voordele: Rome en soortgelyke middels word nie so vinnig deur die vel geabsorbeer nie, dus kan jy met die aanwending seker maak dat jy nie stukkies oorgeslaan het nie.

Nadeel: Party rome maak jou nie so donkerbruin soos aanspuitmiddels nie.


Topwenke

  • Bevogtig jou gesig en lyf deeglik voor jy kitsverbruiner aanwend. Jou vel is gladder en die room kan egaliger aangesmeer word.

  • Doen ’n paar afskilferings omtrent ’n week voor jy beplan om ’n kitsverbruiner aan te wend.

  • Moenie jaag nie en wend die room egalig aan. As jy ongeduldig raak, kan dit ’n gemors veroorsaak. Die beste is om 'n vriendin byderhand te hê wat jou kan help om die room op jou rug en aan die agterkant van jou nek en bene te smeer. Wag sowat 10 minute voor jy jou klereaantrek sodat die room kan intrek.
  • Kies ’n getinte room soos Clinique se verbruiner. So kan jy sien hoeveel jy aanwend en watter plekke jy oorgeslaan het.

Wees gewaarsku! Moenie dink jy’s veilig in die son as jy sonverbruiner aan het nie. Dit sal nie jou vel beskerm tensy dit ’n beskermingsfaktor van ten minste 15 bevat nie.


3. Onder die hande van ’n kenner

Hoe dit werk

Tegnici spuit 'n verbruiningsmiddel met spesiale spuitmasjiene oral op jou lyf aan sodat jy ’n gladde, egalige bruin kleur kry.

Koste: Tussen R200 en R400.

Voordele:  ’n Spa-behandeling sluit 'n konsultasie, ’n afskilfering van jou hele lyf en ’n aanspuitbehandeling wat sowat 10 minute duur. Die kleur kan tot sewe dae hou en word spesiaal by jou velkleur aangepas.

Nadeel: Professionele verbruining kos meer as die goedkoper reekse selfdoenspuite en -rome.

Waar kry ’n mens ’n goeie salon? Besoek www.selftan.co.za om te sien watter spa’s en verbruiningsalonne daar in jou omgewing is.


Topwenke

Deskundiges stem saam: Dis 'n goeie plan om ’n maand voor jou afspraak die salon te bel en jou behandeling met hulle te bespreek.

  • Vra watter artikels jy kan saambring,  soos doekies om grimering te verwyder en onderarmmiddels. Onthou om nie sweetweerders te gebruik voor jy na die salon toe gaan nie, dit sal die produk beïnvloed.

  • Doen navraag oor die koste en of dit ’n volledige afskilfering voor die behandeling insluit  — die meeste salonne doen dit, maar nie almal nie.

  • Sê vir hulle as jy enige kitsverbruiningsroom of-sproei op jou vel het; dit kan bepaal wanneer jy vir behandeling kan gaan.

  • Vra oor hulle produkte. Party salonne gebruik produkte wat meer natuurlike bestanddele bevat as ander.

  • Laat die tegnikus weet indien jy swanger is. Party sproeimiddels word deur die bloedstroom opgeneem en kan skadelik wees.

  • Volg jou sonbruintegnikus se raad noukeurig sodat jou sonbruin so lank moontlik kan hou. Dit behoort ’n week lank op sy heel donkerste te wees en dan geleidelik oor die daaropvolgende twee tot drie weke te verbleik.

  • Verf voor die tyd jou naels en toonnaels om te voorkom dat dit vlek.

  • Moenie op die dag van jou professionele sproei-verbruining jou beenhare skeer nie omdat dit tot oop porieë kan lei. Die verbruiningsoplossing hoop daarin op en dit kan klein, bruin kolletjies veroorsaak.

  • Neem los, donker klere saam om agterna aan te trek.

  • Moet vir ’n paar uur ná  ’n professionele verbruining geen oefening doen nie aangesien sweet die absorberingsproses kan beïnvloed. Moet ook vir minstens agt uur agterna nie bad, stort of swem nie.

  • Wend gereeld vogroom aan om te voorkom dat die buitenste vellaag te vinnig afskilfer.

  • Vertraag die verbleikingsproses deur die volgende te vermy: stortjelswat AHA (’n byvoegsel wat die vel versterk) bevat, haarverwyderingswas en lang, warm baddens. Moet ook nie in soutwaterpoele of die see swem nie.
  • As die verbruining begin verbleik, kan jou vel kolle maak. Raak dan vinniger van die verbruiner ontslae deur jou vel elke dag te bevogtig en een keer elke twee dae 'n afskilfermiddel te gebruik.


Sonbruin in ’n kapsule

Benewens aansmeer en aanspuitmiddelsis daar ook kapsules wat lou van binne bruin word.

Hoe dit werk: Die aktiewe bestanddeel in kitsverbruiningsprodukte wat jy drink, is kantaksatien. 'n Mens kry die pille net op doktersvoorskrif. Dit stimuleer die melanosietselle in jou liggaam wat melanien vervaardig. Melanien bepaal die kleur van jou vel.

Nadele: Dr. Willie Visser, 'n senior dermatologie-spesialis by die Universiteit Stellenbosch sefakulteit gesondheidswetenskappe, waarsku dat dié produkte skade aan die lewer of niere kan aanrig. In Amerika het navorsing getoon dat dit ook nadelig is vir die spysverteringstelsel. Daarom moet verbruikers nooit aanbevole dosis oor skry nie.

Die produkte kan ook die hare, naels en wit van die oë geel laat verkleur

"En dis glad nie geskik vir kinders nie," sê Willie.


Deur Stephanie Nieuwoudt en Kim van Reizig

 

 

 

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE