Share

So bly Michelle Botes jonk

accreditation
“Stres kan ons almal vang. Ek dink ál raad daarteen is om dinge ’n slag anders te probeer doen. Gaan uit jou kop uit en in jou hart in.”


Sy tuur stip van agter ’n elegante Gucci-sonbril na jou terwyl sy gesels. Intimiderend. Sy is immers die vrou wat ’n dekade lank die superfeeks Cherel de Villiers in die sepie Isidingo gespeel het.

Baie liefde om te deel

Maar deesdae Wys Michelle Botes wel ’n sagter, liefdevoller kant in die karakter lngrid Jordaan van die M-Net-sepie Binnelanders. Ook wanneer sy sommer dadelik wegval met lofsange oor haar twee kinders, Daniel (16) en Cara (20), word die aktrise wat kykers so lank as kil ervaar het voor jou oë iemand met baie liefde om te deel. “Ek maak nie tyd om ma te wees nie; al die ander goed in my besige lewe moet inpas by my rol as ma,” vertel sy. “Dis die belangrikste ding – om daar te wees vir jou kinders; lief te wees vir hulle. Ek het byvoorbeeld nog nooit ’n rol aanvaar wat my vir ’n lang tyd van die huis sou wegneem nie. Maar terselfdertyd probeer ek my kinders ook hul vryheid gun, om die balans te behou.”

Balans. Dit, kom jy gou agter, is die 48-jarige Michelle se wenresep vir ’n skoonheid wat klaarblyklik vergeet het om met die jare tred te hou. Om van ’n geitjie na ’n sagter, emosionele rol te spring, om te werk en by haar kinders te wees, om te woeker en te ontspan. Maar hoe maklik is dit vir ’n sepie- en advertensie-aktrise, ma en openbare figuur?

Sy vroetel met ’n rooi lipstif?e terwyl sy gesels – duidelik iemand vir wie dit al tweede natuur is om altyd bedrywig te wees.

“Ek’s onder die teken van die weegskaal gebore, en dis vir my natuurlik om heen en weer oor te hel om balans in my lewe te probeer vind. Ja, ek is soms besonder besig, maar dan laat ek myself weer toe om na die ander kant toe oor te leun en te probeer ontspan. Maar dis ook moeilik, want jy kan nie sommer besluit jy sal, sê, Donderdag oor ’n week om 14:00 vir ’n uur ontspan nie.”

‘Gaan uit jou kop uit en in jou hart in’                                                                                                                               

En ja, erken sy, die stres vang haar soms, nes enigiemand anders. As dit gebeur, is haar oplossing om eenvoudig daarvan te vergeet en die lewe te geniet. “Stres kan ons almal vang. Ek dink ál raad daarteen is om dinge ’n slag anders te probeer doen. Hou op om alles te ontleed en lééf net. Gaan uit jou kop uit en in jou hart in.”

Haar kuur vir stres is om wilde, waaghalsige dinge saam met haar kinders aan te pak – dinge wat jy sommer net doen sonder om te dink, dinge waarin jy handeviervoet spring, gou, voor jou moed jou begeef.

Hulle is gereeld saam in en op die water vir alles van ski tot witwaterroei of doodgewoon swem, en sy en Daniel het selfs al gaan valskermspring. Michelle het vrou-alleen die bloutes in geseil, terwyl Daniel moes tandem spring. “Dit was stunning, heerlik. Ek was glad nie bekommerd nie – ek was banger vir Daniel se onthalwe as oor myself.” Saam met Cara dans sy weer graag. “Sommer enige plek – by die huis, as ek uitgaan, maar verkieslik by die strand om ’n vuur.”

Nog ’n skoonheidsgeheim, verklap sy, is “water, water, water. Ek is mal oor water, vir binne en buite. Ek leef water. Drink genoeg daarvan, maar doen ook dinge daarin – swem, stoombad, ski, staan onder ’n waterval, roei, enigiets.”

Sy en die kinders probeer gereeld in die natuur kom. “Ons was nog altyd lief vir die buitelewe. Ons her saam gerollerskaats en ?etsgery toe die kinders jonger was, en nou is dit vir ons lekker om saam in die natuur te gaan stap of watersport te doen. Die natuur trek ons nader aan mekaar, dis waar ons die graagste saam tyd deurbring.”

'n Kans op gehaltetyd

En as hulle binne moet bly, kook hulle graag saam aandete – ’n kans op gehaltetyd noudat die kinders weer albei in die huis woon. Cara studeer by die rolprentskool Afda in Johannesburg nadat sy ná  skool twee jaar in Londen was. En haar ma is in die sewende hemel daaroor. “O, dis heerlik om haar terug te hê,” sê sy met oorgawe.


Dit herinner haar sommer aan haar volgende geheim: straal liefde uit, vergewe en vergeet. Sy en haar eksman, die akteur Ian Roberts, het dit saam gaan vier toe Cara uit Londen terugkom. Elf jaar na hul egskeiding is hulle vandag goeie vriende.

“Om aan die buitekant mooi te lyk, moet ’n mens lief wees vir ander en hulle kan vergewe – daar moet niks negatiefs wees waaraan jy vashou nie,” sê Michelle.

Die sonbril bly op, en die oë kan nie verraai of daar steeds iets pynliks in herinneringe aan die verlede skuil nie. Maar dan erken sy: “ ’n Mens kan later die mooi in enigiets raaksien, selfs ’n egskeiding. Dit breek jou hart, maar dit is juis dit wat jou hart weer oopmaak vir iets nuuts.

“Dit was moeilik om vriende te bly na ons egskeiding, maar ek is so bly ons kon dit regkry: kwaaivriende wees is tog so sewentigs. Ek’s gek oor hierdie nuwe ten- dens om uitgebreide gesinne te hé. Dis wonderlik dat mense nie meer so eng is nie; die wêreld het sy hart oopgemaak.”

Wat is haar raad oor die liefde dan? “Ha! Ek’s nie in ’n verhouding nie, Wat weet ek? Ek het wel deur die jare geleer dat wedersydse respek in ’n verhouding baie belangrik is. ’n Mens moet respek hê vir die ander persoon en hoe hulle groei, of dit nou voor of ná ’n egskeiding is.

“Ja, miskien was dit toe nie vir altyd nie, maar die persoon het tog steeds ’n belangrike rol in jou lewe gespeel. Jy het tog eens op ’n tyd iets in daardie mens gesien waarvan jy gehou het – dit het nie net verdwyn nie.”

Oopheid vir enigiets nuuts

En dis hoekom respek vir mekaar vir Michelle so belangrik is, want dit maak jou oop sodat jy makliker die mooi in iemand kan raaksien. En dit, verklap sy, is ook wat haar jonk hou – haar “oopheid” vir enigiets nuuts.

“ ’n Mens moet nooit ophou leer nie. Ek weet nie alles nie en dis vir my ongelooflik om elke dag soveel jongmense om my te hê, op die Binnelanders-stel en by die huis, want dit maak my meer oop vir ’n ander wêreld, vir nuwe ervarings en denkwyses.”

As ma het die sy van haar gehelp dat sy ’n hegte band met haar kinders snoer. “Dis belangrik om oop te wees met hulle, en ook oopkop. ’n Mens moet by jou kinders leer om hulle te kan leer. Die wonderlikste ding van ma-wees is om te kan sien hoe ’n ander wese groei en hul lewe van so naby te kan volg, om daarvan deel te kan wees en ook daaruit te leer.”

Sy probeer met jongmense sowel as ouer mense omgaan. “Daar’s soveel wat mooi is in mense van alle ouderdomme, van die ou tannies met hul krom rûe wat saam met my stoombad tot die jongmense wat alles nuut ervaar.”

Dit gaan alles maar weer oor balans . . .

Ook haar benadering tot gesond eet is een van balans. Sy vermy die skommelinge van eet-en-drink-tot-barstens-toe gevolg deur ’n eetstaking, maar sy glo tog daarin om af en toe goed te swig voor die versoeking van soetgoed. “Dis my hele uitgangspunt: ’n mens moet alles ervaar. Nes jy soms vrugte, bruinrys en groente moet eet, is sjokolade en cappuccino ook nodig. Die alledaagse moet in verhouding wees met die lekker. ’n Mens moet slaap, maar jy moet soms ook jol.”

'n Gekwalifiseerde aromaterapeut

En as sy of die kinders siek word? Balans, balans, balans . . . Michelle is ’n gekwalifiseerde aromaterapeut en het selfs jare gelede ’n ruk lank gepraktiseer. Deesdae glo sy in ’n kombinasie van homeopatie en Westerse medisyne. Sy het haar kinders van geboorte af net homeopaties versorg en toe Cara die eerste keer by die skool ’n pynpil sluk, het sy gehallusineer omdat dit so ’n skok vir haar liggaam was.

“Ek het hulle homeopaties gedokter omdat ek weet dit werk, maar ek glo die ideaal is ’n kombinasie van homeopatie en gewone medisyne. Daardie simbiose is belangrik.” Sy beduie na die ronde, gepoleerde magneet wat sy aan ’n halssnoer om haar nek dra. Dit moet skadelike bestraling in die atmosfeer neutraliseer, vertel sy, want sy glo nie daarin om jouself af te sonder om die negatiewe in die omgewing te vermy nie.

“Daar’s soveel wonderlike dinge in dié wêreld van ons, maar ongelukkig moet ons dit ook saam met die slegte neem as ons deel daarvan wil wees. Ek glo daar is maniere om die slegte teen te werk.”

Daarom mediteer sy en geniet sy dit om af en toe in stilte te leef om kalm te voel. “Ons het almal reeds al die geluk en gesondheid wat ons nodig het binne-in ons. ’n Mens moet net ’n manier kry om dit uit te bring.”

Ouderdom is relatief

Daardie geluk is haar enkele grootste geheim, sê sy, die een wapen wat haar hier kort voor 50 nog so jeugdig laat lyk.

“As ek terugkyk oor my lewe, het ek die oudste gelyk en gevoel toe ek ongelukkig was, en jonger toe ek gelukkig was. Ouderdom is relatief – ’n mens dink jouself oud of jonk.”

Sy weier om die samelewing se voorskriftevir die ouderdom te aanvaar. In haar wêreld bestaan daar nie iets soos jonk, middeljarig of oud nie. “Dis belaglik. As iemand na my as middeljarig verwys, skryfhulle mos basies vir my ’n ster?datum voor!”

Sy probeer om eerder net elke dekade as ’n nuwe ervaring te sien, sonder die negatiwiteit wat vroue soms oor ouderdom het. Geen ouderdom, sê sy, is beter of slegter as ’n vorige nie, dis net anders.

En watter nuwe ervarings gaan 50 vir haar bring? “Hmm . . . My grootste wens oor die volgende vyf jaar, vir myself en die wêreld, is vrede. O, en dan baie geld om te reis! Ek wil sommer enigiets sien, dalk Peru . . .

“Dis my enigste toekomsplan in dié stadium, al het ek nie nou tyd daarvoor nie. Maar ek sal ’n plan maak – dis die groot misterie van die lewe: Jy weet nie altyd hoe nie, maar wonderlike dinge gebeur.

“Dis nog ’n ding wat ek my kinders wil leer: Maak net jou oë toe en vertrou.”

(Delia du Toit, 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE