Share

Watersport hou jou fiks

Die lekkerte van Suid-Afrika is dat jy nie ’n gim nodig het om jou goedvoel-hormone aan die gang te skop nie. Met die vrye natuur op jou drumpel – en ’n wonderlike klimaat daarby – het jy toegang tot meer as genoeg maniere om tegelyk kalorieë te verbrand, jou lyf sterk te maak en jou gees op te kikker. Daarby is buitelug-aktiwiteite soveel pret dat dit nie eens na oefening voel nie.

Deur Jacques Marais

Dis dalk tyd om ’n slag vaste grond vir oseane, riviere en damme te verruil. Daar’s te kies en te keur: van lyfplankry in die branders by Ballito of sweefski in Blouberg se deinings tot waterskaats op ’n binnelandse dam of meer. Vir elke vlak van vaardigheid, fiksheid en waagmoed is daar ’n watersportsoort wat pas. Al wat jy nodig het, is die regte toe rusting en iemand om jou touwys te maak.

1. Sweefski

Sweefski (ook bekend as vlieërbranderry) is ’n taamlik nuwe soort watersport, maar het baie gou die verbeelding aangegryp.

Die speelterrein: Dolphin Bay naby Bloubergstrand is die perfekte plek as jy jou vlieër aan die Kaapse Dokter wil vashaak – trouens, wind-fanatici stroom uit alle uithoeke van die wêreld hierheen om hul ding teen die agtergrond van Tafelberg te doen. Beginners moet liewer na Langebaan koers kies (veral die paradysmooi Shark Bay), waar vlak water en standhoudende wind die ideale omgewing skep om jou vaardighede te slyp. Binnelanders kan hul sweeflus sowat 500 km van Johannesburg af by Sterkies (die Sterkfonteindam) naby Harrismith bevredig.

Die speelgoed: ’n Vierlynvlieër vorm die basis van jou toerusting en word met ’n stuurstang en ’n stel stywe lyne beheer. Die grootte van die vlieër hang af van die Windsterkte, jou gewig en jou vaardigheidsvlak, maar jy gaan ’n verskeidenheid groottes vir wisselende omstandighede nodig hé. Die planke is tweerigtingontwerpe met voetlusse en ’n riem – ook in dié geval bepaal die plank se vorm en grootte sy geskiktheid vir bepaalde watertoestande. Beginners se planke is gewoonlik groter vir meer stabiliteit. Les bes het jy veiligheidstoerusting nodig soos ’n harnas, valhelm, reddingsbaadjie en ’n neopreenduikpak (noodsaaklik in die yskoue Kaapse waters).

Jou lyf: Sweefski laat jou hele lyf hard werk en jy moet veral aandag skenk aan die spanning wat dié sport op die ligamente en spiergroepe in jou skouers en rug plaas. Die spiere wat veral daarby baat vind is jou agterste syspiere, die delta- en trapesiusspiere in jou skouers en die trisep- en bisepspiere in jou arms.

Die aksie: Hoewel sweefski ’n betreklik tegniese sport is, behoort ’n afrigter met ’n Internasionale Sweefski-organisasie (IKO-) kwalifikasie jou binne drie of vier opleidingsessies te laat sweef. Dis verreweg die beste manier om met die sport te begin, want toerusting word voorsien en jy leer watter planke, harnasse en vlieërs die beste vir jou werk. Soos alle adrenaliensportsoorte is sweefski inherent gevaarlik en jy moet dus liefs dat ’n kenner jou leer. Dit gaan nie net voorkom dat jy jou (en onskuldige toeskouers) beseer nie, dit gaan ook die gevaar van ernstige skade aan jou toerusting beperk.

2. Lyfplankry

Jy kan staan of jy kan lê, maar jy kan nie albei doen nie. (Vir lyfplank-groentjies: Jy staan op ’n gewone branderplank en lê plat op jou maag op ’n lyfplank.) Branderplankryers het jare lank op lyfplankryers neergesien, maar deesdae maak lyfplankryers groot naam in ’n sport wat al meer agting afdwing.

Die speelterrein: Lyfplankryers beoefen hul sport in die riwwe en branders aan ons kus en kan buisbranders dikwels beter bemeester as wat die brander plankgarde dit kan regkry. Gewilde plekke wat jou tot die uiterste beproef sluit in Kommetjie by Kaapstad, Elandsbaai aan die Weskus, Bayview by Hermanus Bloubergstrand, Kalkbaai en Cave Rock langs die Bluff by Durban Umhlanga Rocks net anderkant Durban, Hobiestrand by Port Elizabeth en Port Alfred aan die Sonskynkus.

Die speelgoed: Aanvanklik het jy net ’n plank en ’n paar paddavoete nodig. Sodra jy weet dis die sport vir jou kan jy meer gesofistikeerde toerusting aanskaf. Wat jy koop, sal afhang van faktore soos grootte, die watertemperatuur en die soort branders wat jy wil aandurf. Jy kan kies tussen gekraalde (beaded) en uitgedrukte (extruded) kerne of ’n kombinasie van die twee; hoor by ’n goeie branderrywinkel wat die beste opsie vir jou is. Jou plank is met ’n riem aan jou arm vas en die paddavoete help jou om teen optimale spoed in die brander in te versnel. Paddavoetsokkies en ’n goeie duikpak sal jou warm hou.

Jou lyf: Soepelheid is die sleutel tot lyfplankry en party bewegings gaan jou spiere en senings tot die uiterste beproef. Daarom is dit baie belangrik om so soepel as moontlik te word deur strekoefeninge vir jou gewrigte en spiere te doen. Jou heup- dy- en bobeenspiere, skouers en rug is veral belangrik en jy moet altyd behoorlik opwarm voor jy die see aandurf.

Die aksie: Jy lê op jou plank en roer uit na die branders. Jou paddavoete en arms stuur jou deur die water. As Jy eers daar is, wag jy vir die regte brander en versnel in die brander in net voor dit breek. Die idee is om teen die gesig van die brander af te kerf, in die rigting waarin die brander beweeg, terwyl jy bolmakiesie slaan, tol en ander toertjies uithaal. As jy ’n grommet is, soos lyfplank-groentjies genoem word, moet jy maar eers jou stryd teen klein brandertjies voer tot jy jou tegniek verfyn het.

3. Waterplankry

’n Waterplank (wakeboard) is soos ’n waterski, maar jou voete pas albei op een breë ski pleks van twee smalles. Die sport het sy oorsprong in ’n branderplank wat agter ’n motorboot aangesleep is, maar deesdae vergelyk dit goed met meer gesogte sportsoorte soos branderplankry, waterski en sneeuplankry.

Die speelterrein: Gauteng het van die beste plekke vir waterplankry, soos Base 3 in Midrand en die Riviera-Watersportklub naby Vereeniging. In die Wes-Kaap geniet die Misverstand- en Fisantekraaldam hoe aansien onder adrenaliensport-geesdriftiges. As jy in KwaZulu-Natal is, besoek gerus die uitstekende Boardalign-water plankkamp naby Port Edward.

Die speelgoed: As jy reeds die boot en die sleeptouwerk het, sal jy steeds ’n groot klomp geld aan jou waterplank en jou stewels moet bestee. Die vorm van die plank en die vinkonfigurasie bepaal hoe vaardig jy moet wees. Produkte soos Hyperlite, Liquid Force en O’Brien is baie gewild. Verder kan jy in ’n helm, duikpak en planksak belê.

Jou lyf: Omdat soepelheid, beweeglikheid en krag nodig is vir waterplankry is dit ’n lekker en doeltreffende manier om jou liggaamsbou en jou reflekse te verfyn. Jou spiere moet ingeoefen wees en oefeninge Wat krag en uithouvermoë bou is dus belangrik. Tradisionele statiese en dinamiese strekoefeninge, geteikende gewigoefeninge en aërobiese oefening sal jou lyf én jou vertoning op die plank ’n hupstoot gee.

Die aksie: Waterplankry is eintlik ’n sport vir binnelandse adrenalienslawe wat nie dikwels by die see uitkom nie. In die verlede was duur bote ’n groot struikelblok, maar danksy kabelskistelsels kan Jan en San Alleman deesdae hieraan deelneem sonder dat dit hul sak soveel ruk. Dié stelsels behels dat jy jou aan die plank vasgespe (soos met ’n sneeuplank), styf vashou aan die sleeptou en wag vir die kabel-windas om te begin draai en jou oor die meer te laat skeer.

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE