Share

Vat jou tekkies die boendoes in

Is jy een van daardie drawwers wat gereed is om die betonoerwoud vir die buitelug te verruil? Vat die pad en verken die veld met roetedraf.
Teks en foto's deur JACQUES MARAIS vir Huisgenoot-POLS

Die wind in jou hare. Die gevoel van vryheid. Nuwe horisonne wat wink. Dis wat die huppel in draf sit én dis net nie dieselfde as jy op die trapband in die gim draf of die stad se sypaadjies plattrap nie.

Met roetedraf (trail running) sal jy die pad vat teen heuwels en berge uit en deur valleie en woude, oor woestyne en velde. In die buitelug kom jy dalk 'n klipspringer teë of dalk 'n hele dassiegesin. Die voortdurend veranderende landskap bied ook altyd iets nuuts.

Dié "voetslaan-4x4" is allesbehalwe 'n rustige wandeling. Die afwisseling van terrein en natuurlike hindernisse kan jou ritme omvergooi, wat weer sal mors met jou asemhaling. En as jy sukkel om jou vastrap en balans te kry, kan 'n kort roetedraffie jou harde bene laat kou. Dit hou oneindige voordele vir jou liggaamlike en geestesgesondheid in en dis hoekom ál meer drawwers besluit om die rowwer roetes aan te durf.

Volgens die Instituut vir Sportwetenskap van Suid- Afrika sal roetedraf jou spiertonus en koördinasie op verskeie maniere verbeter. Ongelyke oppervlakke dwing jou om op jou balans te konsentreer, daarom is dit belangrik om jou spiere op te warm voor jy in die pad val.

Die voordeel is dat jou maag- en rugspiere (wat jou help balans hou) harder werk en dus jou kernstabiliteit aansienlik verbeter. Dit sal help om sekere liggaamsdele in die gim te versterk, maar begin stadig met jou eerste veldlopies sodat jy kans het om aan te pas.

Die meeste drawwers het 'n eie styl en tegniek, maar daar is algemene riglyne wat beginners sal help om die uitdagings van roetedraf te kan hanteer. Gewoonlik sal die oorgang van teerpad na stofpad jou vat na 'n enkelpaadjie in pragtige natuurskoon.

Probeer om jou boendoetog te begin op taamlik eweredige terrein met 'n stabiele oppervlak. Takel die meer tegniese roetes eers wanneer jy die basiese roetedraftegnieke baasgeraak het.

Wat toerusting betref, is jou voete die belangrikste. Belê in stewige skoene met 'n uitstekende tegniese reputasie. Sorg dat hulle geskik is vir die vorm en grootte van jou voet sowel as vir jou drafstyl. Vat dan die wandelpad en verken die wêreld te voet.

Gariepdam, Vrystaat
Hoe moeilik? Maklik en betreklik plat, maar jy kan die pas aandraai deur die afstand te verleng.
Hoe fiks moet jy wees? As jy 10km in minder as 'n uur kan aflê, sal jy hierdie pragtige roete geniet.
Waar? Langs die N1 van Colesberg na Bloemfontein. Die reservaat se naam is onlangs na die Oviston-natuurreservaat verander.
Waarom dit aanpak? Vir kilometers se grondpad wat jou al langs Suid-Afrika se grootste binnelandse meer vat.
Afstand: Laat waai op minstens 100km se grond- en jeeppaaie wat kronkel langs die walle van die modderige Gariepdam. 'n Golwende in-en-uit-roete van 10km vanaf die Forever Resorts Gariep-oord is perfek vir beginners.
Roetebeskrywing: Ysterklipkoppies, doringveld en kronkelende grondpaaie. Kyk uit vir koedoes, springbokke, blesbokke en ander boksoorte terwyl jy voete stamp in die stiltes van die suidelike Vrystaat.
Kaarte en bakens: Kaarte is by die reservaat se ingang beskikbaar. Die roete is nie gemerk nie, maar volg eenvoudig die rand van die dam. Jy kan nie verdwaal nie.
Toegang: Permitte en kaarte is by die reservaatingang, naby Aventura, te koop.
Kontak Oos-Kaapse Parkeraad, tel. 043-705-4400, of besoek www.ecparks.co.za.

Baakensvalei-roete, Oos-Kaap
Hoe moeilik? Daar is verskillende roete-opsies, wat beteken dat jy die relatiewe plat sentrale pad kan kies, of die tegniese pap dik kan aanmaak deur die steil hange aan te pak.
Hoe fiks moet jy wees? Naweekdrawwers moet hou by die maklike valleiroete. Jy is gereed vir die volledige roete as jy 'n halfmarathon in negentig minute kan aflê.
Waar? So in die middel van Port Elizabeth, die Vriendelike Stad.
Waarom dit aanpak? Hierdie groen stuk terrein bied Port Elizabeth se stadsbewoners maklike toegang tot die natuur slegs enkele minute vanaf die middestad.
Afstand: Enkelroetes strek in 'n ooswestelike rigting van bo die hawe tot ver anderkant die Baakensrivierbrug. Altesaam is dit 'n afstand van 23km.
Roetebeskrywing: Dit is ook bekend as die Tarentaalroete. Die rivieroorgange, klipwalle, bruggies, grondpaaie en enkelroete-seksies sal jou op 'n drafstap deur 'n asemrowende groen gebied neem. Van die roetes sal jy met bergfietsryers moet deel, veral op die afdraandes en strawwe klimpaadjies waar hulle nie sulke goeie terreinbeheer het nie.
Kaarte en bakens: Die roete word by die meeste padkruisings aangedui en daar is 'n groot kaart by die suidelike ingang. Draf in 'n groep, want drawwers is al hier aangeval.
Toegang: Die boonste sowel as die onderste seksies van die Baakensvallei is oop vir die publiek.
Kontak: Vir meer inligting oor die roete, besoek www.pe.org.za/hikes.html.

Silwermyn, Wes-Kaap
Hoe moeilik? Maak jou gereed vir 'n kombinasie van grondpad en staproete, met 'n houtpromenade en stukke teerpad vir afwisseling. Daar is klipperige afdraandes, los gruis en kronkelende fynbosroetes. Vir 'n hewige sweetsessie, pak die volledige roete aan.
Hoe fiks moet jy wees? As jy omtrent elke dag van die week dertig minute lank draf sal jy die kort roete maklik voltooi. Vir die langer roete moet jy 'n suksesvolle halfmarathondrawwer wees.
Waar? Die fynbospieke wat bo die suidoostelike hange van Tafelberg uitsteek.
Waarom dit aanpak? Vir die pragtige uitsigte oor die hele suidelike Skiereiland, van Muizenberg tot anderkant Kaappunt en Houtbaai.
Afstand: Die verskillende roete-opsies sal jou tot drie uur lank besig hou en jy kan afstande van 5km tot 20km aflê.
Roetebeskrywing: Kies die dapper-en-stapper- opsie met die tegniese roete wat begin by die ingang van die Silwermynreservaat (noordelike seksie). Hou links van die Silwermyn-rivier, volg die rivierroete tot by die dam en draai daarna regs. (Die terug- rivierroete is 'n goeie wegspringplek vir beginners.) Enkelroetes vurk uit vanaf die dubbelroetes en kronkel deur die Olifantsoog-grot voor dit 'n skerp draai regs en teen Silwermyn-piek op maak. Daarna is dit heelpad tussen fynbos deur en van klip tot klip na die Noordhoek-kant. Dan kan jy terugdraf na die beginpunt met die rivierroete- promenade langs of met die roete bo die Ou Wapad.
Kaarte en bakens: Kaarte is by die Silwermyn- reservaathek beskikbaar. Jy kan ook die kaart elektronies by www.mtbroutes.co.za aflaai. Verskillende punte word langs die roete aangewys.
Toegang: Koop 'n permit by die Silwermyningang (R15) of belê in 'n Wild Card wat jou 'n jaar se gratis toegang bied.
Kontak: Tafelberg-Nasionale Parkeraad, tel. 021-712-7471, of besoek www.tmnp.co.za. Koop 'n Wild Card aanlyn by www.wildcard. co.za.

Groenkloof, Gauteng
Hoe moeilik? 'n Taamlik tegniese roete wat rotsagtige open afdraandes bied.
Hoe fiks moet jy wees? As jy 10km in 45 minute kan aflê, sal jy genoeg asem hê om die natuurskoon te bewonder.
Waar? Naby Die Fonteine, reg langs Pretoria se middestad.
Waarom dit aanpak? Ooit gedink dis moontlik om jou in 'n kameelperd en ander wild in die skadu van die Voortrekker-monument vas te loop?
Afstand: Daar's 'n uitdagende 10,5km-roete, sowel as korter roetes van 3,5km en 4km elk vir mense wat nie langasems is nie.
Roetebeskrywing: Die roete is baie klipperig. Maak jou gereed vir 'n steil klim, riviere wat oorgesteek moet word en stukke grond- pad wat deur tipiese bosveld kronkel.
Kaarte en bakens: Kaarte is beskikbaar by die ingang van die Groenkloof-natuurreservaat. Die roete is aangedui in die hoofareas.
Toegang: Permitte is te kry by die ingangshek van die Groenkloofreservaat. 'n Kaart is gewoonlik ingesluit.
Kontak: Groenkloof-natuurreservaat, tel. 012-440-8316, of besoek die webtuiste by www.tshwane.gov.za.

Loerie-roete, Mpumalanga
Hoe moeilik? Dis 'n uitdagende roete met sy skerp draaie en steil opdraandes.
Hoe fiks moet jy wees? Die kort roete is ideaal as jy een of twee keer per week 10km draf. Indien jy dié soort afstand baie maklik kafdraf, sal die langer roete net die uitdaging bied wat jy soek.
Waar? Begin by die Ceylon-plantasie op pad na Merry Pebbles; volg die Lydenburg-pad vanaf Sabie se hoofstraat.
Waarom dit aanpak? Vir die natuurskoon van die Sabierivier-vallei en die pragtige watervalle al langs die roete.
Afstand: Draf die hele pad (14km) of kies die kortpad terug, wat die roete tot 10km sal verkort.
Roetebeskrywing: Dié pragtige roete bied 'n tegniese uitdaging aan roetedrawwers wat graag Sabie se weelde aan plantasies, watervalle en inheemse woude wil ervaar. Kies koers deur die Ceylon-plantasie al met die Bruidsluier-, Glynis- en Elna-watervalle langs. Volg dan die roete al langs die rant in die rigting van Castle Rock en langs die Sabierivier.
Kaarte en bakens: 'n Basiese kaart is beskikbaar by Merry Pebbles se ontvangs.
Toegang: Jy moet 'n permit koop. Dis beskikbaar by die Sabie-inligtingskantoor of by Merry Pebbles.
Kontak: Komatiland-ekotoerisme, tel. 013- 754-2724, of besoek www.komatiecotourism.co.za.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Running – the best choice?

Selecting running shoes

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE