Share

Pas op vir die Power Balance plasebo armband

Die Power Balance armband wat deur hoë-profiel sportsterre gedra word met die doel om hulle atletiese vermoëns te verhoog, is as 'n kullery ontbloot. Hier is Dr. Ross Tucker se siening van die saak.

Power Balance: "Ons gee toe dat daar geen geldige wetenskaplike bewyse is wat ons aansprake ondersteun nie."

Die bostaande stelling behoort geen verassing te wees nie, veral in die lig van wat die geskiedenis ons al geleer het oor maatskappye wat sulke buitensporige aansprake oor hul produkte maak – van voedsel-aanvullings tot holografiese pleisters.

Die groot verskil is dat die bostaande stelling direk van Power Balance afkomstig is, die vervaardigers van die alomteenwoordige holografiese armbande wat deur soveel bekendes, sportsterre en gewone lede van die publiek gedra word dat jy in jou plaaslike gym erg uitstaan as jy nie een aan het nie.

Iemand is besig om 'n fortuin te maak uit wat basies 'n plasebo-effek is, 'n sielkundige voordeel wat verkry word deur die suggestie dat dit die liggaam se natuurlike energieveld gebruik om sekere voordele te verkry. Hulle webwerf sê dat dit "die liggaam se natuurlike energievloei optimaliseer," wat krag, stamina en soepelheid bevorder. Alles natuurlik sonder enige wetenskaplike bewyse – alhoewel ek die eerste een sal wees om erken dat die afwesigheid van bewyse nie noodwendig beteken dat daar geen effek is nie.

In hierdie geval is die feit dat daar nie 'n enkele studie hieroor bestaan nie baie belangrik. Hoekom? Omdat om te bewys of hierdie foefies werk of nie, so eenvoudig is dat enige hoërskoolstudent dit kan doen. Maar niemand wend enige poging aan nie, juis omdat daar geen aansporing is om enige wetenskaplike basis vir die argument te vind nie. Dis die bemarking van die produk wat saak maak, nie enige wetenskaplike beginsels nie, en gevolglik belê Power Balance liewer hul geld in onderskrywing deur beroemdes en bekendes as in navorsing. En met goeie rede – enige navorsing sal hulle geloofwaardigheid vernietig.

Hieronder verskyn die verklaring wat hulle uitgereik het as 'n antwoord op 'n ondersoek deur die Australiese Kompetisie en Verbruikerskommissie, wat die produk as 'n verneukspul ontbloot het. Hierdie betekenisvolle uitspraak het gelei tot 'n bekentenis van Power Balance dat hulle verbruikers mislei het, asook 'n belofte dat hulle enige kliënte wat voel dat hulle deur die advertensieveldtog gekul is, sal terugbetaal. Die onderstaande verklaring verskyn binnekort in 20 Australiese tydskrifte.   


"KORREKTEIWE ADVERTENSIE: Power Balance Armbande

In ons advertensieveldtog het ons die stelling gemaak dat Power Balance armbande 'n mens se krag, balans en soepelheid verbeter.

Ons erken dat daar geen geloofwaardige wetenskaplike bewyse is wat ons aansprake ondersteun nie en dat ons ons gevolglike skuldig gemaak het aan misleidende gedrag in terme van afdeling 52 van die Trade Practices Act, 1974.

As u voel dat u deur ons promosiemateriaal mislei is, vra ons sonder voorbehoud om verskoning en is gewillig om u ten volle te vergoed.

Om 'n terugbetaling te ontvang, besoek asseblief ons webwerf www.powerbalance.com.au of tree tolvry met ons by 1800 733 436 in verbinding.

Hierdie aanbod geld tot 30 Junie 2011. Om in aanmerking te kom vir 'n terugbetaling, moet u 'n egte Power Balance produk saam met 'n bewys van aankoop (insluitende kredietkaart-rekords, winkelstrepieskodes en kwitansies) van 'n gemagtigde kleinhandelaar in Australië aan ons stuur.

Hierdie Korrektiewe Kennisgewing is deur Power Balance Australia Pty Ltd betaal en is geplaas onderhewig aan 'n onderneming aan die Australian Competition and Consumer Commission volgens afdeling 87B van die Trade Practices Act, 1974.""

Ek hoop dat dit die begin is van soortgelyke aksies dwarsoor die wêreld.

Baie van julle dink heel moontlik, "nou wat daarvan? As dit 'n plasebo-effek is, maak dit tog nie saak nie, solank dit werk." En dit is iets wat 'n mens nogal kan bespreek. Maar ons los dit liewer vir ’n volgende keer. Sluit egter volgende week weer by my aan wanneer ek die Power Balance armbande noukeuriger bekyk, asook party van hul aansprake en hoe hierdie totale gebrek aan wetenskaplike basis deel was van hulle strategie. Dit is 'n wonderlike voorbeeld van die aansporingsverskille tussen egte geloofwaardigheid en suiwer bemarking en behoort heelwat bespreking uit te lok.

Ten slotte moet ek sê dat dit my geensins pla as lede van die publiek, beroemdes en selfs sportlui die armband dra nie. As jy egter 'n sportwetenskaplike, 'n sportafrigter, biokinetikus of voorbereidingsafrigter is wat met atlete en sportspanne werk, en jy dra hierdie armband, onderskryf jy onwetend (of miskien nie) hierdie "kul-wetenskap".  Jou belangrikste eienskap is per slot van rekening jou wetenskaplike "geloofwaardigheid" – dít is juis waar jou waarde vir jou atlete en kliënte lê. Moet dus nie maak soos almal anders nie – oorweeg die moontlikheid dat jou onderskrywing van hierdie produk miskien jou eie geloofwaardigheid kan aantas.

(Dr Ross Tucker, is Health24 se FitnessDoc en het 'n Ph.D. in Oefening-Fisiologie van die Universiteit van Kaapstad en 'n nagraadse graad in Sportbestuur van die Universiteit van Kaapstad se Handelsfakulteit. Hy is tans in diens van die Universiteit van Kaapstad en die Instituut vir Sportwetenskap van Suid-Afrika en werk as 'n konsultant vir verskeie sportspanne, insluitende South African Sevens, Canoeing, Rowing and Triathlon SA. Hy het ook 'n blog by www.sportsscientists.com)

- (Health24, Januarie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE