Share

Opskop maak fiks

Jy het nie die styl of die wilgerlatlyf van Michael Jackson nodig om te kan dans nie. En ná ’n paar keer se oefen kom die passies sommer vanself – en die fiksheid ook.
Deur BETINA LOUW

Al meer mense word dans-dans fiks. Klasse vir omtrent elke denkbare dansstyl – van ballet, klop- en volksdanse tot akrobatiese danse – word oor die land heen aangebied.

Dis 'n ontspanne manier van fiks word vir oud en jonk, mans en vroue. Oorsee is bekendes soos Richard Gere en Kate Moss klaar aan die dans – Richard doen baldans, en Kate paaldans.

Ons eie Riaan Garforth-Venter, die bekende nutsman en 'n vorige wenner van die TV-danskompetisie Strictly Come Dancing, vertel hoe hy met 'n houtbesem in die gange van sy skoolkoshuis leer dans het. Toe kry hy die oproep in 2006 om deel te neem aan Strictly, wat beteken het hy moes binne drie maande enigiets van 'n Weense wals tot 'n salsa onder die knie kry. Ten aanskoue van die hele land.

"Ek was 41 jaar oud, onfiks en oorgewig. Maar toe begin ek dans en verloor 25kg binne 14 weke. Dit het my hele leefstyl verander," sê Riaan. Deesdae weeg hy 'n netjiese 89 kg.

Spontaniteit

Die salsa-afrigter Mike Moss van Durban vertel hy sien elke dag hoe sy dansers hul formele werkklere vir iets meer ontspanne verruil om weer spontaan soos kinders te dans. "Dis 'n manier om af te wen en jou liggaam en siel weer met mekaar in aanraking te bring."

Die Suid-Afrikaanse baldanskampioen Andrew de Freitas sê dans is die liggaam se natuurlike reaksie op die ritmes wat hy hoor. "Dit is hoekom 'n mens dikwels ná 'n uur se dans nie eens agterkom jy het gesweet nie."

Tog verleer ons soms eenvoudig om hierdie natuurlike ritme te gebruik. Of ons is bang ons lyk laf.

"Ek is bitter dankbaar ek het die kans gekry om weer my ritme te vind," sê Riaan. En hy is steeds 20kg ligter – hy was so gemotiveerd om die kilo's af te hou dat hy gesonder begin eet het. Hy en sy vrou, Michelle, ook 'n vorige Strictlydanser, probeer steeds elke twee weke 'n dansklas bywoon.

En die dansgogga het nie net vir hulle gebyt nie. Strictly het ook die sepiester Freedom Hadebe, Mandla Khumalo in 7de Laan, en die voormalige Mej. Suid- Afrika Cindy Nell aan die dans gekry

Het jy tevore gedans?

Cindy Soos enige Afrikaanse meisie kon ek sokkie en two-step, maar niks meer as dit wat ek op skool en by my ma geleer het nie.

Freedom Dalk in die stort of voor die spieël in my kamer, maar andersins nooit nie!

Het die gedans jou lyf verander?

Cindy Absoluut! Ek het tot agt uur op ’n dag gedans en baie fikser, sterker en maerder geword, al het die lang ure hul tol van my rug, enkels en voete geëis. Maar die oefening is wonderlik. My sitvlak is nou nog ferm van al die dans. Ek sê altyd 'n mens moet oefening doen wat pret is en nie net herhalende gimwerk nie. Teen die einde van die reeks was ek twee rokgroottes kleiner.

Freedom Ek het skielik boudspiere gehad! Maar omdat ek van nature maer is, het ek nie baie gewig verloor nie. My lyf was wel baie meer soepel en ferm. Ek het ook meer energie gehad en fikser gevoel.

Dans jy steeds?

Cindy Beslis. Ek en my Strictlydansmaat, Jonathan Broadway, werk juis aan 'n dansvideo wat mense by die huis leer dans. Die titel is Dancing Made Easy. Dis sommer ook vir al die skaam mans wat eerder met hul vroue in die sitkamer wil dans. Want wraggies, as ék dit kan doen, kan almal dit regkry.

Freedom Ek dans nog steeds. Dis 'n uitstekende manier om jou kop skoon te kry omdat dit net jy en die dansvloer is. Ek gaan nog een keer per week vir danslesse.

Kon jy voel dat jy beter word ná elke oefensessie?

Cindy Dit het my weke gekos om die eerste dans te leer, maar teen die einde van die reeks kon ek 'n hele nuwe soort dans binne net drie dae aanleer.

Freedom Dis soos fietsry. Hoe meer jy oefen, hoe beter word jy.

Lees meer:

Verskillende dansstyle

Dans! Dis goed vir jou lyf

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE