Hoewel die wereldbestetye vir vroue in byna alle afstande van die 100 m tot die marathon (42 km) die afgelope dekades al nader aan die van mans geskuif het, is dit onwaarskynlik dat vrouerekords in die toekoms nog nader aan mansrekords kan beweeg, moontlik nog in die marathons en langer afstande maar beslis nie in die korter afstande nie.
Die rede: die fisiologiese en biologiese verskille tussen man en vrou gee mans beslis ‘n voorsprong, is die bevinding van Sparling, sportwetenskaplike van die departement van gesondheid en sportwetenskap van die Georgia Instituut van Tegnologie in Atlanta.
Vroueprestasies vebeter vinniger as mans s'n
Sparling het die jaarlikse wereldbeste en 100ste beste sportprestasies van die vroue- en mans atlete in die 1500 m en die marathon (42 km) van 1980-1996 met mekaar vergelyk. Sy afleiding: Vroue se prestasies het die afgelope dekade effe vinniger as mans s’n verbeter, omdat vroue meer en beter oefeningsgeleenthede en -geriewe gekry het. Maar nader aan die man se prestasie sal die vrou nie kom nie, tensy sy testosteroon en ander manlike hormone gebruik en sommer baie daarvan.
Suid-Afrikaanse sportwetenskaplikes soos prof Mike Lambert van die Sportwetenskap Instituut in Nuweland stem met Sparling saam.Die fisiologiese redes vir vroue se swakker prestasies:
- Vroue se spierkrag is minder as die van ‘n man;
- Vroue se spiervesels is korter as die van ‘n man
- Vroue se spiertendons heg “sagter” aan hulle skeletbene as mans s’n
- Vroue se bloed kan minder suurstof dra as ‘n man se bloed (‘n vrou se gemiddelde hemaglobientelling is laer as die van ‘n man)
- Die vrouelyf se drahoeke van die skelet is anders. Die pelvis is ‘n tipiese voorbeeld.
- Die man het testosteroon en die vrou nie - en testosteroon gee spierkrag, en ook aggressie.
Maar wanneer spierkrag nie meer tel nie, maar uithouvermoe - soos in marathonwedlope - kan die vrou se prestasie dalk nog nader aan die van ‘n man skuif.
Mari Hudson, Health24, 2002