Share

Dis lekker om fiets te ry

Dit gaan nie net daaroor dat jy ’n mooi en vreemde omgewing verken nie. Jy word deel van die natuur as jy fietsry oop ’n stillerige kronkelende pad met sonneblom- en lavelntellanderye aan weerskante.


As jy in ’n motor, bus of trein ry, is daar ’n groot metaalomhulsel tussen jou en die lug en die landerye, maar op ’n fiets is daar niks nie.

Dit gaan ook daaroor dat jy aktief is saam met jou gesin of vriende. Om saam met hulle ’n bietjie moeg te voel en deur te druk, en te lag en af te skakel van die werkdruk en daaglikse stres. En dit gaan oor kos wat saans lekkerder smaak en ’n bed wat lekkerder slaap as jy moeg is.

Op die Franse platteland kan jy langs laventel-landerye fietsry, maar jy hoef glad nie so ver weg te gaan nie – op die pad tussen die Paarl en Franschhoek staan die laventel in die lente en somer bloupers in die blom. Net so het ander dele van ons land mooi agterpaaie wat ideaal is vir sulke wegbreek-geleenthede. Hier is vier:

1. Stellenbosch, Paarl, Franschhoek

Gradering: Maklik! Kinders van agt kaar oud sal kan byhou.

Hoe fiks: Jy hoef niks meer as 40 km per dag te trap nie en met soveel mooi plekke waar jy kan stilhou, sal jy die afstand skaars voel. Dit sal jou omtrent vyf uur per dag kos om af te lê as jy rustig trap.

Waar: Al langs die Kaapse wynlande reg in die hartjie van die Boland.

Waarom: Daar is goeie aanwysings langs die pad en jy ry nooit op die snelweg nie. Pak ’n rugsak vol lekkernye en gaan hou halfpad piekniek by een van die mooi wynkelders, of draai af na die bekende Fairview-langoed vir bokmelkkaas en wyn. 

Afstand: Jy sal omtrent 100 km aan die einde van die naweek afgelê het.

Roetebeskrywing: Ry van Stellenbosch tot in die Paarl op die R44. Jy sal verby die Elsenburg-landbou-kollege ry en altesaam 30 km trap tot in die Paarl. Trap die volgende dag na Franschhhoek op die R301, ook omtrent 30 km. Op die laaste dag ry jy terug na Stellenbosch op die R310 vir nog 30 km.

Goeie wegspringplek: Trek weg by Coetzenburg-atletiekstadion in Suidwalstraat, Stellenbosch, vir die maklikste roete uit die dorp.

Kontak die toerismeburo op eike dorp vir padkaarte en inligting oor verblyf.


2. Ficksburg, Foeriesburg, Clarens, Bethlehem


Gradering:
Jy moet darem nie heeltemal onfiks wees vir dié roete nie, maar dis wel geskik vir kinders van agt jaar en ouer.

Hoe fiks: As jy gewoond is aan ’n aktiewe lewenstyl, behoort jy die roete kaf te draf.

Waar: Tussen die skilderagtige Rooiberge en Witteberge, waar die Vrystaat en Lesotho ontmoet.

Waarom: Dis ’n veilige roete wat jou deur die majesteuse bergreekse, valleie en heuwels van die Vrystaat neem tot in die prentjiemooi dorpie Clarens.

Afstand: Pas die roete aan soos jy wil en beplan oor hoeveel dae jy dit wil doen. Dit is sowat 110 km van Ficksburg tot in Bethlehem.

Roetebeskrywing: Ry van Ficksburg af deur Caledonspoort op die R62 vir omtrent 53 km tot in Fouriesburg. Trap die volgende op die R711 na Clarens vir 13 km, of hou aan op die R711 na Clarens vir 13 km, of hou aan op die R711 na Bethlehem vor 40 km. Trap die volgende dag deur die Golden Gate Nasionale Park en terug na Ficksburg.

Goeie wegspringplek: Die stadsaal in Voortrekkerstraat Ficksburg.

Kontak die toerismeburo op elke dorp vir padkaarte en inligting oor verblyf.


3. Mosselbaai, Grootbrak, George


Gradering:
Maklik! Kinders van agt jaar sal kan byhou.

Hoe fiks: Selfs ná ’n lang, lui Desember-vakansie in Mosselbaai sonder enige oefening, sal jy dit steeds met gemak kan trap.

Waar: Tussen die Outeniqua- en Tsitsikammaberge in die skilderagtige Tuinroete-gebied langs die suidkus.

Waarom: Dis ’n veilige roete al langs die see, met van die mooiste natuurtonele in die land. Daar is tientalle padstalle en ander toeristetrekpleisters om by stil te hou.

Afstand: Jy sal nagenoeg 100 km teen die einde van die naweek getrap het.

Roetebeskrywing: Trek weg op Mosselbaai en ry op die R102 verby Hartenbos en Kleinbrak tot jy sowat 22 km verder in Grootbrak aankom. Ry die volgende dag van Grootbrak na Heroldsbaai, steeds op die R102. Draai ná 12 km by die George-lughawe regs op die R404 na Heroldsbaai, sowat 7 km se trap verder. Oornag in Heroldsbaai of ry verder op die R404 verby die George-lughawe en oor die R102 tot in die Blanco-woongebeid, waar die bekende Fancourt-gholflandgoed is. Die George-toeristeoord is sowat 19 km verder langs dieselfde pad. Trap die volgende dag vir omtrent 54 km na Mosselbaai op die R102.

Goeie wegspringplek: By die Punt-waterfrontgebied reg langs die see in Mosselbaai.

Kontak die toerismeburo op elke dorp vir padkaarte en inligting oor verblyf.


4. Upington, Keimoes, Kakamas


Gradering:
Maklik! Kinders van agt jaar sal kan byhou.

Hoe fiks: Dit maak nie saak hoe fiks jy is nie.

Waar: Langs die oewer van die Oranjerivier in die Noordkaap.

Waarom: Trap deur die “Groen Kalahari”-landskap met sy uitgestrekte lusernvelde en wingerde. Dis ’n veilige roete en jy kan sommer die dorpe se ryk kultuur en geskiedenis verken as jy daar stop.

Afstand: Pas die roete aan soos jy wil en beplan hoeveel dae jy gaan nodig hê om dit af te lê. Dit is 80 km van Upington tot in Kakamas.

Roetebeskrywing: Ry van Upington na Keimoes op die R64 vir 40 km en beweeg die volgende dag aan van Keimoes na Kakamas, steeds op die R64 en ook vir omtrent 40 km. Die Augrabies-waterval is net 36 km buite Kakamas. Trap terug na Upington of reël dat ’n vriend julle op Kakamas kom oplaai – die twee dorpe is ’n uur se ry per motor uit mekaar.

Goeie wegspringplek: Die Eiland-vakansieoord langs die N10.

Kontak die toerismeburo op elke dorp vir padkaarte en inligting oor verblyf.


Fietsryvakansies in Europa

Jy kan natuurlik ook die pad oorsee vat.

’n Paar van die dinge wat 'n fietsryvakansie in Europa ’n belewenis maak, is dat fietstoere baie goed georganiseer word en daar baie is om van te kies. Jy kan selfs jou eie toer saamstel. Fietsryers word as padgebruikers gerespekteer en motors sal jou nie sommer omry nie, en treine en die meeste verblyfplekke is goed ingerig vir fietsryers en hul fietse. Omdat daar soveel verskillende opsies is, kan jy dalk gouer ’n fietsryvakansie bekostig as wat jy dink.

Gradering: Dit wissel van plat, maklik en vir die hele gesin tot heuwelagtig vir die effens fikse ou en moeilikvir dié wat bobaas van olie berge wil wees.

Waar: Omtrent enige plek in Europa, van die plat vlaktes van Holland, die Franse, Italiaanse en Duitse platteland, Kroasië en Oostenryk tot die heuwelagtige en berggebiede van Switserland en die Alpe.

Waarom: Europa is ingerig vir fietsryers: die treine, gastehuise, paaie (buiten die grootste snelweë) en motorryers is fietsvriendelik. Die kos veral in Frankryk en Italië, is uit die boeke en jy kan regtig wegkom van jou bekommernisse.

Afstand: Enigiets van 10 km per dag tot sowat 70 km per dag, na gelang van jou fiksheidsvlak en hoeveel heuwels langs jou roete is.

Kontak: As jy ’n fietsryvakansie in Europa oorweeg, besoek www.cyciing-for-softies.co.uk vir toere wat deur Susi Madron gereël word. Kyk ook na www.hookedoncycling.co.uk of www.2wheeltreks.co.uk.


Deur die Health24-span

 

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE