Share

Bly warm met oefening

Wanneer die termometer-lesing val, beteken dit nie noodwendig dat jy onder jou duvet moet inkruip en vergeet van jou oefen-klasse of ander vorms van oefening wat jy getrou die afgelope paar maande doen nie. Winter is die tyd wanneer dit selfs meer belangrik is om voort te gaan met gereelde fisiese aktiwiteit, aangesien dit die volgende sal doen:  

  • jou help om jou gewigsverlies voort te sit of gewig te behou
  • jou in staat stel om jou kardiovaskulêre fiksheid te behou
  • verseker dat jou fiksheidsvlakke onveranderd bly
  • jou help om jou momentum te behou
  • help om jou bui positief te hou, veral soggens wanneer dit donker, koud en somber is. Somber klink miskien 'n bietjie negatief, so kom ons sê liewer soggens wanneer dit "moeilik is om op te staan".

Motivering om te oefen

Bo en behalwe beter hartgesondheid en gewigsbeheer help oefening ook om stres te verminder, energievlakke op te stoot, selfbeeld te verbeter, hoë bloeddruk te beheer en spierkrag te verhoog. By jonger kinders vorm dit deel van 'n gesonde leefstyl, wat die voorkoms van chroniese lewenstyl-siektes later in 'n mens se lewe verhoed. By ouer mense help dit om die chroniese siektes en toestande wat met veroudering geassosieer word, te vertraag of te voorkom.

Op hierdie stadium sê jy miskien vir jouself, dit is alles ou nuus... so, as jy dit weet, hoekom sit en koud kry? Staan op, kry jouself aan die gang en word warm...  sit die huppel terug in jou stap, al is dit winter.

Volgens die Sportwetenskap Instituut van Suid-Afrika het 81% van Suid-Afrikaners een of meer risikofaktore vir die ontwikkeling van chroniese lewenstyl siektes (diabetes, hipertensie, kardiovaskulêre siekte). Nog erger is dat hierdie risikofaktore vir 'n geskatte 26% van alle sterftes verantwoordelik is! Om fisiese aktiwiteit deel van jou daaglikse lewe te maak, kan jou gesondheid-risiko-profiel aansienlik verbeter.

Die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika beveel aan dat 'n mens die meeste dae van die week vir ten minste 30 minute matige fisiese aktiwiteit moet doen (verkieslik kardiovaskulêre oefening). Voorbeelde sluit in: vinnig stap, draf, touspring, swem, aërobiese oefening en fietsry.

'n Paar wenke om jou te help om gedurende die winter gefokus te bly:

  • Wees realisties met jou mikpunte. As jy nie elke dag kan oefen nie – verbind jouself tot ten minste drie dae per week.
  • Kies 'n aktiwiteit wat jy geniet, of doen 'n verskeidenheid aktiwiteite vir afwisseling.
  • As jy buitelug-oefening geniet, doen jou opwarming binne omdat dit makliker is om die koue te trotseer as jou liggaam warm is.
  • As die oorgang van jou bed na jou oefensessie te veel van 'n uitdaging is, probeer maklike opwarmingsoefeninge soos joga om jou aan die gang te kry.
  • 'n Kombinasie van binnehuise- en buitelugaktiwiteite is miskien lekkerder en minder vervelig.  
  • Skep 'n gym-omgewing by die huis (as jou begroting dit toelaat) met handgewigte, 'n oefenbal en 'n springtou.
  • Oefen saam met 'n vriend – as jy verantwoording aan iemand anders moet doen, kan dit help om jou op koers te hou.
  • Loop verder as gewoonlik in die winkelsentrum (gebruik 'n treëteller om jou fisiese aktiwiteit te meet).
  • Dans- of tuis-oefen-video's is ook 'n goeie manier om jou in die huis aan die beweeg te kry (miskien beter in 'n groep), bv. Hip Hop Abs, persoonlik aanbeveel deur die Kommunikasie Offisier van die Hart-en-beroerte-stigting van SA, Murishca Martheze, wat die DVD, "body transforming and super fun" gemaak het.
  • Jou gym het moontlik 'n verhitte binnehuise swembad – net 'n paar lengtes per dag kan die begin van 'n splinternuwe lyf wees. Dink net aan Ryk Neethling!
  • Skep jou eie aërobiese oefensessie by die huis – gebruik musiek wat jy geniet om 'n meer inspirerende atmosfeer te skep.
  • As jy trappe by die huis het, kan jy dit gebruik vir ekstra fisiese aktiwiteit – 'n klimsessie van 20 minute is goeie kardiovaskulêre oefening!
  • Stel 'n mikpunt vir die winter en beloon jouself met iets lekker soos 'n spesiale naweek, 'n spa-behandeling of 'n nuwe paar skoene.   

Onthou, hoe ook al jy kies om hierdie winter aktief te bly, is jou saak – wat belangrik is, is dat jy dit wél doen.

(Ayesha Seedat, Geregistreerde Dieetkundige, Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika, Junie 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE