Share

5 wenke om van jou "bierboep" ontslae te raak

Daar kom 'n dag in baie mans se lewe wanneer jy in die stort staan en besef jy kan nie meer die onderste deel van jou liggaam sien nie, want jou maag is in die pad.

'n Bierboep, alhoewel dit nie altyd deur oormatige bierinname veroorsaak word nie, vang baie mans onkant: soos ons ouer word en fisies minder aktief raak, en ons metabolisme verander, begin ekstra vet om ons middels opbou – wat lei tot die berugte en onaansienlike bierboep.

Vet om die maag laat jou egter nie net minder aantreklik lyk nie, dit gaan ook gepaard met aansienlike mediese gevare, insluitende ’n verhoogde risiko vir: 

  • hartsiekte  
  • hoë bloeddruk  
  • verhoogde cholesterol
  • kanker
  • diabetes
  • sooibrand  
  • dementia
  • beroerte
  • slaap apnee
  • galblaas probleme

Al hierdie toestande behoort genoeg motivering vir jou te wees om van jou "magie" ontslae te raak. Die goeie nuus is dat jy dit met net 'n bietjie tyd en vasberadenheid kan vasvat. Hier is vyf top-wenke om jou te help om die stryd teen die boep aan te sê – en te wen.

1. Beperk jou drankinname

Bier mag baie pret wees, maar dit bevat ook 'n hele klomp leë kalorieë. Die alkohol en suiker in bier neig om jou metabolisme te vertraag, wat 'n toename in vet om jou maag veroorsaak. Wat dinge vererger, is dat die hop in jou gunsteling brousel 'n estrogeniese samestelling bevat, wat tot 'n hormonale wanbalans en die opbou van vet kan lei. Dit is bekend dat alkohol jou vermoë om vet te verbrand met meer as 30% kan verlaag.

Ek wil nou nie so ver gaan om voor te stel dat jy heeltemal ophou om bier en ander alkoholiese drank te geniet nie, maar jy moet dit beslis oorweeg om na ligte bier oor te skakel en jou algehele alkoholinname te verlaag, as jy 'n verandering in die omvang van jou maag wil bewerkstellig.

2. Kardiovaskulêre en aërobiese oefening

Voor jy begin om spiere te bou en jou maagspiere te versterk, moet jy eers van die vetjies onslae raak. Die mees effektiewe manier om vet oral oor jou liggaam, insluitende jou maag, te verloor, is om met 'n gereelde kardiovaskulêre en aërobiese oefenprogram te begin, en daarby te hou. Enigiets wat jou hart aan die pomp, jou bloed aan die vloei en jou asemhaling aan die gang kan kry, sal werk: stap, swem, hardloop, fietsry, sokker, tennis, muurbal, touspring, "spinning", interval oefening, roei... jou opsies is eindeloos.

Probeer om vir drie of vyf dae per week 'n 30-minuut oefenprogram aan die gang te kry. Gewigsverlies-oefeninge sal net effektief wees as jy dit 'n gereelde deel van jou lewe maak. Kies dus 'n soort oefening wat jy geniet. Hou dit interessant en wissel dit af – dis moeilik as jy die hele tyd dieselfde roetine volg. Miskien moet jy 'n oefenmaat of selfs 'n groep mense vind om jou te help om gemotiveer te bly.

Maak eenvoudige oefeninge deel van jou alledaagse lewe deur byvoorbeeld soggens jou motor 'n bietjie verder van die kantoor af te parkeer en 'n entjie te loop. Jy kan ook trappe klim in plaas van roltrappe of hysers te gebruik, en oor middagete 'n vinnige entjie gaan loop.

3. Bou jou maagspiere

As jy eers, as gevolg van jou kardiovaskulêre en aërobiese program, begin om gewig om jou middellyf te verloor, is dit tyd om 'n paar maagoefeninge by jou daaglikse oefenroetine te voeg om jou maagspiere sterker en meer soepel te maak. Probeer "crunches", opsitte en die maagmasjien by die gym. Terwyl krag-oefeninge nie juis help om abdominale vet wat alreeds daar is, te verwyder nie, sal dit help om die opbou van nuwe, diep abdominale vet te verhinder.

4. Pas jou dieet aan

Al die oefening in die wêreld gaan jou nie 'n platter maag gee, as jy dit nie met 'n gesonde en gebalanseerde dieet en 'n verminderde kalorieinname kombineer nie. Liewer as om die nuutste foefie-dieet te volg, wend 'n daadwerklike poging aan om jou eetgewoontes permanent te verbeter. Hier is 'n paar basiese voorstelle:     

  • verminder jou porsies – dis nie nodig om na elke maaltyd opgeblaas te voel nie;
  • drink deur die dag 8 tot 12 glase kraanwater om jou metabolisme aan te wakker;     
  • eet minder soet, vetterige en geprosesseerde kos (witbrood, tjips, pizza, kitskos, koeldranke, sjokolade, koek, ens.);
  • eet meer volgraan ontbytkos, brood en pasta;  
  • eet meer rou, vars vrugte en groente;
  • kies maer, laevet vleissnitte en rooster of bak dit liewer as om dit te braai;
  • eet vyf gebalanseerde, kleiner maaltye dwarsdeur die dag, liewer as drie grotes – dit sal jou metabolisme verhoog; en
  • eet meer oplosbare vesel (ongeskilde appels, hawermout, kersies, ens.).

5. Ontspan en wees geduldig

Kom ons wees realisties. Om jou bierboep te verloor en jou lyf terug te kry, verg tyd, toewyding en geduld. Stel realistiese mikpunte en moenie bekommerd raak as daar na die eerste week nog niks gebeur het nie. Gereelde oefening en ’n gesonder dieet werk regtig, maar jy moet by jou program hou om resultate te sien.

Maak seker jy neem gereeld tyd om te ontspan. Daar is al bewys dat stres hormonale wanbalanse veroorsaak, veral die hormoon kortisol, wat gedurende stresvolle situasies vrygestel word en skynbaar die berging van vet om die middel en maag stimuleer.

- (Andrew Luyt, Health24, Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE