Share

’n Tydbom in jou boep?

Stuur jy af op 'n vroeë hartaanval of beroerte? As jy aan metaboliese sindroom ly, is die antwoord beslis ja. Dis die versamelnaam vir vyf mediese toestande, waaronder vetsug en hoë bloeddruk, wat jou kans op ’n vroeë dood beduidend verhoog. Maar ’n gesonder lewenstyl kan jou lewe red.

'n Paar jaar gelede was Alfred Jadezweni* (49), ’n TV-programvervaardiger van Johannesburg, kwaai oorgewig. Sy bloeddruk was hemelhoog, sy cholesterolvlak kommerwekkend, hy het gesukkel met jig, was doodmoeg en sy slaap-apnee was so ernstig dat ’n masjien in die nag moes keer dat hy nie in sy slaap ophou asemhaal nie.

Hy het 120kg geweeg en het al elke denkbare dieet beproef en hom selfs tot maermaak-inspuitings gewend, maar tevergeefs. Toe, uiteindelik, beland hy verlede Junie by prof. Tessa van der Merwe, endokrinoloog van die Universiteit van Pretoria.

Teen daardie tyd was sy risiko vir ’n hartaanval of hartversaking baie hoog, en hy was so vetsugtig dat hy ’n kandidaat vir ’n rnaagverkleinings- of omleidingsoperasie was. Hy moes ook elke dag hande vol pille sluk om sy bloeddruk en cholesterol te probeer verlaag en sy jig in toom te hou.

Verkeerde koskeuses
Hy was as kind nooit oorgewig nie, maar namate hy ouer geword het, het sy gesondheid agteruitgegaan, alles weens slegte gewoontes, te min oefening, te veel kitskos – en wanneer hy wel by die huis kos gemaak het, die verkeerde koskeuses.

Maar vir ’n maagoperasie het Alfred nie kans gesien nie; hy het besluit om sy lewenstyl te verander. Tessa het ’n laevetdieet met veral min diervette voorgeskryf en hy moes sy alkoholinname baie beperk. Hy moes kleiner porsies eet, maar meer gereeld, en hy moes oefen.

Dit was nie maklik nie, maar Alfred het deurgedruk en sowat 25kg in die eerste sewe maande verloor. “Ek het opgehou om na agt saans groot etes te eet. As ek om die een of ander rede wel laat moet eet, kies ek deesdae ’n slaai. Ek eet ook niks meer wat in olie gebraai is nie.”

Alfred werk steeds lang, ongereelde ure en om sy kosroetine by die werk te verander en die versoeking van ongesonde kitskos te beperk, het hy voorafverpakte maaltye bestel van ’n maatskappy wat daarin spesialiseer om gesonder alternatiewe vir kantoorwerkers te bied.

'n Lae GI-eetplan
"'n Lae GI-eetplan het kos en versnaperinge aangedui wat inpas by my nuwe eetplan en dit het beslis gehelp om slegte eetgewoontes na goeies te verander," verduidelik Alfred.

Hy het feitlik alle brood, suiker en gis – daarom ook bier – uitgesny. Deesdae eet hy baie groente en maak hy sy koskeuses volgens ’n lae-GI-eetplan.

Alfred sê dit help baie dat sy vrou, Portia, ’n wakende oog hou oor die eetgewoontes van die hele gesin – hulle het vier kinders. Sy let ook op die manier waarop sy hul kos voorberei.

Alfred het dit nie geweet nie, maar hy het aan metaboliese sindroom gely, ’n toestand wat ook soms sindroom X genoem word. Hy was nie insulienweerstandig nie, maar hy het wel die ander tipiese simptome van metaboliese sindroom gehad: oorgewig, hoë bloeddruk en gevaarlike bloedcholesterol – en bloedvetvlakke.

En soos vir baie ander pasiënte met metaboliese sindroom het baie van sy risiko’s afgeneem namate hy die kilogramme afgeskud het. Nie net is hy fikser nie, maar sy bloeddruk is nie meer so hoog nie, sy cholesterol laer, sy jig en slaap-apnee minder en hy is nie meet so moeg nie. En les bes: Sy risiko vir ’n hartaanval is vandag beduidend laer as 'n paar jaar gelede. 

Wat is metaboliese sindroom?
Metaboliese sindroom is ’n toestand wat jou kanse op ’n voortydige dood beduidend verhoog. Dis die versamelnaam vir ’n groepering van vyf siektetoestande – oorgewig, hoë bloeddruk, hoë cholesterol, hoë bloedvet en insulienweerstandigheid – wat saam ’n ernstige aanslag op jou hart en bloedvate loods. Insulienweerstandigheid is daarby ’n voorloper van diabetes.

Elkeen van hierdie toestande is reeds lewensbedreigend. As jy drie of meer van die vyf het, ly jy volgens dokters beslis aan metaboliese sindroom. Die kans dat jy byvoorbeeld aan ’n hartaanval sal ster word 300 persent groter. Dis soos ’n domino-spel, sê dr. Magda Conradie, spesialis by die departement endokrinologie en die metaboliese eenheid van die Universiteit Stellenbosch.

Dokters stem nie saam daaroor of metaboliese sindroom op sigself as ’n siekte beskou moet word nie, maar die begrip help hulle wel om pasiënte met ’n hoë risiko vir hartsiektes en beroerte vinniger te diagnoseer, sê sy.

“Sulke pasiënte se afsonderlike kwale moet aggressiewer behandel word om vroeë sterftes te keer.”

Die ironie is dat byna alle gevalle van metaboliese sindroom deur die pasiënt selfvoorkom kan word, sê sy. As jy ’n boepmaag of ’n peervormige figuur het, is die kans goed dat jy op pad is na metaboliese sindroom of dit reeds het, want oormatige maagvet is in die meeste gevalle die wortel van die kwaad.

Omdat die meeste mense met te veel maagvet ook oorgewig is, behoort alle mense wat oorgewig is vir metaboliese sindroom getoets te word.

Is jy in gevaar?
Sommige mense het ’n groter risiko om metaboliese sindroom te ontwikkel as ander. Verskeie faktore speel ’n rol, en as jy ja antwoord op net een van die vrae hieronder, moet jy en jou dokter bedag wees op die moontlikheid dat jy aan metaboliese sindroom kan ly. As jy ja antwoord op drie of meer van die vrae, ly jy reeds aan die toestand.

1.   Is jou middellyf-omtrek meer as 88 cm as jy ’n vrou is en meer as 102 cm as jy ’n  man is? Dit beteken jy is oorgewig en dat baie van jou vet om jou organe aangepak is. Jy het dus baie gevaarlike inwendige maagvet wat gifstowwe afskei en voortdurend orgaanskade aan jou hart, niere, lewe ren ander organe aanrig

2.   Is jy insulienweerstandig? (Jou dokter moet 'n reeks bloedtoetse doen om jou vastende bloedglukosevlak te bepaal – hoër as 5,6 mmol/L is te hoog.) Of het jy reeds  tipe 2-diabetes? lnsulienweerstandigheid staan ook bekend as prediabetes. Die eerste tekens van insulienweerstandigheid is futloosheid, ’n chroniese dors en meer gereelde urinering. Dié opstanery in die nag dra by tot slaapprobleme en moegheid.

3.   Is jou bloeddruk hoër as 130/80 of gebruik jy reeds bloeddrukpille om jou  bloeddruk te verlaag? Laat dit sommer  by jou apteek of kliniek meet as jy onseker is.

4.   Is jou bloedcholesterolvlak abnormaal? As jou “goeie" oftewel HDL-cholesterol te laag is (laer as 1,29 mmol/L in vroue en laer as 1,03 mmol/L in mans), is jou "slegte" of LDL-cholesterolvlakke dikwels terselfdertyd te hoog, wat beteken dat gevaarlike cholesterolplaak teen jou bloedvatwande kan aanpak en jou bloedvate kan verstop. ’n Volledige bloedtoets by 'n patologie-laboratorium sal dit bepaal.

5.   Is daar te veel vet in jou bloed, dus hoë vlakke van trigliseriede (as die "vet"-molekules in jou bloed meer as 1,7 mmol/L is)? Dit kan met 'n bloedtoets vasgestel word.

Wat kan jy doen?
Die goeie nuus is dat jy metaboliese sindroom kan voorkom deur bloot jou leefstyl te verander, of as jy reeds aan die probleem ly, kan jy met leefstylveranderings (en medikasie waar nodig) jou risiko soveel verminder dat jy nie meer ’n lyer is nie.

As jy oorgewig is, moet jy ’n daadwerklike plan maak om gewig te verloor en as jou bloeddruk hoog is, moet dit baie versigtiger beheer word as wat die geval sou wees as jy nie metaboliese sindroom het nie.

Dié praktiese stappe sal help

1. Begin vandag nog oefen
Dit is voorkomend, maar ook ’n noodsaaklike deel van behandeling saam met die regte medisyne vir dié wat reeds aan die sindroom ly. Stap, ry fiets, draf, swem, dans, roei, rolskaats of wat ook al vir jou lekker is. Doen dit minstens 120 minute per week. Begin stadig, maar oefen minstens drie keer per week en vestig ’n roetine. As jy nie 30 minute aaneen kan stap nie, begin met drie sessies van 10 minute elk.

Op ’n onlangse mediese kongres oor maagvet in Amerika het navorsers vertel dat gereelde oefening die belangrikste manier is waarop giftige maagvet verwyder kan word. Hou aan oefen, al wys die skaal nie noodwendig dat jy gewig verloor nie, want die oefening vernietig maagvet en bou groter en swaarder spiere. Oefening verminder ook insulienweerstandigheid.

2. Hou op rook
Rook verhoog mense met metaboliese sindroom se risiko vir ’n hartaanval beduidend.

3. Eet reg
Dit is voorkomend en ook ’n noodsaaklike deel van die behandeling. As jy oorgewig is, is dit belangrik om die gewig af te skud teen ’n tempo van 0,5-1 kg per week, en wel met ’n hoëvesel-, lae-GI- en laevet-eetplan.

Hoe doen jy dit? Vervang verfynde koolhidrate soos witbrood met growwe brood, vervang witrys met basmati- of bruinrys, wit pasta met volgraan-pasta, eet minder suiker, lekkers, sjokolade, koekies en pasteie en meer vars vrugte en groente, kies vis, maer vleis en hoender sonder vel, vermy romerige kosse en soteer of braai kos in min vet eerder as om dit te diepbraai.

Pak eerder vars vrugte of klein porsies droëvrugte en neute in jou kind se kospakkie as snoepgoed, en vervang witbrood en konfyt met volgraanbrood en ham, en gaskoeldrank met gegeurde melk of jogurt. In ’n studie is bevind dat mense wat kunsmatig versoete koeldrank drink, ’n groter kans het om metaboliese sindroom te ontwikkel, al is navorsers nog nie seker hoekom nie.

Eet minder sout en leer jou kinders van kleins af om nie ekstra sout te gebruik nie, selfs al is jou bloeddruk normaal. Opspraakwekkende nuwe navorsing in Amerika toon dat as jy net 1 g sout minder per dag eet, kan jy ’n dramatiese verskil aan jou kans op oorlewing maak deur jou bloeddruk te verlaag. Suid-Afrikaners eet sowat 8-9 g sout per dag, meer as dubbel die gesonde hoeveelheid, meestal uit verwerkte en klaar voorbereide kosse.

Bly weg van kitsoplossings
Rosanna Sexton (36) is ’n rekeningbestuurder in die toerismebedryf en enkelma van twee dogters. Haar gewigsprobleme het na die geboorte van haar kinders toegeneem en sy het elke dieet en middel in die boek beproef

Verlede Julie het sy by prof. Tessa van der Merwe, ’n Gautengse endokrinoloog met 'n belangstelling in vetsug-behandeling, gaan aanklop vir hulp met haar gewig en kwaai velprobleme nadat 'n ander endokrinoloog nie juis veel gehelp het nie. Een van Rosanna se vernaamste probleme was insulienweerstandigheid.

Tessa het medikasie voorgeskryf en Rosanna verwys na ’n dieetkundige. Sy volg 'n eenvoudige eetplan wat gehelp het dat sy sedertdien al 8 kg kon verloor.

“Vir ontbyt eet ek die dieetkundige se spesiale gesondheidsbeskuit en met teetyd ’n vrug. Middagete is dit rogbrood of ryskoekies met tuna, en teen 15:00 weer ’n vrug. Saans eet ek hoender of vis met slaai en groente.”

Rosanna vertel sy het nog altyd taamlik gesond geëet, maar dit help beslis om nou seker te maak sy pak daagliks gesonde kos in om by die werk te eet. Om graan uit haar dieet te sny, het ook wondere verrig. Sy oefen drie maal per week matig en voel deesdae soos ’n nuwe mens.

Het sy raad vir lesers? "Bly weg van kitsoplossings en spreek ’n kundige soos ’n endokrinoloog om jou met jou gesondheidsprobleme te help. Al wat help, is om jou lewenstyl te verander deur reg te eet en te begin oefen."

4 algemene vrae oor die toestand
Vraag: Sal 'n maagkram- of maagverkleiningsoperasie help?

Antwoord: ’n Maagverkleiningsoperasie word net gedoen op mense wat erg vetsugtig is en ’n liggaamsmassa-indeks hoër as 35 het. Studies toon dat dié soort operasie tot gewigsverlies van sowat ’n halwe tot 1kg per week lei en bloeddruk verlaag, bloedcholesterol en bloedvatvlakke kan normaliseer en prediabetes kan omkeer of keer dat die pasiënt volle tipe 2-diabetes ontwikkel.

Vraag: Sal ’n vetuitsuig-operasie help?

Antwoord: Al word al die vet onder jou vel uitgesuig om die rol om jou maag te verwyder, sal dit nie jou metaboliese sindroom, en dus insulienweerstandigheid, hoë bloeddruk of cholesterol en jou risiko vir ’n hartaanval verander nie, want dis ondervel-vet wat verwyder word, nie die giftige vet tussen organe nie.

Vraag: Hou metaboliese sindroom verband met ander siektes?

Antwoord: Ja. Sommige lyers ontwikkel:

- Slaap-apnee

- Lewerontsteking, al drink hulle nie 'n druppel alkohol nie en al het hulle nie 'n virus nie

- Chroniese nierprobleme, wat dikwels verband hou met hoë bloeddruk

- Jig

- Polisististiese ovariumsiekte en vrugbaarheidsprobleme. Vroue met polisistiese ovaria (eierstokke waaop veelvuldige siste voorkom) behoort almal vir insulienweestandigheid en metaboliese sindroom getoets te word. 

- Demensie in ouer mense

Vraag: As ek metaboliese sindroom het, sal my kinders dit ook kry?

Antwoord: Elke volwassene met metaboliese sindroom se kinders – veral dié wat oorgewig is – behoort getoets te word om afwykings in hul insulienwerking so vroeg as moontlik op te spoor. Dit blyk dat genetiese faktore en oorerflikheid ’n rol speel. Vroeë diagnose met gepaardgaande aanpassings aan hul eetplan en oefening kan voorkom dat hulle metaboliese sindroom of tipe 2-diabetes ontwikkel.  

* Skuilnaam

- (Mar
í Hudson en Ilse Salzwedel)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE