Share

Weggooi-kos-skandaal

In 'n land waar miljoene honger ly en mense enige kos sal eet wat hulle in die hande kan kry, al is dit moontlik gevaarlik, hoe eties (en veilig) is dit om ou kos weg te gooi, vra DietDoc.

Kort op die hake van die Hoenderskandaal volg die Weggooi-kos-skandaal, wat verlede week die hoofopskrifte gehaal het.

Weggooi-insident

Volgens 'n verslag in The Independent on Saturday het 'n wit vragmotor die Pholile Park informele nedersetting naby die Strand in die Wes-Kaap binnegery en 'n hele vrag voedselitems soos koekies, lekkers en verpakte vrugtesap daar afgelaai. Honger inwoners het die stokoue voedselitems en koeldrank verorber en kort daarna begin siek raak, met simptome van voedselvergiftiging soos diarree, maagkrampe en veluitslagte. Nooddienste het meer as 100 vergiftigde inwoners na nabygeleë hospitale vir behandeling vervoer. Volgens verslae het 150 mense aan die nagevolge van hierdie vergiftigings-insident gely. Ondersoeke het getoon dat die vervaldatums op hierdie voedselitems in party gevalle tot so ver terug as 2003 gestrek het (Sapa/News24, 2011).

Verdere ondersoeke het onthul dat hierdie bederfde en verstreke kos en drank afkomstig is van 'n plek met die naam van Simply Value Factory Food Shop. Die bestuurder van hierdie winkel, Santa Kotze, het aan die owerhede vertel dat daar aan H Hearn Refuse Removal opdrag gegee is om die verstreke voedselitems by 'n amptelike stortterrein in Stellenbosch af te laai. H Hearn, die bestuurder van die vuilisverwyderaars wat verantwoordelik was vir die verwydering van die voedsel, het gesê dat 'n tydelike werker van Pholile Park die vragmotorbestuurder oorreed het om die voedsel na sy huis in die informele nedersetting te neem, omdat hy daar 'n spaza-winkel wou oopmaak. Mnr. Hearn het ook gesê dat hy 14 vuilissakke vol verstreke kosprodukte verwyder het toe die polisie hom gekontak het nadat die inwoners  siek geword het (Hartley, 2011).

Geregsgevolge

Onder grootskaalse ontkennings van verantwoordelikheid en versekerings van onskuld, wat die saak bemoeilik, het Wilfred Solomons-Johanes, woordvoerder van Ramp Risiko Bestuur in Kaapstad beaam dat Simply Value Factory Food Shop die korrekte prosedures gevolg het om die verstreke voedsel te verwyder, en dat daar nou op die vragmotorbestuurder gefokus sal word, 'n tydelike werker "wat nie die instruksies van H Hearn Refuse Removal uitgevoer het nie", die maatskappy wat gehuur is om die items te verwyder (Benton, 2011).

Eye Witness News berig dat die lede van die betrokke gemeenskap van voorneme is om kriminele klagte aanhangig te maak teen die maatskappye wat verantwoordelik is vir die storting van die verstreke en potensieel gevaarlike voedsel (Booi, 2011).

Vrae

Party vrae wat uit hierdie insident voortspruit is: "Hoe moet voedsel wat nie meer eetbaar is nie, weggeruim word?" en "Watter stappe kan gedoen word om sulke insidente te vermy?"

Hierdie vrae moet nie net deur die owerhede aangespreek word nie, maar deur elke lid van die gemeenskap wat van voedsel met verstreke vervaldatums, of wat bederf het, ontslae wil raak. Ons leef in 'n land waar een uit elke vyf huishoudings voedselnood ervaar en byna elke dag honger ly (Achmat, 2011). Die onaangename realiteit is dat mense wat honger is en nie hul families van kos kan voorsien nie, enige kos wat hulle in die hande kry, sal eet, selfs al is dit moontlik gevaarlik.

Diegene van ons wat in stede met vuilisverwydering woon, is maar al te bewus van die stil figure wat gedurende die nag verskyn en die vuilisblikke deursoek vir oorskietkos. Ons stortingsterreine word deur hele gemeenskappe bewoon wat 'n bestaan maak uit die kos en ander items wat hulle daar vind. Al hierdie benadeelde mense word daagliks aan die risiko van besmette kos blootgestel.

Wat moet ons dus doen wanneer ons ontslae wil raak van kos wat ons nie meer wil eet nie, of wat verstreke is? Dit is 'n baie moeilike vraag, aangesien daar altyd 'n paar blikkies agter in jou kruidenierskas skuil met vervaldatums wat al lank gelede verby is, of kos in jou ys- of vrieskas wat muf of oud geword het.

Gooi jy sulke blikkies en muwwe kos in jou vuilisblik sonder om aan die honger mense te dink wat dit mag uitvis en eet? As jy eerlik moet wees, is die antwoord meestal "Ja".

Moontlike oplossings

Kom ons maak as huisbewoners 'n reël dat ons gereeld die vervaldatums op ons blikkies, verpakte en bevrore voedsel sal nagaan, en die voedsel lank voor hierdie datums sal gebruik.

Wees net so versigtig met die kos wat in jou vries- of yskas is.

Onthou, die beste beleid is nog steeds om al die kos wat jy koop, te gebruik voor dit vir enige lewendige wese gevaarlik kan wees. Moenie kos mors nie!

Dit sou 'n goeie idee wees as elke munisipaliteit 'n "verstreke voedsel terrein" kon inruim waar sulke kos verbrand kan word en skadeloos gemaak kan word. Die meeste apteke het deesdae fasiliteite waar verstreke medisyne vernietig word, maar ons het nog steeds nie plekke waar gewone huishoudings op 'n veilige manier van enige kos wat moontlik gevaarlik kan wees, ontslae kan raak nie.

Daarbenewens moet alle voedselverkopers, maak nie saak hoe klein nie, deur die regering aangemoedig word om te verseker dat enige voedselprodukte wat verby hulle vervaldatum is, veilig by stortingsterreine skadeloos gemaak word. By sulke terreine moet munisipaliteite 'n stelsel in plek hê om te verhoed dat hierdie kosprodukte deur honger mense uitgesnuffel word.

Ons wat genoeg het om te eet, moet as verantwoordelike burgers van die land baie seker maak dat ons nooit, ooit kos weggooi omdat die vervaldatum verstryk het nie. Koop liewer minder kos op 'n slag, of koop meer gereeld sodat jy nie onbewustelik tot die Weggooi-Kos-Skandaal bydra nie.

Verwysings:

(Achmat Z (2011). Corporate malfeasance and government duties: 150 poisoned after rating dumped food. Writing Rights, 10 January 2011. http://writingrights.org ; 2011. Booi M (2011). Community to lay charges against companies selling expired food. Eye Witness News. 13 January 2011. http://www.ewn.co.za ; Hartley A (2011). 150 poisoned after eating dumped food. The Independent on Saturday, 10 January 2011. http://www.tios.co.za ; Benton, S (2011). Authorities probe company that dumped ‘sickening’ food. The New Age. 11 January 2011. http://www.thenewage.co.za; Mass poisoning: Food expired in 2003. News24, 10 January 2011, http://www.news24.co.za

Enige vrae? Vra vir DietDoc

Lees verder:

Hoe om voedselvergiftiging te verhoed
Gif in jou kos
Gevare wat in jou vrieskas skuil

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE