Share

Supreme Poultry hoender se vervaldatums 'misleidend'

Die skandaal oor herverwerkte hoenders het verder uitgekring en sluit nou die gewilde kitskosrestaurante KFC en Nando's in.

Verbruikers van oor die hele Suid-Afrika het hul misnoeë uitgespreek oor verslae dat dit by Supreme Poultry, die land se derde grootste hoendervoorsiener, standaardpraktyk is om onverkoopte bevrore hoenders weer te verwerk en met nuwe vervaldatums terug op die rakke te plaas.

Supreme Poultry (met die slagspreuk "the people's choice") voorsien Pick n Pay, Shoprite/Checkers en ander kleinhandelaars van bevrore hoenders. Volgens 'n verslag van African Business Review vroeër vanjaar voorsien Supreme Poultry nou ook vir KFC en Nando's van hoenders.

Drie voormalige werknemers van Supreme Poultry het aan die Sondagkoerant Rapport vertel dat hulle deur die bestuur aangesê is om ou hoenders te herverpak – 'n praktyk wat skynbaar al jare lank aan die gang is.

Volgens Johan Matthee, 'n voormalige produksiebestuurder by die Botshabelo fabriek, word "honderde tonne" onverkoopte hoender terug na Supreme Poultry vervoer en weer verwerk. 

Moontlike besmetting

"As die vervaldatum reeds verby is, is daar geen waarborg dat die vleis nie alreeds bederf het nie," sê Health24 se DietDoc, Dr. Ingrid van Heerden. "Enige bevrore voedsel, insluitende vleis, vis en hoender, moet nooit weer gevries word nie omdat dit skadelike mikroörganismes die geleentheid gee om te vermenigvuldig, wat voedselvergiftiging kan veroorsaak."

"Die publiek word om die bos gelei met 'n vervaldatum as dit reeds die tweede of derde datum is wat aan die spesifieke produk toegeken is. Dit laat 'n mens wonder op watter riglyne hierdie vervaldatums nou eintlik gebaseer is," voeg Charlene Goosen, senior dieetkundige van NICUS (Die Voedingsinligtingsentrum van die Universiteit van Stellenbosch) by.

Goosen verduidelik dat daar duidelike riglyne is wat gevolg moet word wanneer dit kom by die hantering van rou voedsel, veral potensieel gevaarlike voedselsoorte soos hoender en ander vleis, asook eiers en suiwelprodukte. "Veilige voedselhanteringspraktyke is van kardinale belang om voedseloordraagbare siektes wat deur mikrobiese, chemiese of fisieke besmetting veroorsaak word, uit te skakel," sê Goosen. "Besmetting deur mikrobiese organismes soos virusse en bakterieë kan skadelik wees vir mense, en is gevolglik een van die grootste uitdagings waarmee voedselprodusente te kampe het."

Die grootste risiko-groep sluit in babas, senior burgers, swanger vroue, immuunverswaktes en mense wat aan wanvoeding ly.

Onder die minimum veiligheidsmaatreëls is streng temperatuurbeheer-maatreëls en baie definitiewe tydsvoorskrifte. Hoender kan by minus 19 grade Celsius vir 3 - 6 maande gevries word – daarna verloor dit geur en voedingswaarde, en mag bederf.

Die risiko vir voedseloordraagbare siektes neem toe wanneer ontdooide hoender aan temperature van meer as 4 grade Celsius blootgestel word voordat dit weer gevries word. Die kwaliteit van gedeeltelik ontdooide hoender neem ook af as dit weer gevries word. As die hoender van die fabriek na die kleinhandelaar, terug na die fabriek en dan weer na die winkel vervoer word, is die risiko vir temperatuurwisselings soveel groter as dit nie noukeurig deur almal wat by die proses betrokke is, gemonitor word nie.

Wet op Verbruikersbeskerming

Volgens Goosen word die ideale proses in die Kritieke Beheerpunt van Gevaaranalise (HACCP) vervat. "Hierdie soort praktyk sal hopelik ontmoedig word sodra die Wet op Verbruikersbeskerming in werking tree, wat aan die verbruiker die vermoë sal gee om suksesvol teen swak kwaliteit voedselprodukte te appelleer."

Intussen het die kleinhandelaar Pick n Pay 'n verklaring op hulle webwerf gepubliseer om hulle standpunt oor herverwerkte hoender te verduidelik. Dié winkelgroep sê dat hulle gereelde kwaliteitsbeheertoetse uitvoer en die perseel van Supreme Poultry gereeld inspekteer.

"Pick n Pay het 'n streng voedselveiligheid- en kwaliteit-verifikasieprogram in plek ... Supreme Poultry se terugkeerbeleid stipuleer dat alle pluimvee wat teruggestuur of afgekeur word na 'n fabriek vervoer word, waar dit tot beenmeel verwerk word. Ons het spesifikasies in plek wat ons kwaliteitsvereistes oor dinge soos raklewe, organoleptiese kwaliteit, mikrobiologiese standaarde en die maksimum toelaatbare soutoplossing-inspuiting presies bepaal."

Shoprite/Checkers het ook aangekondig dat hulle streng kwaliteitsbeheer-maatreëls in plek het om voedselveiligheid te verseker en dat hulle ondersoek gaan instel na Supreme Poultry se hoenderprodukte.

Die kleinhandelaar Woolworths het verbruikers verseker dat hulle geen hoenderprodukte wat van Supreme Poultry afkomstig is, verkoop nie en nooit hoender sal herverwerk nie.

"Woolworths dring aan op buitengewone hoë standaarde en ons sal ons nooit skuldig maak aan die praktyke wat in die (Rapport) artikel beskryf word nie," het Zelda Rylands, die besturende direkteur van Woolworths Voedsel Maandagmiddag aan Healt24 gesê. "Bowendien verkoop Woolworths geen produkte van die betrokke voorsiener nie."

- (Birgit Ottermann, Health24, 20 Desember 2010) 

Lees verder:

Frozen chicken horror
Poison in your food
Maintaining the cold food chain

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE