Share

Huwelik, egskeiding en jou gewig

Huwelik en egskeiding kan "gewigskokke" wees wat daartoe lei dat mense 'n paar ekstra kilos aansit – veral by mense ouer as 30 – volgens 'n nuwe studie. Maar wanneer groot gewigstoenames ter sprake kom, is die uitwerking van veranderinge in huwelikstatus baie anders by mans as by vroue.

Vir mans is die mees merkbare risiko 'n groot toename in gewig ná 'n egskeiding. Maar in die geval van vroue is die grootste risiko vir 'n groot gewigstoename ná 'n troue. "Dit is duidelik dat die effek van 'n verandering in huwelikstatus op gewigstoename volgens geslag verskil," sê Dmitry Tumin, hoofouteur van die studie en doktorale student in sosiologie aan Ohio State University, (VSA).

"Egskeidings vir mans en, tot 'n sekere mate die begin van 'n huwelik vir vroue, moedig gewigstoename aan, wat groot genoeg mag wees om 'n gesondheidsrisiko te wees." Die waarskynlikheid van groot gewigstoenames ná veranderinge van huwelikstatus was die grootste by mense bo die ouderdom van 30.

"Vir iemand in hul middel 20's is daar nie veel verskil in die neiging tot gewigstoename tussen iemand wat so pas getroud is en iemand wat nog nooit getroud was nie. Maar op 'n later leeftyd is daar veel meer van 'n verskil," sê hy.

Gewigstoename na troue of egskeiding

Tumin het die studie saam met Zhenchao Qian, professor van sosiologie aan Ohio State University, uitgevoer. Hulle het hulle navorsing in Las Vegas by die jaarlikse vergadering van die American Sociological Association aangebied.

Alhoewel daar al baie studies oor gewigstoename na 'n huwelik of egskeiding was, het die meeste egter gemiddelde gewigsveranderinge bestudeer en gevind dat daar klein gewigstoenames ná die huwelik en klein gewigsverliese ná egskeidings was. Maar hierdie resultate mag die feit verbloem dat party mense gewig verloor, terwyl ander geen verandering toon nie, en party baie gewig aansit, sê Qian.

"Ons het die uitwerking van veranderinge in huwelikstatus op die waarskynlikheid van gewigstoename of -verlies vir verskillende kategorieë mense geskat en toelatings gemaak vir die moontlikheid dat nie almal wat deur 'n verandering in huwelikstatus gaan dieselfde gewaarwording het nie," sê Qian.

Tumin en Qian het gegewens van die National Longitudinal Survey of Youth '79, 'n nasionaal-verteenwoordigende monster van mans en vroue van 14 tot 22 in 1979, gebruik. Dieselfde mense is elke jaar tot 1994 ondervra en daarna elke tweede jaar.

In hierdie studie het die navorsers gegewens van 10,071 mense, wat van 1986 tot 2008 ondervra is, gebruik om gewigstoename gedurende die twee jaar ná 'n troue of egskeiding vas te stel. Die NLSY het data oor Liggaamsmassa-indeks (LMI), 'n algemene maatstaf vir gewig teenoor lengte, ingesluit.

Verskeie faktore

Die navorsers het mense in vier groepe verdeel: diegene wat 'n LMI vermindering van ten minste 1 kg/m2 (ongeveer 3kg vir 'n persoon van 5'10") in die twee-jaar periode ná 'n verandering in huwelikstatus ondervind het; diegene wat 'n klein LMI toename (3-9kg vir die 5'10" persoon) ondervind het; dié met 'n groot LMI toename (meer as ongeveer 10kg); of geen gewigstoename of -verlies nie (netto verandering van minder as 3kg).

Die navorsers het 'n wye verskeidenheid ander faktore in ag geneem wat gewigsverlies of -toename mag beïnvloed, insluitende swangerskap vir vroue, armoede, sosio-ekonomiese status en opvoeding. 

Beide mans en vroue wat getroud of geskei was, was meer geneig om 'n klein toename in gewig te ondervind in die twee jaar ná die verandering van hulle huwelikstatus as mense wat nooit getroud was nie. "By die meeste mense is die gewigtoename wat ons na 'n verandering in huwelikstatus sien redelik klein, en nie 'n ernstige gesondheidsbedreiging nie," sê Tumin.

Die meeste ander studies het egter aangedui dat egskeiding in werklikheid tot gewigsverlies lei, ten minste in die eerste paar jaar na die einde van die huwelik. Dit mag weereens wees omdat ander studies mense nie in ouderdoms- en geslagsgroepe verdeel het nie, en net gemiddelde gewigsveranderinge gebruik het. 

Die data in hierdie studie kan nie aantoon hoekom mans na 'n egskeiding meer daartoe neig om baie gewig aan te sit, terwyl getroude status meer geneig is om groot gewigstoenames by vroue te veroorsaak nie. Hierdie resultate pas egter in by ander navorsing oor die uitwerking van die huwelik op mans en vroue.

"Getroude vroue speel dikwels 'n groter rol in die huis as mans en mag miskien minder tyd hê om oefening te doen en fiks te bly as in die geval van soortgelyke ongetroude vroue," sê Qian.

"Aan die ander kant toon studies dat getroude mans 'n gesondheidsvoordeel uit die huwelik kry en dat hulle daardie voordeel verloor wanneer hulle skei, wat tot hulle gewigstoename mag lei."

Wanneer is veranderinge in huwelikstatus merkbaar?

"Die studie het bevind dat die waarskynlikheid van gewigstoename duideliker word in die geval van mans en vroue wat ná die ouderdom van 30 trou of skei, en dat hierdie veranderinge groter word namate mense ouer word. Van 22 tot 30 is die uitwerking van veranderinge in huwelikstatus nie baie duidelik nie," sê Qian.

"Maar beide getroude status en egskeidings verhoog die risiko van gewigsverandering van die ouderdom van omtrent 30 tot 50, en die uitwerking word sterker soos die ouderdom styg."

Tumin sê dit is moontlik dat mense sekere patrone met betrekking tot fisieke aktiwiteit en dieet vaslê. "Namate 'n mens ouer word, word 'n skielike verandering in jou lewe, soos 'n huwelik of 'n skeiding, 'n groter skok as wat dit sou wees wanneer jy jonger is – en dit kan 'n groot uitwerking op 'n mens se gewig hê."

Die navorsers het kennis geneem van die feit dat hierdie studie mense net vir twee jaar na ’n verandering van huwelikstatus nagevolg het, en dat die resultate mag verander soos die tyd verbygaan.

"Die studie bestudeer eintlik die skok van 'n verandering van huwelikstatus en hoe dit mense se gewig beïnvloed," sê Tumin.

(EurekAlert!, August 2011) 

Stuur enige vrae aan DietDoc

Lees verder:
Vroue

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE