Share

Het jy 'n vet persoonlikheid?

Is jy een van daardie mense wat amper nie anders kan as om vet te wees nie? Dis deel van party mense se ware aard om te veel te eet, sê kenners nou. Is daar iets wat jy hieraan kan doen?
Deur DR. INGRID VAN HEERDEN en die Health24-span

Dis in die aard van die skerpioen om te steek, van die leeu om te jag. Nou sê sekere wetenskaplikes dis dalk in die aard van sommige mense se persoonlikheid om vet te wees.

Ja, wat in ons koppe aangaan, speel 'n baie groot rol in hoe vet of maer ons is. En dit wil nou lyk of vet mense een of meer persoonlikheidstrekke het wat maak dat hulle meer eet as wat hulle moet.

Daar is vier eienskappe wat kenmerkend is van die "oorgewig persoonlikheidstipe": 'n swak selfbeeld, swak selfbeheer (of selfs kompulsiewe etery), emosies wat wipplank ry en die geneigdheid tot depressie en angstigheid.

Dié persoonlikheidstrekke kan alleen voorkom, of saam. As enige of almal kop uitsteek, het jy 'n groter kans om oorgewig of vet te wees. Onthou, nie alle mense wat oorgewig is, het een van dié eienskappe nie – maar as jy het, kan die inligting in hierdie artikel dalk help.

Dus: Is dit in jóú aard om vet te wees? Kyk watter persoonlikheidstipe hieronder die naaste aan joune is en lees dan op die volgende bladsy wat jy kan doen om nie meer die prooi van jou eie gedrag te wees nie.

Watter gedagtes maal deur jou kop as jy aan gewigsverlies dink?

Is dit jy dié?

A "Wat maak dit saak as ek vet is? Ek is buitendien lelik en ongelukkig."

"Aag, ek gaan nie eens probeer om gewig te verloor nie, want ek gaan dit buitendien nie regkry nie."

"Mense steur hulle in elk geval nie aan my nie – hoekom die moeite doen om gewig af te skud?"

"Ek het twee weke lank reg geëet, maar alles is nou tevergeefs en totaal daarmee heen omdat ek vandag 'n stuk koek geëet het."

B "Ek voel net in beheer as ek kan eet en eet en niemand my keer nie."

"Ek het net nie krag om minder te eet nie."

"Ek moet eet tot die hele pak koekies op is, en gelukkig is daar dan nog 'n blok kaas in die yskas om te eet."

"Ek sal dit net nie maak as ek minder snye brood moet eet nie."

C "Ek voel so af, maar sal beter voel as ek net ietsie eet."

"Ek voel een oomblik gelukkig, net om daarna in die diepste, donkerste gat te val."

"Party keer word alles net te veel – dan is sjokolade al wat sal troos."

"Alles in my lewe loop skeef, maar gelukkig kan ek nog my kos geniet."

D "Sodra ek bekommerd of angstig raak, of as dit voel of dinge te veel word, eet ek."

"Ek kom nie eers agter dat ek so gestres is en al hoe meer eet nie, maar ek voel net hoe my klere al hoe stywer sit."

"Ek moet soveel werkstres hanteer en as ek weer sien, eet ek nog iets."

"Ek sien nie kans om die dag te aanskou nie. Ek wil net slaap, en dan druk ek ook sommer alles wat ek sien in my mond. Ek het regtig nie krag vir oefen nie."

Sleutel
Die kassie met die stellings wat die meeste met jou eie denke ooreenstem dui op jou persoonlikheidstipe.

Lees nou verder wat jou te doen staan om gewig te verloor.

Wat verklap jou antwoorde en hoe kan jy jou lewe verander?

Persoonlikheid A
Jy het waarskynlik 'n swak selfbeeld en glo nie dit sit in jou broek om suksesvol te wees nie. Jy gee die stryd teen die vetrolletjies gewonne nog voor dit begin het, en die geringste terugslag bevestig net jou gevoel van mislukking.

DIE NUWE JY:
Skakel daardie negatiewe gesprekke in jou kop af en besef jy het baie goeie eienskappe. Maak 'n lys van positiewe dinge wat jy al in jou lewe bereik het en sê hardop dat jy dié keer in jou doel gaan slaag. Hou 'n "positiewe dagboek" van jou klein weeklikse suksesse met inskrywings soos "verloor dié week 1kg" of "vandag 30 minute ge-gim". Jy mag niks negatiefs in die dagboek skryf nie. En siedaar, jou suksesvolle self kom na vore!

Persoonlikheid B
Jy sukkel moontlik met een van twee probleme: Óf jy het geen selfdissipline nie óf jou knaende etery is kompulsiewe gedrag, soos iemand wat aanhoudend moet hande was of gaan seker maak die deure is gesluit.

DIE NUWE JY:
As dit swak selfdissipline is, kan dit baie help om 'n dagboek te hou – omdat ook dít dissipline verg. Dit kan ook baie help om by gewigsverliesklubs soos Weight Watchers en Weigh-Less aan te sluit. Dis beslis makliker om binne die struktuur van organisasies waar talle ander jou vordering met arendsoë volg, te leer om selfbeheer toe te pas.

As jy net in beheer van jou lewe voel deur aanhoudend te eet, is dit moontlik kompulsiewe gedrag en het jy die hulp van 'n kliniese sielkundige nodig, wat jou kan leer hoe om jouself te beloon elke keer wanneer jy selfbeheer toepas.

As dié obsessiewe kompulsie begin om jou besluite oor ander dinge in jou lewe te beïnvloed – soos dat jy jou kuiers by vriende só beplan dat die kafee nog oop sal wees sodat jy later nog eetgoed kan koop – het jy die hulp van 'n sielkundige en dieetkundige nodig. Die behandeling kan gouer vrugte afwerp as wat jy dink.

Persoonlikheid C
Jy raak waarskynlik maklik emosioneel. Mense wie se emosies aanhoudend wipplank ry, soek dikwels ontvlugting in kos. Hulle beskou dit as die enigste vastigheid in hul wêreld van skommelende emosies. Jy voel emosioneel weerloos en soek emosionele stabiliteit in kos. Jy maak op buitefaktore soos kos staat om jou beter te laat voel.

DIE NUWE JY:
Jy sal jou moet speen van jou emosionele afhanklikheid van kos deur by 'n verslankingsgroep aan te sluit wat jou die stabiliteit gee wat jy in kos soek. 'n Kliniese sielkundige sal jou ook kan help om jou kos-kruk weg te gooi. Jy sal sommer gou-gou reg wees om jou krag van binne te haal.

Persoonlikheid D
Jy is vermoedelik onder baie druk en raak maklik angstig of depressief. Hoe meer gestres party mense is, hoe meer eet hulle. Dit is moontlik dat jy nie besef dat jy gespanne of terneergedruk is nie.

DIE NUWE JY:
As jy angstig, gestres of bekommerd is, moet jy probeer uitvind wat jou so gespanne maak en of daar praktiese maniere is om jou spanning te verlig. Beter beplanning en tydsbestuur kan jou rustiger maak.

Maak tyd vir ontspanningstegnieke wat vir jou werk: 'n massering, 'n luilekker skuimbad, joga of Pilates-oefeninge. Enige oefening – soos stap, draf, dans of swem – is 'n uitstekende ontlaaier van stres, angs en depressie en sal ook help om jou te laat gewig verloor.

As jy agterkom dat jy nie meer kans sien vir dinge wat voorheen vir jou lekker was nie, gereeld 'n swaar gemoed het, te veel slaap of snags wakker lê, ly jy dalk aan depressie.

Depressie is 'n baie groter onderliggende oorsaak van kwaai gewigstoename as wat mense dink. Gaan gesels met jou dokter. Hy sal kan vasstel of jy depressief is en watter behandeling die beste vir jou kan wees. Laat 'n dieetkundige vir jou 'n eetplan uitwerk en skud jou donker stemmings saam met jou gewig af!

Vier goue reëls wat jou kan help om gewig te verloor

  1. Kies 'n gebalanseerde eetplan waar jy tussen 'n halwe tot 1kg per week kan verloor. Die eetplan moet genoeg koolhidrate bevat sodat jy jou nie uithonger nie. Dit moet ook genoeg vesel, maar minder vet, en nie te veel proteïene nie insluit. Vergeet van pille en skommels en kitsoplossings.
  2. Volg ook 'n oefenplan – enigiets van stap, swem of dans tot joga, dit maak nie saak nie, kom net aan die beweeg en doen dit vyf keer per week vir 30 minute. Konsentreer op jou oefenplan en vergeet van jou gewig. Hou dagboek van hoe ver of hoe lank jy elke dag stap, en weeg jou nie meer as een keer per week nie. As jy dit net eers vir twee tot drie weke gedoen het sonder om tou op te gooi, sal jou kop en jou lyf beter begin voel oor jou nuwe poging. En as jy eers begin om 'n bietjie fikser te voel én jy sien hoe jy van die vetjies begin afskud, sal dit jou inspireer.
  3. Moenie in sak en as gaan sit as jy 'n sny koek of te veel van iets geëet het nie. Dit hoef nie jou hele program te kelder nie. Onthou, dis die dinge wat jy gereeld doen wat saak maak, nie die enkel dinge nie. Net soos jy nie gewig gaan verloor of fiks gaan word as jy een dag reg eet of oefen nie, gaan jy ook nie gewig aansit of onfiks word as jy een keer iets ongesonds eet of nie oefen nie. Maar as een maal vermeerder tot twee, drie of vier, is jy op pad na 'n patroon en 'n gewoonte.
  4. Onthou dat klein en eenvoudige veranderings 'n groot verskil kan maak.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

What's your workout personality?

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE