Share

Gesonde vakansiekos

Die feestyd is 'n seisoen vir leeglê op die strand, lang ente ry en laatnagvieringe. Dis helaas ook 'n tyd vir gans te lekker eet en drink – tensy jy ons eetwenke volg en die hele vakansie deur smul sonder om in Januarie uit jou jeans te bars.
Deur IRENE LABUSCHAGNE van NICUS vir Huisgenoot-POLS

Pak 'n paar gesonde happies in vir 'n dag op die strand, onthaal jou vriende of maak 'n paar onweerstaanbare toebroodjies.

VIR 'N DAG OP DIE STRAND
Pleks van...

  • roomys

  • pasteie, hamburgers en worsbroodjies

  • slaptjips en skyfies

  • sjokolade

  • gaskoeldrank en versoete, gegeurde water

...Maak 'n paar onweerstaanbare toebroodjies
Buitekant: Gebruik volkoringbrood, swart rogbrood (pumpernickel), 'n vrugte-en-saad-brood, of enige brood met baie pitte, stampkoring en hawermout of hawersemels – dit het alles 'n lae glisemiese indeks (GI). Wissel af met Provita – drie is gelyk aan een sny brood.

Binnekant: Gesonde vulsels hoef nie smaakloos te wees nie. Proe dié opwindende plaasvervangers:

  • Pleks van botter of margarien: Meng fyn gekapte groente met laevet-jogurt, of smeer met avokado of grondboontjiebotter (albei mono-onversadigde vette).

  • Pleks van cheddar- of goudakaas: Gebruik mozzarella of laevet-Edam – dit sal 50kJ per 30g-wiggie besnoei.
  • Pleks van gewone mayonnaise: Verdun laevet-mayonnaise 1:1 met afgeroomde melk – dié eenvoudige stap sal jou 298kJ per eetlepel bespaar.

  • Pleks van vetterige vleis: Gebruik maer proteïenbronne soos tuna in pekelwater (nie olie nie), hoender sonder vel (dun gesny), stokvis, gekookte eier of maaskaas.

  • En voeg 'n bietjie vars groente soos tamatie, blaarslaai, komkommer en soetrissies daarby.

Pak 'n paar gesonde happies in:

  • Wortel- en komkommerstokkies

  • droëvrugte (twee of drie stukkies van 30g is gelyk aan een vrug)

  • neute (kies ongesoute neute en moenie jou vergryp daaraan nie – agt tot tien neute tel as een porsie)

  • vetvrye of laevet-jogurt

  • veselryke muffins met 'n lae vetinhoud

  • springmielies met warm lug geskiet en geen olie en min sout daarop

OP PAD
Pleks van...

  • pasteie

  • samoesas

  • vetterige peuselgoed

  • sjokolade en lekkers

  • sout, vetterige wegneemetes

  • bruiskoeldranke

....Kies die regte padkos
Pak jou tuisgemaakte

  • hoenderbors-pita: Sny die vet van die hoender, maak gaar en kap fyn; meng met blaarslaai, snoeptamaties, soetrissierepe en laevet-slaaisous; sit voor in 'n pitabrood of op 'n volgraanrolletjie

  • heerlike frikkadelle met ekstra maer maalvleis en geen bygevoegde vet nie (resep onder)

  • superslaai met snoeptamaties, wortelstokkies, piekelkomkommers, komkommers en laevetslaaisous

  • snoepverskeidenheid – sluit in gekookte eiers, vars vrugte, veselryke muffins en biltong (klein stukkies sonder sigbare vet)

Maak self: Heilsame, heerlike frikkadelle
Bestanddele

1kg maer maalvleis (meng 500g ekstra maer bees- en 500g volstruismaalvleis)
150ml (55g) hawermout
125ml (½k) water of vetvrye melk
1 groot ui, gerasper of fyn gekap
1 klein wortel of Granny Smithappel, gerasper
1 groot eier
vars pietersielie
65ml tamatiepuree
25ml Worcestersous
sout en peper na smaak
½ t fyn naeltjies
½ t fyn neutmuskaat
1 t fyn gemmer
blatjang na smaak

Metode
Meng al die bestanddele in 'n groot mengbak.
Rol frikkadelle (sowat 12 grotes of 24 kleintjies).
Pak in 'n groot oondbak met deksel en bak 30 minute by 180 grade Celsius.
Haal deksel af en bak nog 30 minute tot bruin.

Hou stil en koop dit
Kies die volgende by kafees en vulstasiewinkels

  • vrugte, jogurt, drinkjogurt

  • broodrolletjies

  • kaaswiggies

  • droëvrugte

  • muffins of laevet-gesondheidstafies (Slim Slabs, Snackers, saadstafies, droëvrugtestokkies of -stafies)

  • suiglekkers of jellielekkers pleks van sjokolade

Kies die volgende by restaurante, koffiewinkels of kitskosstalletjies

  • helder sop met brood

  • slaaie

  • gebakte aartappel met maaskaas en slaai

  • pasta met tamatiebasis pleks van roomsous

  • geroosterde hoender, vis of baie maer rooivleis met slaai, gebakte of gekookte aartappels en groente (Kies hoender of vis as 'n ligter alternatief wanneer jy op reis gaan.)

  • vegetariese roerbraai

  • geroosterde toebroodjies met groentevulsels – maar vra dat daar nie botter of margarien opgesmeer word nie

Vermy egter...

  • romerige souse. Pleks van 'n burger met 'n romerige sampioensous en skyfies, kies eerder 'n Hawaiiese burger met slaai

  • diepgebraaide kos. Pleks van krummelhoender, kies 'n geroosterde hoenderburger

  • ryk nageregte. Pleks van koek of roomys, kies eerder 'n vars vrugteslaai

BY 'N FEESTELIKE SKEMERPARTY
Pleks van...

  • snoepkos met 'n hoë vetinhoud

  • samoesas

  • pizza

  • pasteie en soetgebak

  • kaas en beskuitjies

...Knibbel aan dié gesonder lekkernye

  • vleise – kies klein porsies hoender, frikkadelle en sosaties

  • groente – soek uit van die slaai- en vars groenteborde af

  • gekookte eiers

  • toebroodjies

  • gevulde pitabroodjies

  • vrugte of droëvrugte

  • neute

Pleks van...

  • soet mengeldrankies

  • wyn, bier en spiritualieë

...Kies

  • lae-alkohol-wyn

  • ligte bier

  • witwyn verdun met sodawater

  • hardehout met suikervrye koeldranke of water

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Read more: Diet Zone

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE