Share

Eet reg en bly gesond hierdie winter

Wintertyd is verkouetyd! Sodra die temperatuur sak, begin almal hoes en nies. Die meeste van ons het nou al aanvaar dat ons elke winter gaan siek word. As jy egter die regte voedsel in jou mandjies laai, kan jy verkoues en griep vermy en dwarsdeur die seisoen gesond bly.

Immuunversterkers om verkoues en griep te beveg

Baie van die vars produkte wat in die winter beskikbaar is, is vol antioksidante – kragtige bestanddele wat help om jou immuunstelsel sterk te hou en om verkoues, griep en ander infeksies te beveg.

Vitamien C

Die natuur gee vir ons in die winter kleurvolle sitrusvrugte wat met hulle oorvloed vitamien C help om infeksies hok te slaan. Met lemoene, minneolas, pomelo's en nartjies het ons meer as genoeg van 'n keuse! Omdat jou liggaam nie hierdie vitamien produseer nie, is dit baie belangrik om elke dag voedsel wat vitamien C bevat, te eet om jou liggaam se arsenaal op 'n gereedheidsgrondslag te hou. Die beste is om daagliks vars kos te eet, aangesien daar nog steeds nie voldoende bewyse is dat vitamien C aanvullings werk nie.

Die aanbevole daaglikse toelating (ADT) vir vitamien C is 90mg per dag vir mans en 75mg per dag vir vroue. Deskundiges glo egter dat 'n daaglikse dosis van 200mg tot 300mg heelwat beter is. As die gemiddelde lemoen 60mg vitamien C bevat, beteken dit dat jy elke dag ten minste vier lemoene moet eet om daardie mikpunt te bereik. Jy kan dit 'n bietjie makliker maak deur koejawels en kiwivrugte in te sluit omdat hulle propvol vitamien C is. Een kiwivrug bevat 74mg en 'n koejawel 'n verbasende 165mg. Eet elke dag 'n lemoen, kiwi en koejawel, en jou behoeftes is gedek.

Knoffel

Knoffel is waarskynlik een van die beste verkouemedisynes wat daar is. Hierdie superkos gee nie net 'n wonderlike geur aan jou gunsteling pastas en bredies nie, dit bied ook groot gesondheidsvoordele as gevolg van kragtige immuunversterkende eienskappe. Om die waarheid te sê is dit reeds bewys dat allisien, een van knoffel se chemiese komponente, help om virusse, bakterieë en swamme te deaktiveer.

Sluit elke dag 'n huisie knoffel by jou dieet in. As jy bekommerd is oor slegte asem, hou in gedagte dat dit nie jou asem affekteer as jy dit nie kou nie; jy kan ook altyd 'n bietjie pietersielie eet om jou asem te verfris. Die beste is om elke dag 'n bietjie vars knoffel te eet, aangesien die kookproses tog party van belangrike antioksidante vernietig – voeg vars knoffel by doopsous en slaaisous, of eet dit op bruschetta.

Die pampoenfamilie

Pampoene en botterskorsies is propvol immuunversterkende betakarotien ('n vorm van vitamien A wat verantwoordelik is vir die helder kleure), die antioksidant likopien en minerale soos magnesium, kalium en yster. Hulle bevat ook baie vesel en het min kilojoules. Pampoen en botterskorsie is ook baie veelsydig en het 'n volronde geur, maak nie saak hoe dit voorberei is nie – gebak, gerooster, gepuree of fyngemaak as 'n bykos, of as 'n lekker sop.

Joghurt

As jy gereeld joghurt eet, sal dit help om jou immuunstelsel te versterk en op te kikker. Dit is 'n wonderlike bron van probiotiese kulture – dieselfde verteringsvriendelike bakterieë wat natuurlik in jou spysverteringskanaal voorkom. Wanneer jy joghurt eet, help die "goeie bakterieë" om die "slegte bakterieë" te beveg en sodoende infeksies te voorkom. Dit help ook om die absorbering van voedingstowwe te optimaliseer. Kies joghurt met "lewendige en aktiewe kulture en bakterieë" op die etiket en koop liewer natuurlike joghurt as die versoete soort – voeg liewer vrugte en heuning by vir geur.

Gemoedopkikkers vir die grys dae

Die winter affekteer nie net jou fisieke gesondheid nie, dit kan ook jou geestesgesondheid aantas en jou in 'n suurknol laat ontaard. Om die waarheid te sê, is die eindelose grys lug, koue nagte en reënweer is genoeg om jou die hele winter onder jou duvet te laat wegkruip.

Olierige vis

Verbeter jou bui deur olierige vis by jou dieet te voeg. Vis soos tuna, sardientjies, salm en makriel is vol omega-3 olies wat kan help om winterdepressie te beveg. Die omega-3 vetsure dien as immuunversterkers deur die aktiwiteit van die fagosiete, die witbloedselle wat bakterieë vernietig, te verhoog. Vis is ook 'n belangrike bron van B vitamiene, veral die stresbevegters B6 en B12 wat help met die vervaardiging van serotonien, die "vrolike" breinchemikalie.

Dit is beter om jou omega-3 vetsure van vis, eerder as aanvullings te kry, alhoewel aanvullings 'n goeie alternatief is wanneer vis nie beskikbaar is nie.

Piesangs

Die beskeie piesang is 'n kossoort wat as 'n gemoedopkikker en ligte kalmeermiddel kan dien, aangesien dit die aminosuur triptofaan bevat wat die liggaam help om serotonien, die "lekkervoel-hormoon" en melatonien, die "slaaphormoon" te produseer.

Neute

Brazilneute, macadamianeute en okkerneute is ryk bronne van die mineraal selenium wat as 'n voorkomer van depressie en 'n bevorderaar van goeie geestesgesondheid beskou word. Voeg 'n paar neute by jou ontbytgraankos of geniet dit as 'n versnapering gedurende die dag.

Trooskos om jou warm en versadig te hou

Die winterkoue laat ons smag na trooskos om ons knus en warm te hou.

Hawermout

Daar is min dinge wat so vertroostend is soos 'n stomende bak hawermout in die oggend. Hawermout en hawersemels is ryk aan vesel wat help om jou langer vol te laat voel en jou energievlakke hoog te hou. Hawermout is ryk aan immuunversterkende antioksidante en B vitamiene wat kan help om stres te verminder en immuniteit te verhoog. Geniet hawermout vir ontbyt of voeg dit by jou kolwyntjie- en broodresepte.

Sop

Warm sop in die winter maak jou van kop tot tone warm. Probeer tamatiesop, dik groentesop of die ou, beproefde verkoueraat – hoendersop. Sop is nie net 'n kitsopwarmer nie, dit is ook die perfekte winter-dieetkos. As dit sonder vetterige vleis, room en sout voorberei word, kan dit jou versadig terwyl dit help om die winterkilo's weg te hou. Geur jou sop met kruie en speserye.

Gemmer

Gemmer is 'n heerlike, warm spesery vir winterdisse soos sop en bredies. Dit maak jou liggaam letterlik warm deur te help om sirkulasie te verbeter terwyl dit ook die beskermende funksies van die immuunstelsel stimuleer en kongestie in die asemhalingstelsel verlig. Voeg gemmer by jou gunstelingkosse of maak 'n strelende gemmertee.

Tee

Maak jouself van binne warm met 'n lekker koppie tee. Of jy nou swart-, groen- of rooibostee verkies – dit sal jou beslis opkikker, terwyl die kragtige antioksidante jou immuunstelsel 'n ordentlike hupstoot sal gee.

- (Birgit Ottermann, Health24, Julie 2011)

Lees verder:

Vrugte en bessies gee wintergesondheid 'n hupstoot
10 immuniteitversterkers
Skyfievertoning: Vitamien C-superhelde
Hoe jou immuunstelsel werk

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE