Share

Daar’s ’n ton in jou drankie

Die meeste drankies bevat dalk nie vette nie, maar kan nog steeds vet maak.
Deur CARINE VISAGIE vir Huisgenoot-POLS

Jy hou jou gewig dop en eet gesond, maar dan verorber jy die ekwivalent van dertien snye witbrood sonder om twee keer te dink. Nie baie slim nie!

En dit het alles te doen met die verskuilde kilojoules wat jou drankies bevat. Daardie drankies kan dalk die rede wees waarom die kilogramme net nie wil afbly nie al eet jy hóé verstandig.

Die drankies hierbo is min of meer wat ’n mens daagliks inneem en gesamentlik bevat hulle sowat 3 000 kJ. Dis omtrent ’n derde van die energiewaarde wat ’n gemiddelde aktiewe vrou elke dag behoort in te neem.

Min mense besef dat koeldranke en alkoholiese drankies as gevolg van hul suikerinhoud boordensvol kilojoules is. As jy drank en brood se kilojoule-inhoud met mekaar vergelyk, sal jy vind dat ’n blikkie Appletiser byvoorbeeld sowat 843 kJ bevat – omtrent net soveel kilojoules as vier snye brood (gegrond op een sny Blue Ribbon-witbrood = 221 kJ). ’n Groot glas witwyn of ’n blikkie Milk Stout is nie ver agter nie, en dieselfde geld vir ’n blikkie Coke of Fanta (sien die tabel onder).

Dit lyk asof ons die laaste paar dekades begin vergeet het dat drankies nooit veronderstel was om kilojoule-bomme te wees nie – behalwe dalk vir beenversterkende melk, sportdrankies en spesiale formules vir mense wat ondervoed is. Drankies was veronderstel om verfrissend te wees. Hul enigste doel? Om jou dors te les.

Wat is die ideale drankie?
Doodgewone water – eerder as kragkola of die jongste smaaksensasie – bly maar die beste manier om jou dors te les en in jou vloeistofbehoeftes te voorsien, sê die Voedingsinligtingsburo van Stellenbosch (Nicus).

’n Amerikaanse paneel wat die voor- en nadele van verfrissende drankies teen mekaar opgeweeg het, het bevestig: Water is die wenner. “Water is die beste vir jou daaglikse vloeistofinname,” sê Nicus. “Dit verskaf geen bykomende energie nie, wat dit die perfekte drankie maak vir elke oorgewig- of onaktiewe volwassene. Dit verskaf ook verskillende soorte minerale soos kalsium, magnesium en fluoried, afhangende van waar dit vandaan kom.”

Water word gevolg deur tee, koffie, laevet- en vetvrye melk, drinkjogurt, dieetkoeldrank of koeldrank wat kunsmatig versoet is, drankies met sekere voedingsvoordele (vrugte- of groentesap, volroommelk, alkoholiese drankies en sportdrankies) en laastens versoete drankies.

Daar is tot die verrassende gevolgtrekking gekom dat dit beter is om ’n koppie koffie te drink (sonder suiker en volroommelk, natuurlik) as ’n glas lemoensap. Die geheim blyk energiewaarde te wees.

Op sy eie het koffie geen kilojoules nie en is dit propvol antioksidante. Aan die ander kant is lemoensap ’n goeie bron van vitamiene, maar moet jy versigtig wees hoeveel jy daarvan drink, weens die hoë energie-inhoud. Die algemene reël is: hoe soeter die drankie, hoe meer gelaai is dit met kilojoules. Alkohol sal ook jou kilojoule-inname laat styg. “Op sy eie is daar sowat 29 kJ per gram in alkohol. Hoe sterker die drankie, hoe hoër sal die kilojoule-telling dus wees,” sê Irene Labuschagne, geregistreerde dieetkundige van Nicus.

Dis eintlik heel eenvoudig. As jy net gewone, onversoete water en ander drankies met min kilojoules drink, kan jy jou af en toe bederf met ’n stukkie sjokolade. Geniet drankies wat meer water en minder suiker en alkohol bevat, en jou gewig sowel as jou gesondheid sal daarby baat. Indien jy die getal kilojoules vir drankies beperk tot ’n daaglikse inname van 1 000 kJ, kan jy tussen 0,5 en 1 kg per week verloor. Dís nou iets om ’n glasie op te klink!

Gewilde drankies se kilojoule-inhoud

Volume (ml) Drankie Energie waarde (kJ)
340 Castle Milk Stout 758
340 Castle Lager 570
340 Caste Light 438
340 Lae-alkoholbier (Woolworths) 391
340 Redd's-sider 843
120* Droë wit- of rooiwyn 353-504
120* Semisoet-witwyn 781
120* Semisoet-rosé 781
60 Port 664
100 Vonkelwyn 311
25 Whisky, brandewyn, wodka 250
25 Van der Hum (Bols) 338
340 Tonikum, Dry Lemon 470
340 Coca-Cola, lemonade 585
340 Soda water 0
340 Onversoete koeldranke 55-60
340 Grapetiser 762
340 Fanta Orange 714
340 Appelsap 478
340 Koffie/tee met 2 teelepels suiker en laeetmelk 174

* Onthou dat restaurante dikwels dubbel dié hoeveelheid voorsit – sowat 250 ml wyn per glas.

Bron: The new complete kilojoule, carbohydrate & fat counter: Suid-Afrikaanse uitgawe. Struik 2006.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE