Share

8 dieethindernisse vir mans

Jy probeer nou al 'n hele ruk lank om van jou ronde boeppensie ontslae te raak, maar die vetjies klou soos klitsgras. Miskien is dit te wyte aan een van hierdie dieetfoute waaraan mans hulle so dikwels skuldig maak.     

1. Man-grootte maaltye

Dis eintlik voor die hand liggend, maar elke nou en dan moet jy tog weer daaraan herinner word: hoe meer jy eet, hoe groter die kanse dat jy gewig gaan aansit. Die belangrikste wagwoord is 'porsie-grootte'. Liewer as om een enorme bord kos per dag te eet, probeer meer gereelde, kleiner porsies.

En, nee, groot porsies gesondheidskos gaan ook nie werk nie – 'n groot porsie is nou eenmaal 'n groot porsie. Verminder geleidelik die hoeveelheid wat jy eet, en jy sal vind dat jou liggaam vinnig gewoond raak aan minder kos. Los ook liewer die tweede porsies en hou op om almal anders se oorskiet te verslind. Jou mikpunt is 'n goedgebalanseerde dieet met gereelde, gesonde en matige porsies.

2. Vloeistof-dieet

Manne, ons gunsteling dieet-resep om vaste kos met 'n paar biere te vervang, werk nie! Raai wat? Bier is vol kalorieë. Baie teleurstellend, om die waarheid te sê. En wat sake net vererger, is die feit dat alkohol jou inhibisies verlaag. Kom ons wees eerlik: bestel ons nie keer op keer weer 'n bord vetterige kroegkos saam met daardie ekstra bottel Lager nie?

En as jy dink jy gaan jouself slank drink met gaskoeldrank, energiedrankies of selfs vrugtesap, dink weer. Hierdie drankies bevat almal hope suiker en sal nie jou heupmaat laat krimp nie. Die beste drankie vir 'n dorstige man op 'n dieet is 'n doodgewone glas heerlike, koel water, wat jou liggaam boonop sal help om vette te metaboliseer.

3. Oefening is nie genoeg nie

Jy kan nie aanhou om reuse burgers en familiegrootte pizzas te verorber en verwag om die ekstra kalorieë met 'n ekstra sessie of twee in die gym af te werk nie. Maak geen fout nie, gereelde oefening is baie belangrik, maar as jy werklik ernstig is oor jou gewig, sal jy jou dieet móét aanpas.

Dit is veral van toepassing op mans in hul veertigs en ouer. Soos jou liggaam se metabolisme afplat, word dit al hoe moeiliker om slegte eetgewoontes deur middel van oefening uit te kanselleer.

4. Eet op 'n drafstap

Baie mans is die hele dag lank so besig dat hulle net tyd het vir vinnige happies tussen vergaderings en ander belangrike take. Maar die stres van kos op 'n drafstap afwurg, kan bydra tot ekstra gewig. As jy altyd haastig is, het jy nie tyd om gesonde voedsel-keuses te maak nie en dit tas ook jou spysvertering aan. Maak maaltye 'n kalm en aangename deel van jou daaglikse roetine – dit sal help om jou spysvertering glad te laat verloop.

5. Jy's nie Jamie Oliver nie

Vir die meeste mans is die groot struikelblok op pad na 'n goeie dieet die feit dat hy nie kan kook om sy lewe te red nie, en afhanklik is van vetterige en hoogs geprosesseerde kitskos. Kook kan aanvanklik 'n bietjie intimiderend wees, maar as jy eers 'n paar vaardighede aangeleer het, is dit nogal pret. 'n Ekstra bonus: vroue word nogal beïndruk deur mans wat kan kook.

Koop 'n goeie kookboek of twee vir beginners, soek 'n paar gesonde disse wat lekker lyk en spring weg. Jy kan selfs 'n kookkursus wat spesifiek vir mans ontwerp is bywoon.

6. Maaltye oorslaan

Om te dink dat om gedurende die dag maaltye oor te slaan jou sal help om gewig te verloor, is 'n fout. Die teenoorgestelde is waar: hierdie gewoonte neig om jou metabolisme stadiger te maak en jou liggaam aan te moedig om vet op te gaar, die meeste daarvan om jou maag. Jou beste oplossing is dus 'n matige, gesonde en gebalanseerde ontbyt, middag- en aandete.

7. Die naweek-vergrype

Nadat jy die hele week fluks by jou dieet gehou het, mag jy voor die versoeking swig om jouself oor die naweek vrye teuels te gee, maar dit sal jou gewigsverlies net soveel stadiger maak. Probeer om oor naweke liewer gesonder opsies te probeer as om jou selfdissipline gedurende die week ongedaan te maak. Dieselfde geld vir daardie laatnag roomys-sessies!

8. Dieet- en vetverbrandingspille

Medikasie is die lui manier om gewig te verloor. Maar moenie jouself om die bos lei nie. Aanvullings en pille is nie genoeg om jou liggaam reg te ruk nie. Hierdie middels neig om jou aptyt te onderdruk deur jou metabolisme te vertraag.  Dit moedig egter ook jou liggaam aan om meer vet te stoor namate sy oorlewingmeganisme, as gevolg van 'n tekort aan kalorieë, in werking tree. Sodra jy ophou om die pille te neem en jou normale eetgewoontes hervat, is die kanse goed dat die verlore kilo's, met rente, hul pad na jou middellyf gaan terugvind. - (Andrew Luyt, Health24, May 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE