Share

10 vrae oor vitamiene

Spring jy verkoue vry as jy aanvullings gebruik? Moet jy meer vitamiene sluk wanneer jy gestres is? Kenners antwoord 10 kwelvrae oor aanvullings.

“Sonder vitamiene en minerale sou ons doodgaan, want dié mikrovoedingstowwe is noodsaaklik om die gestel gesond te hou,” sê die voedingkundige en apteker dr. Alan Tomlinson, voorsitter van die SA Vereniging van Gesondsheidsprodukte.

Vitamiene en minerale hou jou gesond deur die liggaam se biochemiese prosesse te bevorder. Van dié elemente speel ’n deurslaggewende rol in gesondheid. Magnesium bevorder byvoorbeeld minstens 300 verskillende biochemiese reaksies in die liggaam. Die liggaam kan onmoontlik behoorlik funksioneer as daar ’n tekort aan vitamiene en minerale is.”

Uitermatige moegheid, slapeloosheid, buierigheid en depressie is tipiese simptome van ’n dieet wat te kort skiet aan noodsaaklike mikrovoedingstowwe. Die vitamiene en minerale wat ons inkry, behoort hoofsaaklik van vrugte en groente afkomstig te wees. Maar moderne voedselverwerkingsmetodes, arm grond en ’n ongebalanseerde dieet beteken ongelukkig dat ons verreweg nie genoeg vitamiene en minerale inkry nie.

“Dis veral noodsaaklik dat mense wat weens siekte, ouderdom of spesiale diëte nie gebalanseerd eet nie ’n omvattende reeks aanvullings gebruik,” sê dr. Tomlinson. “Goeie voeding help die liggaam ook om weerstand teen siektes en infeksies te bied. Vitamiene en minerale gee jou boonop energie en lewenslus en bevorder langlewendheid.

Hier is tien algemene vrae oor vitamiene:

  1. Die raad wat ’n mens oor vitamien C kry, is dikwels teenstrydig. Wat is die aanbevole daaglikse hoeveelheid en is megadosering veilig? En is vitamien C die beste voorsorg teen verkoue?

    Die Europese aanbevole daaglikse dosis van vitamien C is 60 mg – effe hoër as die 40 mg wat die Britte glo nodig is om tekorte te keer. Tot onlangs is aanvaar dat dit veilig is om groot dosisse vitamien C in te neem om jou gesondheid ’n hupstoot te gee, aangesien vitamien C wateroplosbaar is en enige oormaat in die urine uitgeskei word. Maar volgens (omstrede) Amerikaanse navorsing maak hoë dosisse vitamien C die selle meer kwesbaar vir beskadiging deur vrye radikale – wat moontlik ’n oorsaak van kanker kan wees.

    Die meeste voedingkundiges stem saam dat jy nooit 2 000 mg moet oorskry nie. Selfs al doen megadosering geen skade nie, gaan jy in elk geval nie daarby baat vind nie. “Witbloedselle, wat siektes beveg, kan net sóveel vitamien C op ’n slag gebruik, en bereik buitendien teen sowat 100 mg vitamien C per dag ’n versadigingspunt,” sê Catherine Collins, hoofdieetkundige by die St George’s Hospital in Londen en ’n woordvoerder van die British Dietetic Association.

    Vitamien C is ook nie ’n towermiddel om verkoues te vermy nie. Jou kans om griep en verkoue te kry is net so goed soos enigiemand anders s’n, al gebruik jy aanvullings. Jou simptome sal wel ses tot agt uur vinniger opklaar.

    “Dis noodsaaklik om voldoende vlakke van askorbiensuur (vitamien C) in die liggaam te handhaaf, aangesien dit tot langlewendheid bydra en kardiovaskulêre funksies bevorder,” sê dr. Tomlinson.

  2. My man is ’n strawwe roker en drinker. Is daar spesiale aanvullings wat die skade aan sy liggaam kan verminder?

    Rokers het dubbel die gewone aanbevole dosis vitamien C nodig, aangesien die gifstowwe in sigarette die vervaardiging van vrye radikale veroorsaak. In die regte dosis is vitamien C een van die belangrikste antioksidante wat vrye radikale help vernietig, maar ’n oormaat antioksidante kan die liggaamselle beskadig.

    Dis bewys dat rokers wat hoë dosisse vitamien A, E en C neem ’n groter risiko op longkanker het. Rokers behoort nie meer as 800 mg vitamien A, 10 mg vitamien E en 200 mg vitamien C daagliks te neem nie.

    “Alkohol stroop die liggaam van voedingstowwe, veral die B-groep vitamiene, wat nodig is om alkohol te metaboliseer en die liggaam van gifstowwe te reinig,” sê dr. Colette Kelly, voedingwetenskaplike van die British Nutrition Foundation. Sy glo vitamien B-aanvullings moenie alleen gebruik word nie. Om ’n oordosis van een soort vitamien te vermy moet jy eerder ’n multivitamien- en mineraal-aanvulling gebruik.

  3. Ek volg ’n suiwelvrye dieet om gewig te verloor. Moet ek kalsium-aanvullings gebruik? Kan my dieet ’n tekort aan ander vitamiene en minerale tot gevolg hê?

    Om enige voedselgroep uit te sluit, is allermins ’n gesonde manier om gewig te verloor. Boonop absorbeer die liggaam meer kalsium uit kos as uit aanvullings. Goeie nie-suiwelbronne van kalsium sluit groen blaargroente, droëvrugte en graterige vis (soos geblikte sardyne) in.

    As jy steeds daarop aandring om suiwelprodukte uit te sny, is dit wys om jou daaglikse dieet met 400 mg kalsium aan te vul. Navorsing het bewys dat mense wat gewig verloor ook ’n bietjie beenmassa verloor. Daarom is dit noodsaaklik om by ’n dieet jou kalsiumvlakke aan te vul. Vir die beste opname van kalsium moet jy ’n aanvulling kies wat met vitamien D verryk is. “Goeie voeding beteken om ’n verskeidenheid van kossoorte in die verskillende voedselgroepe te eet. Groen en kleur-vrugte en groente is noodsaaklik vir biochemiese beskerming teen siektes soos kanker,” sê dr. Tomlinson.

  4. My baba is 6 maande oud en ek het pas ophou borsvoed. Ek voel ondanks ’n verstandige dieet uitgeput. Watter soort vitamiene en minerale sal my fut gee?

    Dis normaal om tydens en ná borsvoeding afgerem te voel. Jou liggaam gebruik ekstra yster en vitamiene om melk te produseer. Boonop kan jy ’n kalsiumtekort hê – ’n vrou wat borsvoed het bo en behalwe die gewone 700 mg ’n ekstra 500 mg kalsium per dag nodig om haar bene sterk te hou.

    ’n Ystertekort is die grootste oorsaak dat nuwe ma’s gedurig moeg voel. Die liggaam se ystervoorraad word by swangerskap goed in stand gehou, maar so gou jou maandstonde ná die geboorte terugkeer (dikwels hewiger as voorheen) kan die ysterreserwe maklik uitgeput raak, veral as jy nie baie rooi vleis eet nie of te besig is om behoorlik te eet. Kies ’n multivitamien- en mineraal-aanvulling wat yster bevat.

  5. Werk goedkoper vitamiene net so doeltreffend soos duurder handelsmerke?

    Kenners is dit eens dat die groot, bekende name en aanvullings wat spesiaal vir supermarkte verpak word teen ewe hoë standaarde vervaardig word. Om by gesondheidswinkels duurder te betaal vir gesogte handelsmerke is geen waarborg vir ’n beter produk nie. Vermy wel onbekende handelsmerke en ingevoerde produkte. Speel eerder veilig deur ’n vertroude produk te koop wat jy weet gaan werk.

  6. Ek voel neerslagtig en gespanne by die werk. Hoe kan ek my gemoedstemming verbeter?

    Die spoormineraal seleen kan help om depressielyers se stemming te verbeter. Vitamien B6 (wat ook gebruik word om premenstruele simptome te verlig) kan ook help. Jy sal ook baie beter voel as jy baie meer koolhidrate soos pasta en aartappels eet, omdat dié kossoorte help om serotonien – die goedvoel-hormoon in die brein – te vervaardig. Baie gesondheidsmaatskappye bemark aanvullings as ’n oorlewingsmiddel vir bedrywige mense wat aan stres ly. Jy het nie noodwendig dubbel soveel vitamiene nodig omdat jy gestres is nie.

  7. Werk aanvullings net as jy dit elke dag gebruik?

    Luister na jou liggaam. Jy kan aanvullings sporadies gebruik, bv. wanneer jy siek is, of so besig is dat jy maaltye oorslaan. Dis ’n wanopvatting dat jy elke soort vitamien en mineraal in die aanbevole daaglikse dosis nodig het.

    Die liggaam kom trouens maklik reg met die wisselende vlakke van voedingstowwe wat dit deur die loop van die dag inkry. Boonop hou die liggaam ’n voorraad van amper alle soorte voedingstowwe in reserwe – insluitend vitamien C. Aanvullings werk vinnig. As jy dus danksy ’n tekort aan vitamiene of minerale (veral yster) nie lekker voel nie, sal jy waarskynlik binne ’n paar dae beter voel as jy dit vir ’n rukkie gebruik.

  8. Is dit beter om aanvullings soggens of saans te drink? En behoort dit saam met of sonder kos geneem te word?

    Die meeste aanvullings word nie behoorlik op ’n nugter maag geabsorbeer nie en moet dus saam met kos geneem word. Dis nie belangrik hoe laat jy aanvullings drink nie, solank dit naby etenstyd is. Die nadeel van aanvullings net voor slaaptyd is dat dit dikwels ure ná jou laaste maaltyd is. Soggens is gewoonlik ’n goeie tyd, mits jy ’n gesonde ontbyt geniet. Yster-aanvullings werk baie meer doeltreffend as jy dit met ’n glas lemoensap afsluk. Moenie tegelyk groot dosisse kalsium-aanvullings gebruik en kos eet wat ryk is aan yster nie, aangesien kalsium die liggaam se absorpsievlak vir minerale versadig en nie plek laat vir yster nie. Dit kan gebeur dat mense wat kalsium-aanvullings gebruik ’n ystertekort ontwikkel.

    Kalsium word die beste geabsorbeer wanneer dit in kombinasie met magnesium gebruik word. En aangesien kalsium ’n natuurlike kalmeermiddel is, is dit raadsaam om dit voor slapenstyd te drink om ’n goeie nagrus te verseker.

  9. My vel is baie droog en selfs die beste bevogtiger help nie. Is daar ’n aanvulling wat sal help?

    ’n Droë vel en ekseem kan ontstaan wanneer die selle so geïrriteerd raak dat die vel ontsteek. Gebruik aanvullings wat noodsaaklike vetsure bevat wat die inflammasie kan bekamp, soos nagkersolie (evening primrose oil), sewesterolie (starflower oil) of visolie.

    Om regtig doeltreffend te wees, behoort jy dit in kombinasie met ’n dieet wat laag in ander vetsoorte is te gebruik. Vet wat in die dieet voorkom, word in die selmembrane opgeneem. Verhoog jou inname van noodsaaklike vetsure (dit kom natuurlik in neute, sade en blaargroentes voor) en vermy sover moontlik versadigde vette, wat dikwels in rommelkos voorkom. Vitamien C help ook om die vel mooi en gesond te hou, aangesien dit help met die vervaardiging van kollageen, wat noodsaaklik is vir die vel se struktuur.

  10. My dogter peusel net en ek is bekommerd dat sy nie genoeg vitamiene en minerale inkry nie. Is daar ’n veilige, doeltreffende aanvulling?

    Voedingkundiges stem saam dat ’n multivitamien- en mineraal-aanvulling goed is vir lekkerbek-kinders en tieners wat sekere kosgroepe totaal uitsluit. Tienermeisies is veral geneig om ’n tekort aan die minerale yster, sink en kalsium te hê.

    Dis noodsaaklik dat kinders aanvullings gebruik wat spesiaal vir hulle geformuleer is. Kinders behoort nooit aanvullings te gebruik wat vir volwassenes bedoel is nie, veral nie as dit yster bevat nie. Dit kan giftig en selfs dodelik kan wees, aangesien ’n kind se lewer baie kleiner is as ’n volwassene s’n en hulle besonder vatbaar is vir die toksiese uitwerking van yster-aanvullings in hoë dosisse. En aangesien hul liggaam kleiner is, het kinders in elk geval minder vitamiene en minerale as volwassenes nodig.

- (Thelma Agnew en Lynette Blignaut)
We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE