Die sukses wat die departement van onderwys sedert 1994 behaal het om die getal leerlinge per onderwyser van 47 tot 34 te verminder, kan in 2006 weens MIV/vigs in gevaar wees.
Luidens 'n verslag van die departement oor wat hy sedert 1994 bereik het, kan die getal leerlinge per onderwyser in 2006 tot 50 vermeerder.
Advertisement
Die verslag sê hoewel sommige voorspellings oor die uitwerking van vigs versigtig gehanteer moet word, skets dit 'n baie donker prentjie. "Kritieke uitdagings waar voor die onderwys te staan sal kom, is sieklikheid en sterftes onder kinders, die toename in weeskinders en kinders in wanhoop weens die siekte."
Luidens die verslag kan die direkte en indirekte gevolge van vigs op skoolbywoning nie bepaal word nie.
Die departement sê in die verslag die aantal uitsakkers weens armoede, siekte, gebrek aan motivering en trauma sal waarskynlik toeneem.
"Afwesigheid van kinders wat versorgers of hoofde van huishoudings is en wat tot die gesin se inkomste moet bydra én die wat self siek is, kan styg," lui die verslag.
Luidens die verslag sal die siekte waarskynlik die bevolkingsgroei strem.
"Soos die getal potensiële ouers (20-40 jaar) verminder, die getal weeskinders toeneem en armoede vererger, sal skoolinskrywings verminder en die getal uitsakkers vermeerder. Daar kan plek-plek 'n negatiewe skoolbevolkingsgroei wees."
Daar kan ook 'n groter behoefte by siek ouers wees aan vroeë kinderonderrig en ook 'n groter toename in innames vir voorskoolse onderrig. Luidens die verslag kan daar 'n groter behoefte by leerlinge wees aan " 'n tweede kans in onderrig" weens afwesigheid of vir meer plooibare leergeleenthede vir dié wat siek is, versorgers is of lone moet verdien.
MIV/vigs gaan alle opvoeders ernstig raak. "Sommige sal siek, afwesig of sterwend wees. Baie sal met familiekrisisse worstel en as professionele mense sal van hulle verwag word om vir weeskinders verantwoordelik te wees."
Die verslag meld dat ontleders voorspel dat vir elke onderwyser wat die beroep verlaat weens siekte, dood of beter werkgeleenthede, sowat 2,6 onderwysers opgelei moet word om aan die vraag te voldoen.
Die departement sê die kwessie van vraag en aanbod is baie ingewikkeld. Die werwing van onderwysers kan laer wees as nou indien die inskrywings van leerlinge afneem.
Dit is baie moeilik om tans te voorspel wat die behoefte aan onderwysers sal wees, lui die verslag. - Alet Rademeyer Die Burger
Bookmark with:
What are social bookmarks?